Hoërskoolseun red meisie van aanvaller

Christine Gazi en Dylan Harris. (Foto: Facebook via Hoërskool Secunda)

Christine Gazi en Dylan Harris. (Foto: Facebook via Hoërskool Secunda)

ʼn Hoërskoolseun van Secunda word wyd op sosiale media geprys vir ʼn heldedaad wat hy verrig het toe hy op pad skool toe ʼn medeskolier te hulp gesnel het nadat ʼn aanvaller haar selfoon van haar wou beroof – en toe uiteindelik sy eie selfoon kwyt is.

Dylan Harris, ʼn gr. 11-leerder aan die Hoërskool Secunda, het verlede Dinsdag gesien hoe Christine Gazi, ʼn gr. 10-leerder aan dieselfde skool, deur ʼn aanvaller genader word. Christine Harris, Dylan se ma, het aan Maroela Media vertel die voorval het ʼn klipgooi van hul huis naby die skool gebeur.

“Dylan ry gewoonlik elke oggend om 06:50 met sy bergfiets skool toe, maar dié betrokke oggend het ek hom by die huis besig gehou met ander goed en hy kon eers ʼn bietjie later by die huis weg kom,” vertel Harris.

“Ek was op pad om Dylan se jonger boetie, Timothy, by die Laerskool Goedehoop te gaan aflaai, toe ek ʼn oproep van ʼn vreemde nommer af kry. Dit was Dylan aan die ander kant, wat met ʼn paniekbevange stem vir my sê: ‘Mamma, my selfoon is gesteel.’”

Sy vertel sy het onmiddellik haar voertuig omgedraai en na die veldjie gery waar Dylan elke oggend moet deur ry. Toe sy uiteindelik by hom kom, het die trane begin vloei. “Ek het so groot geskrik en ek was net so verlig dat hy nie seergekry het nie.”

Harris sê dit is toe dat Dylan vir haar sê hy het ʼn meisie probeer help wat deur die aanvaller genader is. “Ek het toe vir hom gesê hy moenie bekommerd wees nie. Ek weet nie hóé nie, maar ons sal sy selfoon vervang.”

Van daar is hulle na die plaaslike polisiestasie om ʼn klag te lê en die skool het daarna met Harris in verbinding getree. “Daar het ek eintlik eers die ware gebeure van die oggend se voorval gehoor. Hulle het my vertel dat Christine betrokke is en wou weet of Dylan oukei is en vir my gesê hy is ʼn held.”

Volgens Harris het Dylan ná afloop van die skermutseling vir haar vertel dat hy aangery gekom het met sy fiets en gesien het Christine staan in die pad met ʼn man by haar en dat sy bang gelyk het.

“Soos ek verstaan het sy vir Dylan gesien en gevra hy moet haar help, want sy ken nie die man nie. Hy het toe vir haar gesê om saam met hom deur die veld te stap en sy het toe vinnig om Dylan gestap, waarna die aanvaller toe vir Dylan van agter af gegryp het. Daar was ʼn struweling en my seun het ʼn paar houe ingekry.”

Die aanvaller het vir Dylan teen die muur vasgedruk en sy selfoon by hom afgevat, waarna daar nog ʼn aanvaller toe te voorskyn gekom het. “Die selfoon is toe tussen dié twee aan mekaar oor en weer gegee, en die een hardloop toe weg en spring oor ʼn nabygeleë palissade en die ander een het in die pad afgehardloop. Dylan het hom met sy fiets agterna gesit, maar dit was tevergeefs en hulle het op die vlug geslaan met sy selfoon.”

Sy sê dit is vir haar ʼn verligting dat hulle nie met sy fiets ook weggekom het nie. “Hy beoefen bergfietsry as ʼn sport en daarom is dit ʼn ordentlike fiets wat hy vir sy 16de verjaardag as geskenk gekry het.

Harris sê sy en Gazi se ma, Eunise, is elke dag sedert die voorval met mekaar in kontak om te hoor hoe dit met mekaar se kinders gaan na die voorval.

“Christine is baie getraumatiseerd na die voorval, so ek hoor maar elke dag by Eunise hoe dit met haar gaan,” sê sy.

Sy vertel daar is tot dusver drie weldoeners wat geld geskenk het om vir Dylan ʼn nuwe selfoon te koop. “Daar is glo ook nog mense wat die skool gekontak het om te sê hulle sal graag wil bydra vir ʼn nuwe selfoon. Die kommentare wat mense op Facebook skryf oor Dylan se heldedaad, het sy selfbeeld ʼn geweldige hupstoot gegee.”

Volgens Harris is Dylan ʼn baie stil kind wat gewoonlik konflik sal vermy. “Ek het nog altyd vir hom gesê as hy by die veld kom en iets lyk nie vir hom reg nie, moet hy net verbyry en nie ʼn slagoffer van homself maak nie. Hy het daardie dag nie vir my geluister nie, maar dit is ook maar goed so. Wat kon van Christine word as hy nie daardie dag daar was vir haar nie? ʼn Mens weet nooit of die intensie suiwer roof was nie en sy was ʼn meisiekind alleen.”

Harris voeg by dit was ʼn ongelooflike storie om van haar eie seun te hoor. “Ons het nog altyd baie komplimente oor hom en sy goeie maniere gekry, maar wat hy daardie dag vir Christine uit die goedheid van sy hart gedoen het, was ongelooflik. Ons is so trots op hom en die terugvoer wat ons kry is oorweldigend. Ek is bly ons kry die geleentheid om die verhaal te deel, want dit kan net bewusmaking skep om ander ouers te waarsku dat hul kinders nie deur die veld moet stap nie. Dit het eintlik nie eers in die veld gebeur nie, maar teen die pad.”

Hoërskool Secunda het ook lof vir Dylan op sy Facebook-blad uitgespreek. “Ons is baie trots op Dylan se dapper reaksie en dankbaar dat die twee leerlinge veilig is. Ouers word gemaan om toe te sien dat hul kinders nie alleen in die groen stroke naby Laerskool Secunda stap of fietsry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GM ·

Ons word altyd gemaan om nie te dit of te dat nie. Wag die skelms in en dons hul op. Ek mis my kinderdae! Ek het elke dag deur groenstroke geloop, en dit was veilig. EN skoon.

Mooi So ·

Mooi so jong man! Daar IS hoop vir ons land. Die ekstremiste links en regs moet net dit besef

Ella ·

Wow Dylan!!! Trots op ons nasie!!! Jy is voorwaar ‘n held in eie reg!!! Well done aan jou!! Met jou gesindheid en gees gaan jy net goeie vrugte pluk!! Lekker man lekker!!! Wees net versigtig ook….

Lanie ·

Dit is wat ek naastediens noem. Mooi so Dylan. sorry Christine dat jy nou deel is van Suid Afrika se statistiek. Mooi loop julle twee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.