Hond red stapper wonderbaarlik ná val

North hou Grga veilig (Foto: HGSS Hrvatska Gorska Služba Spašavanja/Facebook)

ʼn Hond het ʼn stapper, wat in die berge in Kroasië beseer is, wonderbaarlik gered deur vir 13 ure op hom te lê totdat hulle gered is, het plaaslike media berig.

North het sy eienaar, Grga Brkić, warm gehou ná hy beseer is toe hy geval het. Brkić kon nie ná die val beweeg nie. Die twee ander stappers saam met hom kon nie by hom uitkom nie en hulle het nooddienste ontbied.

Paramedici sê die agt maande oue North, ʼn Alaskiese malemoet, het ongetwyfeld gehelp om Brkić veilig te hou.

Die voorval het gebeur toe die groep oor die Nuwejaarsdag-naweek in die Velebit-bergreeks gaan stap het.

“Vriendskap en liefde tussen mens en dier het geen grense nie,” het Kroasië se bergreddingsdiens (HGSS) in ʼn plasing op Facebook gesê, met ʼn foto waar die hond op Brkić lê terwyl hy op ʼn draagbaar weggeneem word. Die hond het knus teen hom gelê en hom warm gehou terwyl die reddingspoging voortgeduur het. Hy wou Brkić nie vir ʼn oomblik alleen laat nie.

Sowat 30 reddingswerkers het uiteindelik by die beseerde Brkić uitgekom waar hy sowat 1 800 bo seespieël gestrand was.

“Die minute en sekondes voor hulle opgedaag het, het so stadig verbygegaan,” het Brkić aan die Jutarnji List-koerant in Kroasië gesê. “Die hondjie is ʼn regte wonderwerk en het self niks oorgekom nie.”

HGSS het egter die publiek gewaarsku om nie honde saam te neem op staptogte in moeilike omstandighede nie, veral nie gedurende ysige winters waar gespesialiseerde klimtoerusting benodig word nie.

Grga se vrou, Antonija Sjauš Brkić, het op Facebook ʼn foto gedeel en gesê North stuur groete van hulle huis af en Grga sal ten volle herstel.

 

North ontspan by die huis (Foto: Antonija Sjauš Brkić/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Wat ‘n goeie storie van North die brawe hond. Mooi so North, jy is ‘n ware vriend vir jou mens pa.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.