Hoe pak ek as gelowige vrou ’n onbekende 2021 aan?

Liesel Krause-Wiid. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig en inspireer. Liesel Krause-Wiid, predikant, sakevrou, skrywer, radio- en TV-aanbieder, en ’n mamma van twee, gee leiding oor hoe om in onseker tye dit met geloof binne te gaan.

Praat met God oor jou bekommernisse

Die jaar 2020 was vir meeste van ons ’n deurmekaar en uitdagende jaar. Nou lê 2021 uitgestrek en onbekend voor ons.

Ek wonder of nog ’n Covid-19-vlaag Suid-Afrika gaan tref? Ek wonder of die skole weer in 2021 as gevolg van die virus gaan sluit? Ek is ook bekommerd oor die wêreldekonomie. Die feit is niemand kan met sekerheid sê wat die nuwe jaar vir ons gaan inhou nie en die onsekerheid maak ’n mens bang.

Ons lees in die Bybel dat die volk Israel verskeie kere deur ’n onseker toekoms in die gesig gestaar is. Een so ’n keer was kort voor hulle die beloofde land Kanaän sou ingaan. Moses, hul formidabele leier, het pas gesterf. Hulle was bang vir al die vreemde nasies wat anderkant die Jordaan vir hulle gewag het, en twyfelagtigheid oor wat voorlê het in hul binneste kom nesmaak.

Toe gee God ’n bemoedigende boodskap vir Israel se nuwe leier Josua. Die boodskap was: “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Josua 1:9)

Hierdie kragtige belofte direk van God het hulle die deursettingsvermoë gegee om met selfvertroue die Jordaan oor te steek en die onbekende in te gaan. Hulle kon vasberade, vol moed en sterk wees, want God het beloof dat Hy by hulle is en dat Hy hulle nie in die steek sou laat nie.

Hierdie “Ek is by jou”-belofte van God aan sy kinders, loop soos ’n goue draad regdeur die Bybel. Die belofte is vandag nog geldig, dit het nie ’n vervaldatum nie! Sy beginsels verander nie.

God het vir Josua herinner hoe Hy elke dag van die 40 jaar wat die volk in die woestyn was, vir Israel gesorg het. Hy het belowe om dit ook in die toekoms te doen. God het jou in die verlede deur moeilike tye gedra, Hy sal dit weer doen. Die Woord sê Hy is gister, vandag en môre dieselfde. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Wees sterk en vasberade, Hy is by jou!

Hoe langer jy ’n pad met God stap en in verhouding met God leef, hoe meer leer jy Hom ken as ’n   goeie God; ’n God wat jy kan vertrou. Ons hoef gelukkig nie op ons eie planne of pogings te vertrou nie. Ons hoef nie op mense of op ’n regering te vertrou nie. Nee, ons kan God vertrou. Hy stap saam met ons die onsekere toekoms in.

Ons kan dapper en vasberade wees, want ons stry nie ons stryd hier op aarde alleen nie. Hy los nie ons hand nie. Inteendeel, Hy loop ons vooruit, die toekoms in. Ons mag dalk nie weet wat die toekoms inhou nie, maar ons kan seker wees wie die toekoms in sy hand hou… en dit is God!

Wanneer ek onseker voel, is daar ’n paar dinge wat my help. Ek deel dit graag met jou.

Ek praat met God oor my bekommernisse. Ek is eg en deel my vrese en frustrasies met Hom. Ek vra Hom om my geestesoë en -ore oop te maak, sodat ek sy hand in my lewe kan sien werk. Bybelse geloof is om in onseker tye te mag vra: Here help my om te glo U is by my, want ek sukkel om U raak te sien.

Tyd saam met God gee vir jou nuwe energie en genade vir elke dag. Hy verfris jou en skenk insig en wysheid. Net wat jy nodig het vir 2021!

Verdiep jou in sy Woord. ’n Amerikaanse predikant sê die ander dag dat ons Bybellees deesdae afskeep. Hy reken ons spandeer meer tyd op Facebook as met ons gesigte (faces) in die Boek (Book). Laat die Woord in donker en onseker tye vir jou ’n lig vir jou pad wees.

In onseker tye besef ’n mens opnuut dat daar baie dinge is waaroor jy nie beheer het nie. In dié tye doen ek wat my hand vind om te doen. Ek beheer wat ek kan beheer, soos my gedagtes. Ek probeer produktief wees en ek maak tyd vir God en mense. Maar dit waaroor ek nie beheer het nie, gee ek oor aan God en ek vertrou Hom volkome daarmee.

Ek bid vir jou in hierdie nuwe jaar vir vrede te midde van onsekerheid. Ek bid vir jou vir vreugde te midde van vrees wat dalk in jou hart broei en ek bid vir jou vir ’n diep innige verhouding met God wat daartoe sal lei dat jy Hom volkome en met oorgawe vertrou met jou toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.