Hongare op SA kultuurtoer getrakteer

‘n Hongaarse afvaardiging het die Voortrekkermonument Donderdag as deel van ʼn kulturele toer besoek. (Foto: Verskaf)

ʼn Afvaardiging van Hongarye wat reeds ʼn week in die land is, kan nie uitgepraat raak oor hoe selfstandig, gasvry en dapper Suid-Afrikaners is nie.

Nege Hongare uit private en openbare sektore is deur die Solidariteit Beweging genooi om die land te besoek om moontlikhede van samewerkingsooreenkomste, van sakegeleenthede tot landbouinisiatiewe, te bespreek.

Die afvaardiging het die Voortrekkermonument Donderdag as deel van ʼn kulturele toer besoek. Hulle was beïndruk met die monument, die geskiedenis en hoe dit by die monument aangebied word.

“Dit is baie interessant om te sien hoeveel ooreenkomste daar tussen Suid-Afrika en Hongarye is en hoe swaar die pioniers (Voortrekkers) geleef het toe hulle getrek het,” sê Zultan Palatinus, ʼn sakeman en vlieënier van Hongarye.

Palatinus meen die gasvryheid in die land is ongelooflik en volgens hom is Suid-Afrikaners se hardwerkendheid ook opmerklik.

“Suid-Afrika is werklik ʼn plek waar ek tuis voel. Ek kan nie wag dat die samewerking tussen die twee lande vrugte afwerp nie.”

Nege Hongare uit private en openbare sektore is deur die Solidariteit Beweging genooi om die land te besoek. (Foto: Verskaf)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, glo ook daar is verskeie ooreenkomste tussen Suid-Afrikaners en Hongare.

“Dit is merkwaardig dat daar, ondanks die groot afstand tussen ons en relatief min kontak wat histories tussen die Hongare en Afrikaners bestaan, soveel ooreenkomste tussen ons is.

“Die eerste ooreenkoms is dat Christenskap die kern vorm van wie ons is. Die tweede is dat ons albei klein nasies met ʼn groot ideaal van vryheid is,” sê Buys.

Voor die afvaardiging Maandag na Hongarye terugkeer, sal hulle nog die Nasionale Krugerwildtuin besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Ek het in die verre verlede gereeld besoeke van Hongaarse amptenare koordineer en begelei. Daar is werklik baie raakpunte tussen die mense en ons SAners. Hul humorsin is baie soos ons s’n. Hulle hou van lekker eet, kuier en geniet ook die vrug van die wingerd. Hulle maak self baie lekker wyne. Altyd uitgesien na hul besoeke en hul tolke het oortyd gewerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.