Hoe lyk die nuwe normaal?

Elme Churr. (Foto: Maroela Media.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig en inspireer. Die Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Elme Churr, wat ook ’n ambassadeur van die FroueVonds is, deel haar opinie oor wat die nuwe normaal tydens die Covid-19-pandemie is.

Verander die wêreld dag vir dag met jou glimlag

Hoe lyk die nuwe normaal nadat ons vir langer as ses maande lank in ’n see van onsekerheid geswem het?

Vanoggend dink ek terug aan daardie eerste oomblikke van paranoia, onsekerheid en angs oor ’n virus wat die wêreld in sy greep vasgevang het.

In ’n mate het ek uitgesien na die aankondiging van die grendeltyd, om daardeur die virus se syfers in die grond in te trap. Ek het gewonder hoe 2020 sou verloop en die inpak wat dit sou hê op die lewe van soveel mense, die ekonomie, gesinne, die kunste en soveel meer. Die virus het stelselmatig die kleur uit ons lewens begin vee soos wat die finansiële druk al hoe swaarder op ons skouers kom lê het. Die rieme het al hoe stywer begin span en soos die aarde draai, het benoudheid ’n daaglikse norm geword.

’n Mens raak so vinnig gewoond aan ’n sekere tendens, ideaal en trant in jou lewe dat die “wittebrood”-fase van by die huis bly en werk, ons vinnig verblind het.

Waar ons bly, het daaglikse braaivleisvure gelag in die middagson en vrolike musiek het in die strate gedans. Soos tyd verloop het, en die infeksietelling gestyg het, was ons vinnig ontnugter dat ons na die normaliteite van voor Covid-19 nie sommer sou terugkeer nie… kerkbyeenkomste, rugbywedstryde en konserte sou slegs in ons herinneringe afspeel. Soveel dinge wat ons nie waardeer het nie, is nou net ’n verlangse droom.

Die groot vraag bly staan: Hoe gaan ons aan ná Covid-19 en wat is die nuwe normaal?

My opinie is dat ons slegs sal kan opstaan en aanbeweeg as daar vrugbare hernuwing en positiewe gedagteveranderinge plaasvind binne elkeen van ons.

Sien elke struikelblok as ’n stappie nader aan ’n nuwe begin en nie die einde nie. Om meer as ooit te vore hande te vat en regtig ’n ondersteuningsnetwerk te vorm en te wees vir ander wat hulself in ’n oomblik van paniek en betwyfeling bevind.

Genade en vriendelikheid word die nuwe noodsaaklike geskenk wat ons vir soveel mense elke dag verniet moet gee om só hul lewe radikaal te kan verander.

Maskerdra vorm deel van ons daaglikse roetine. Dit sny ons nie af van die wêreld nie, maar leer ons om meer met ons oë te glimlag, woorde te gebruik in samewerking met emosies. Om liefde uit te straal sodat die wêreld en mense kan fotosinteer.

Die omslag van die FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021. (Foto: Verskaf.)

Ons nuwe normaal is steeds mooi (al is dit anders) soos eens tevore. Dis belangrik om te onthou dat ons omstandighede nie ons identiteit bepaal nie en dat ons drome en vooruitsigte steeds lewendig en bereikbaar is. Hierdie tydperk het my geleer wat regtig belangrik is in die lewe, dat tyd saam met geliefdes die eintlike eerste prys in die lewe is.

Ons prioriteite moet heroorweeg word. ’n Hart verlang na dinge met ewigheidswaarde en mis selde die dinge wat ons kan koop met geld. Geld maak dalk die lewe makliker, maar koop nie meer tyd nie en vul nie alle leemtes in jou menswees nie.

Ek glo dat ons op ons knieë moet bly, moet lag in die gange van wie jy is as mens en die mooi moet deel met ander. Herontdek wie jy is en verander die wêreld dag vir dag met jou glimlag. Ons mag dalk nie weer ingenooi word in die verlede waar dinge bekend en gemaklik was nie, maar ons kan dans oor ’n nuwe begin. Daagliks word ons verwelkom in ’n nuwe begin met ’n keuse om die positiewe te sien, uitdagings aan te gryp en te verwelkom in ’n mens se lewe. Sien die mooi, onthou die verlede, ontlaai die seer en moeilike tye, maar kies om te blom in hierdie nuwe seisoen van jou lewe.

  • Bestel nou jou FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop verseker jy dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in die FroueVonds. Plaas jou bestelling by: https://bit.ly/3gYOekW.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Faruk

Daar is nie iets soos “‘n nuwe normaal” nie, mense sal binnekort weer terug wees op hulle ou roetines

Manie

Hoe lyk die nuwe normaal? Net soos voorheen se normaal, tensy jy natuurlik wil hê dat normaal moet verander, in welke geval dit abnormaal is. Lekker verander, my normaal bly normaal.