Hoë selfoonrekeninge laat verbruikers warm onder kraag

woman-1209855_1920ʼn Selfoonrekening van R16 414.50 het ʼn verbruiker van die Vaaldriehoek warm onder die kraag gehad, veral toe die selfoondiensverskaffer haar inlig dat haar rekening so hoog is omdat sy Korea toe gebel het. Volgens die klantediens het die oproep R14 988.85 gekos en het sy ook R500 aan iemand geskenk. Amper twee maande se kla het sover niks opgelewer nie en haar diens is opgeskort. Nog ʼn verbruiker kla oor ʼn rekening vir R44 400 se data wat hy blykbaar in 20 ure gebruik het. Ina Opperman verduidelik wat verbruikers kan doen wanneer hulle oor selfoonrekenings wil kla.

Die verbruiker se probleem het begin toe haar foon nie gewerk het nie. Sy het die klantediensentrum gebel en is belowe iemand van die tegniese afdeling sal haar bel om die probleem op te los. Niemand het terug gebel nie en toe sy weer bel, is sy aangeraai om haar simkaart om te ruil. Nadat sy dit gedoen het, het haar foon weer gewerk.

Sy vermoed haar rekening is gebruik om die oproep en skenking te maak gedurende die vier dae wat haar foon buite werking was. Sy het ook nie in enige stadium gevra dat haar rekening oopgestel word om internasionaal te bel nie. Nadat sy oor die rekening gekla het, bel sy daagliks en word sy verseker iemand sal haar dieselfde dag nog terugbel, maar dit gebeur nooit nie.

Die oproepsentrum het haar ook verseker haar lyn sal nie afgesny word terwyl haar klagte ondersoek word nie, maar selfs nadat sy R900 betaal het, is haar lyn afgesny.

Nog ʼn verbruiker vertel hy het vier maande gelede die skok van sy lewe gekry, toe sy diensverskaffer beweer het hy het meer as 90 gig data in 20 ure gebruik, wat R44 400 kos. Toe hy die dataverbruik bevraagteken het, is sy rekening verminder na R6 000, maar hulle weier volstrek om enige inligting oor die dataverbruik aan hom bekend te maak. Na vier maande en meer as 160 minute se oproepe, het hy nog geen antwoord van hulle af ontvang nie.

Wie hanteer klagtes oor selfoonrekeninge?

Selfoondienste val onder die gesag van die Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (OKASA), wat beteken OKASA moet klagtes hanteer. OKASA het in Julie 2015 ʼn werksooreenkoms met die Nasionale Verbruikerskommissie gesluit om telekommunikasie en uitsaaiklagtes op te los. Die ooreenkoms versterk biede organisasies se mandaat en verseker dat die regte entiteit klagtes hanteer.

Die Suid-Afrikaanse Verbruikersgoedere en Dienste Ombudsman hanteer ook klagtes oor selfoonrekeninge, maar aangesien lidmaatskap van die Ombudsman se kantoor vrywillig is, wil die meeste diensverskaffers nie lede wees nie. Net klagtes oor MTN-rekeninge kan aan die Ombudsman se kantoor gerig word. Die twee klagtes hierbo handel nie oor MTN nie.

Hoe kla mens?

Volgens OKASA moet verbruikers moet eers by hul diensverskaffers kla voordat hulle by OKASA kan kla. Indien die klagte nie opgelos word nie, moet die verbruiker eis dat die klagte deur die hoof van die klagtesentrum hanteer word. As die klagte steeds nie opgelos word nie,moet dit na die betrokke bestuurder verwys word, dan na dié bestuurder se hoof en dan na sy hoof, totdat al die vlakke van senioriteit uitgeput is. Eers dan kan verbruikers by OKASA kla.

Verbruikers moet in hul klagtes aan OKASA die verwysingsnommer wat hulle by die diensverskaffers gekry het, of die name van die mense wat hul klagtes probeer oplos het, aandui, saam met die datums wanneer hulle met die verskillende bestuurders gekommunikeer het.

Klagtes kan na OKASA gestuur word per pos, faks, e-pos of telefoon. Verbruikers kan ook persoonlik ʼn OKASA-kantoor besoek om ʼn klagte op skrif in te dien. Verbruikers kry ʼn erkenning van die ontvangs van hul klagtes binne twee dae, wat ʼn verwysingsnommer en die naam van die beampte wat die klagte hanteer, insluit, sodat verbruikers maklik kan nagaan wat met hul klagtes gebeur.

Bel OKASA op 011 566 3000 om te kla of stuur e-pos aan [email protected]. Besoek hul kantore in Sandton (Blok A, B, C en D, Pinmill Farm, Katherinestraat 164), Durban (13de vloer, Weststraat 303, Delta Towers), Port Elizabeth (iste vloer, Fairview Office Park, Ringpad 66, Green Acres), Bloemfontein (Hoek van Koller- en Lombardstraat, Hilton) en Kaapstad (Grondvloer, Knowledge Park III, Heronlaan, Century City).

Kla oor MTN-rekeninge by die Ombudsman se kantoor. Die telefoonnommer is 0860 000 272 ofstuur e-pos aan [email protected] of ‘n faks na 086 206 1999. Aanlynklagtes kan ingedien word op die webtuiste by http://www.cgso.org.za/. Verbruikers moet ook eers by die selfoondiensverskaffer kla voordat hulle die Ombudsman kan vra om te help.

Ons hoor graag van verbruikers se ondervindings met selfoonrekeningklagtes wat deur OKASA of die Ombudsman se kantoor opgelos is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anika ·

Ek moet darem ‘n pluimpie gee vir Vodacom. Verlede maand was my rekening ook baie hoër as vorige maande (van gemiddeld R800 na R1 900). Ek het gaan kla by die hoofkantoor in Midrand. Hulle het ‘n navraag ingedien en gesê iemand sal my bel na ongeveer 7 – 10 werksdae. Binne 2 dae het ek ‘n e-pos ontvang waarin hulle bevestig het dat volgens hul rekords die data wel gebruik was maar as ‘n saak van welwillendheid my rekening met die bedrag van R1200,00 gaan krediteer. Ek was baie verbaas want gewoonlik gebeur so iets nie sonder ‘n groot geveg nie!! Dankie Vodacom.

CAB ·

Daar moet iets aan die gang wees want my man se foon se geld(Data) bly ook binne minute af gaan. Ons het al in 10min R150.00 gelaai net om Whats Up oor op te laai. dan is dit reg vir n dag dan die volgende dag is dit weer presies dieselfde.

Pieter ·

My ervaring van OKASA is ongelukkig baie negatief.
‘n Gereelde slenter is dat ‘n onbekende “diensverskaffer” ‘n rekening debiteer en sonder enige kontrole word dit dan afgetrek. Die selfoondiensverskaffer was hulle hande in onskuld en sê neem dit op met OKASA.
OKASA op hulle beurt het telkens laat weet dis buite hulle jurisdiksie.
Dit neem telkens weke en maande voordat die selfoondiensverskaffer as ‘n “welwillendheidsgebaar” die koste kanselleer.
Dit lyk nie of daar behoorlike kontrole en beskerming in plek is nie.

Slagoffer ·

So het ‘n oproep van my vrou ook op die selfoonrekening aangehou met registreer nieteenstaande dat sy gelukkig enkele minute later ‘n ander nommer geskakel het en dus bewys (op dieselfde rek.) gehad het dat die vorige oproep foutiewelik aangehou het om te registreer. Hoe op aarde dit gebeur het kon die diensverskaffer nie verklaar.

JoeV ·

Koop eerde foon kontant, gebruik vooraf betaalde minute en data. Spotgoedkoop. Fone wat twee jaar uit is en nie aan die nuutste mode voldoen nie is nuut beskikbaar vir ‘n apel en ui.

Ronnie ·

Ek het dieselde probleme gehad met MTN maar is vinnig opgelos

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.