Hollywood wink dalk vir hoopvolle SA kunstenaars

Span Suid-Afrika (Foto: Verskaf)

deur Riaan Grobler

Die 21ste Wêreldkampioenskap vir die uitvoerende kunste het onlangs in die Long Beach-sentrum vir die uitvoerende kunste in Los Angeles begin.

Suid-Afrika word verteenwoordig deur 63 hoopvolle en uiters talentvolle deelnemers in verskeie kategorieë wat insluit dans, sang, modelwerk, drama en instrumenteel. Meer as 60 lande het deelnemers gestuur om dalk ʼn trappie nader te kom aan die Hollywood-droom.

Dié kampioenskap is in 1996 deur Griff O’Neil, uitvoerende regisseur van dié kampioenskap, begin, en gee opkomende kunstenaars van alle ouderdomme die geleentheid om op ʼn internasionale verhoog mee te ding. Die kompetisie word gesien as die Olimpiese Spele van die uitvoerende kunste. Beoordelaars sluit kenners asook bekendes uit Hollywood in en deur die loop van die week besoek agentskappe die kompetisie om deelnemers dop te hou en moontlik te nooi vir verdere gesprekke oor ʼn Hollywood-loopbaan.

Ruan Nel (Foto: Verskaf)

Behalwe vir goue-, silwer- en bronsmedaljes kan deelnemers ook met beurse wegstap om by bekende drama- en dansskole in Los Angeles en New York te studeer. Van die deelnemers se suksesverhale sluit in rolle in groot Hollywood-flieks, platekontrakte en verhoogrolle. So het Keiynan Lonsdale van Australië in 2007 deelgeneem en was onlangs te sien as die karakter Wally West in die internasionale televisiereeks The Flash.

Volgens dr. Ellen Roux, direkteur van die Suid Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste, is dit Suid-Afrika se 20ste jaar van deelname nadat sy die lisensie in 1997 bekom het om die kompetisie in Suid-Afrika aan te bied.

Roux het ʼn groot passie vir die uitvoerende kunste en die geleentheid was volgens haar ideaal om opkomende kunstenaars te help om die Hollywood- en Suid-Afrikaanse vermaakdroom ʼn werklikheid te probeer maak. Daar is ʼn rits Suid Afrikaanse vermaakkunstenaars, TV-aanbieders, sangers en modelle wat saam met Roux oor die jare na Los Angeles gereis het om aan dié kompetisie deel te neem. Onder dié kunstenaars tel  Elizma Theron, Riaan Grobler, Deànré Reiners, voormalige mej. SA, Cindy Nell, Carmen Pretorius en meer onlangs die negejarige konsertinaspeler, Kosie Beukes, wat Suid-Afrikaners gaande gehad het met sy optrede by die 2017 Ghoema-musiektoekennings.

Riaan Grobler (Foto: Verskaf)

Deelnemers in Suid-Afrika neem op streeksvlak deel aan oudisies waarna hulle kwalifiseer en uitgenooi word om in te skryf vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir uitvoerende kunste wat in Gauteng plaasvind. Daar moet hulle kwalifiseer om deel te word van die Suid-Afrikaanse span wat in Julie aan die Wêreldkampioenskap in Los Angeles deelneem.

Hoewel die kompetisie ʼn geweldige groot geleentheid bied om internasionaal raakgesien te word, moet deelnemers self opdok vir hulle reis-, verblyf-, inskrywings- en sakgeld omdat die Suid-Afrikaanse regering nie die uitvoerende kunste geldelik ondersteun nie.

Die eerste kategorie waarin mededinging begin het, is die selfbegeleide vokale afdeling en Suid-Afrika se junior kampioen, Ruan Nell (10) van Midrand in Gauteng, het gewys waarom hy met dié titel spog. Hy het die gehoor gaande gehad met sy weergawes van “Fat Bottomed Girls” van Queen asook “Rhinestone Cowboy”en “Knocking on Heavens Door”.

Hoewel die Suid-Afrikaanse span daarop fokus om met goud huis toe te kom het hulle eers Los Angeles gaan verken om ʼn voorsmakie van die lewe in Hollywood te kry. Die bekende Hollywood-Walk of Fame is besoek en die meeste het eers ʼn foto by die Suid-Afrikaans gebore Charlize Theron se ster geneem. Die volgende oggend het sommiges Los Angeles se modedistrik gaan besoek terwyl ander Disneyland aangedurf het.

Die finale gala-konsert vind eerskomende Vrydagaand ná die week se kompetisies plaas en deelnemers word met die hand uitgesoek om op dié aand op te tree asook tydens die prysuitdeling wat Saterdagoggend volg.

Maar vir die volgende paar dae konsentreer elke deelnemer op sy en haar deelname en om ʼn stappie te gee in die rigting van ʼn loopbaan in Hollywood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tessa ·

Ek was laas jaar daar. Awesome, awesome, awesome geleentheid vir jong kunstenaars! So bly dit kry uiteindelik die blootstelling wat dit verdien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.