Hoe om beter te wees – in alles!

paul-maritz

Paul Maritz, is die koördineerder van Solidariteit Jeug. Foto: Verskaf.

Deur Paul Maritz, die koördineerder vir Solidariteit Jeug

Ons almal ken hulle, nè?  Dáái mense – Die mense wat elke oggend vroeg by die werk is, altyd glimlag, altyd by alles uitkom, en dan nog ʼn duisend ander dinge ook doen, en boonop alles goed doen. Hoe doen hulle dit? Hoe is party mense so produktief, terwyl so baie van ons elke oggend ʼn interne oorlog moet oorwin om net onder die komberse uit te klim?

By Solidariteit Jeug het ons die visie dat jongmense verantwoordelikheid vir hul eie loopbane moet neem. Ons as jeug moet ophou om die groot salaris van dag een af te verwag, sonder dat ons dit verdien het. Ons moet produktief wees, en bereid wees om op die eerlike en eervolle manier te werk op ons pad boontoe. Nou hoe presies word ʼn mens meer produktief? Hier is ʼn paar wenke wat van die wêreld se mees suksesvolle mense in hul lewens toepas om hul produktiwiteit te verbeter. Probeer dit en, wie weet, dalk is jy binnekort dáái mens! (Hierdie wenke is natuurlik nie net op jongmense van toepassing nie, selfs gesoute besigheidspersone en werknemers kan nog iets leer)

  1. Hou altyd aan om te leer, binne en buite jou werkomgewing

Die stigter en uitvoerende direkteur van Facebook, Mark Zuckerberg, het, bo en behalwe die multimiljarddollar-maatskappy wat hy van die grond af opgebou het, oor die afgelope dekade geleer om Mandaryns te praat, en hy maak seker dat hy elke liewe dag ten minste een nuwe mens ontmoet. Die oomblik wat jy besluit jy weet nou genoeg, is dalk die oomblik wat jy gaan begin stagneer. Waaroor wil jy iets meer leer? Gaan soek dit, en gaan dan te werk om dit te leer.

  1. Stel duidelike doelwitte vir elke dag

Jack Dorsey, die uitvoerende hoof van Twitter, het vir elke dag van die week ʼn tema en doelwit. Deur een groot uitdaging in verteerbare porsies in te deel, voel hy elke dag dat hy iets bereik het, al lyk dit na min in die groter prentjie. Sodoende raak hy ook nie moedeloos as hy die groot berg voor hom sien nie, omdat hy weet dat hy elke dag ʼn paar tree in die regte rigting neem.

  1. Stel tydlimiete en hou resies teen die wekker

Hierdie wenk is sommer ʼn lekker een as jy hou van deelneem, veral teen jouself! Die uitvoerende hoof van Nissan, Carlos Ghosn, stel tydbeperkings vir alledaagse take. Deur ʼn vergadering tot 90 minute te beperk en aan almal wat die vergadering gaan bywoon, te sê dat hulle net 90 minute het om hul saak te stel, maak hy seker dat almal produktief is. En dat dít wat belangrik is, op die voorgrond bly, dat hulle nie afdwaal nie. Dinge soos administrasie of e-posse kan maklik binne ʼn spertyd gedoen word, so gee jouself byvoorbeeld een uur om ʼn taak af te handel, en spring weg. Jy sal verbaas wees watter groot verskil so ʼn klein aansporing kan maak. Jy kan jouself selfs beloon, byvoorbeeld met ʼn ietsie soets of ʼn koppie koffie as jy jou teikens bereik het.

  1. Prioritiseer reg

Wat is die moeilikste taak op jou tafel? Om daardie taak uit te stel totdat jy lus is daarvoor, is ʼn gevaarlike en onkundige speletjie. Wetenskaplikes glo dat ons in die oggend meer produktief is, daarom is dit dalk ʼn goeie idee om in die oggend met die moeilike take te begin, en dan die middag vir jou administrasie of herhalende take te gebruik. Sodoende gee jy jou beste vir die take wat jou op jou beste nodig het.

Die wêreldbekende outeur Stephen Covey skryf in sy boek The 7 Habits of Highly Effective People dat daar vier tipes take is: Dié wat dringend en belangrik is; dié wat dringend is, maar nie belangrik nie; dié wat belangrik is, maar nie dringend nie; en dié wat nie belangrik of dringend is nie. Maak seker dat jy eerste uitkom by dit wat dringend én belangrik is!

Produktiwiteit is nie ʼn onmoontlike doelwit nie, maar om die meeste uit jou lewe uit te kry, moet jy bereid wees om aan jouself te werk en slegte gewoontes uit te sny. Hierdie vier wenke is vier uit duisende klein dingetjies wat jy vandag kan doen om beter te wees, want wat is produktiwiteit dan anders as om sommer net beter te wees?

Daarom sê ons by Solidariteit Jeug #WeesBeter: ja, beter as ander aansoekers, beter as die wette en regulasies wat jou terughou. Bowenal, wees môre beter as wat jy vandag is!

Sluit gerus vandag nog aan by Solidariteit Jeug vir meer advies oor hoe om die werkplek te bemeester. Gaan na www.jeug.co.za en volg die stappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Reguit ·

Wit jongmense het geen toekoms in Afrika nie. Beste raad vir jong witmense is om oorsee te gaan studeer, oorsee te werk, daar te spesialiseer en daar te bly; sodat jy veilig kan woon waar jou kennis, kundigheid, produktiwiteit en belasting nie in ‘n diep donker sinkgat verdwyn nie, en waar jy vir jou kinders (en hulle kinders) ‘n toekoms kan bied. Die Azaniese hool is geen plek daarvoor nie.

Haan ·

Bly jy voel so. Ek gooi eerder my kennis in n “sinkgat” af, as wat ek my Christen Afrikaner volkseie waardes in n ander land gaan staan en verloor. As wat ek my kinders in die taal van my vyand grootmaak. Daar is nog baie hoop in ons jong Suid Afrika

Reguit ·

Dit help nie om emosioneel te raak oor sinnelose (bekrompe) gedagtetjies soos die “taal van die vyand” nie. Dit is júís daardie sogenaamde “Christen Afrikaner waardes” (wat dmv die kerk se breinspoeling) tot die wonderlike eindresultaat bygedra het. FW was immers ‘n groot Gereformeerde, en Broeder, nê. Niks om op trots te wees nie. Ek verwerp dit. Trouens: Oor 10 of 20 jaar is dit “finish en klaar” met die wittes van Azanië.

Wouter Snyman ·

Paul welgedaan met ‘n reguit eerlike ontleding van hoe waarde geskep kan word deur enige individu, ongeag huidige omstandighede! Die beste geleenthede gaan ontsluit word deur individue wat waarde kan skep deur kundigheid wat vryelik beskikbaar is vir almal, maar dit is die toepassing wat belangrik is! Baie is bereid om te praat, min doen!

Francois ·

Dankie vir die goeie wenke, ek dink ons kan almal daarby baat vind. Dit is verstommend wat ‘n mens kan bereik deur selfdissipline.

Ek sien die meeste kommentators dwaal egter heeltemal van die onderwerp af en haak weer vas by hul gewone ras- en geloofskwessies, wat niks met die artikel te doen het nie. Nou moet iemand nog net die ANC / Kerk / Vrymesselaars daarvoor blameer dat Mark Zuckerberg ‘n suksesvolle maatskappy het en hy nie, dan is die prentjie volledig – haha!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.