Honger gesinne gevoed danksy goedhartige sakelui

Paul Burger, Laerskool Panorama se hoof, en Annemarie van Heerden, Helpende Hand se streeksorganiseerder van Mpumalanga. (Foto: Verskaf)

Dit het net een dankbare boodskap geverg om ʼn sakeman van Bronkhorstspruit te laat besef hoe baie welwillendheid kan beteken – en nou word duisende piesangs danksy ʼn uitmuntende samewerkingspoging weekliks aan behoeftige gesinne uitgedeel.

Callie Geldenhuis, uitvoerende hoof van National Road Carriers, is ʼn lid van Solidariteit Helpende Hand, maar het eers bewus geraak van dié organisasie se voedingskemas toe sy vervoermaatskappy verlede jaar gehelp het om 14 ton aartappels gratis van ’n boer se plaas na Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Derdepoort in Pretoria te vervoer.

“Ons het daarna ’n boodskap op WhatsApp ontvang van een van die mense wat van die aartappels gekry het. Dit was hartroerend. Ek was dankbaar om te kan sien dit help,” vertel Geldenhuis.

In Maart vanjaar het Geldenhuis en sy vrou, Sussa, in Marlothpark buite Komatipoort gaan vakansie hou toe hulle een dag ’n krat piesangs by ’n winkel gesien het vir R50. “Ek het vir die vrou in die winkel gevra of daar nog piesangs is, want ek soek ’n bakkievrag vol om vir Helpende Hand te gee om behoeftige kinders te voed,” vertel hy.

“Ons het gesien wat Helpende Hand doen en dat die kosskenkings nie gemors word nie. Ons het daarom besluit om te help waar ons kan.”

Die vrou by die winkel het die Geldenhuis-egpaar na haar verskaffers verwys en Geldenhuis kon sodoende met Henk Grobler, pakhuisbestuurder en gehaltebeheerder van Lebombo Piesangs in Komatipoort, in verbinding tree en het aan hom hul behoefte verduidelik.

“Henk was baie tegemoetkomend toe hy hoor vir watter doel ons die piesangs soek en was uit die staanspoor vriendelik. Hy het gesê hy sal weekliks van die oorskot piesangs vir ons gratis gee as daar is – ons moet dit net self kom haal,” sê Geldenhuis.

Gelukkig was vervoer nie vir Geldenhuis ʼn probleem nie! Hy het sy onderneming reeds in 1993 op die been gebring en spesialiseer in die vervoer van veral myntoerusting oor landsgrense heen.

Thea Steyn van Edenpark-aftreeoord en Pieter van der Walt van Helpende Hand. (Foto: Verskaf)

Geldenhuis het vir Johan Scott, sy onderneming se operasionele bestuurder wat self ’n Helpende Hand-lid is, met Grobler in verbinding geplaas en opdrag gegee om te reël om weekliks piesangs te gaan oplaai as daar ’n oormaat is.

“Weens die aard van ons onderneming het ons vragmotors wat weekliks onder meer van Mosambiek af met leë vraghouers na Bronkhorstspruit terugkeer. Johan koördineer met ons drywers en met Henk om Donderdae of Vrydae in Komatipoort die oorskot piesangs op te laai, waarna die vrag dan in onderskeidelik Witbank en Pretoria afgelaai word,” sê Geldenhuis.

Die piesangskenkings het in Maart met tien bokse begin en trek nou al by 30 bokse weekliks. Die 30 bokse is nagenoeg 4 320 piesangs wat 540 kg weeg. Meer as 100 behoeftige gesinne, asook kinders en bejaardes in tehuise kry weekliks van dié natuurlike bederfies.

Annemarie van Heerden, Helpende Hand se streeksorganiseerder in Mpumalanga en die noorde van KwaZulu-Natal,  vertel sy sien weekliks die dankbare gesigte van hulpbehoewende mense wat by dié ruim skenking baat.

“Die helfte van die vrag piesangs word by my afgelaai en die ander by Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Pretoria. Ek neem die piesangs na verskeie laerskole waar ons ons Kosblikkie-voedingskema bedryf, asook ouetehuise en tehuise vir gestremde mense. Dit is ongelooflik om die dankbaarheid op die mense se gesigte te sien en ook om te sien watter planne hulle beraam om die raklewe van die piesangs te rek deur piesangbrode en kolwyntjies te maak,” sê Van Heerden.

“Die opgewondenheid op die kinders se gesigte tref ’n mens, veral as hulle weet daar is genoeg piesangs om vir hulle pappas en mammas ook te vat. Daar is selfs ’n bejaarde tannie wat sê dit is vir haar so waardevol soos ’n verjaardaggeskenk.”

Luzanne Niemand en Chantelle Marx pak piesangs vir behoeftige gesinne by Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Derdepoort, Pretoria. (Foto: Verskaf)

Elize Bezuidenhout, bestuurder van Ons Plek Derdepoort (Helpende Hand se gemeenskapsentrum), voeg by die piesangs werk “fantasties” om die 45 kinders wat daagliks ná skool daar versorg word, se magies met gesonde kos vol te kry.

“Die piesangs is voedsaam en veelsydig. Dit gee die kinders genoeg energie sodat hulle kan konsentreer wanneer hulle moet leer. Oor naweke gee ons sakke vol piesangs en ander vrugte wat geskenk is saam met hulle huis toe om vir die res van hul familie uit te deel. Dit is hartverblydend om daai gesiggies te sien. Hulle oë blink sommer as daai bokse oopgaan. Dis ongelooflik hoe bly hulle is oor piesangs,” sê Bezuidenhout.

Ook Scott sê dat dié inisiatief hom op ʼn baie dieper persoonlike vlak raak. Nadat hy as tiener sy been weens beenkanker verloor het, het hy uiteindelik op straat opgeëindig. Dit was toe Geldenhuis hom ʼn werk aangebied dat Scott uiteindelik van voor af kon begin.

“Ek doen daarom ’n beroep op die gemeenskap om moeite te doen om uit te gaan en te gaan vra. Gaan na die plaaslike boere of kosverskaffers toe en vra of daar kos is wat oorbly om uit te deel. Die ergste wat kan gebeur is dat hulle ‘nee’ sê,” sê hy.

“Ek weet hoe dit voel om honger te gaan slaap. Daarom is dit vir my belangrik om te sorg dat dit nie met ons kinders gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Luca ·

Hoekom uitbasuin aan die wereld. Kan niemand meer ‘n goeie daad doen sonder om dit vir elke nuuskanaal uit te gil nie…….

Anet ·

Dit is verblydend om te hoor daar is mense wat kos kan uitdeel aan minderbevoorregtes. Ek stap in die Supermark verby die piesangs sonder om te koop. R19.99 per kg kan ek nie bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.