Droogte. Kosskaarste. Korrupsie. Onregverdigheid. Rassisme. Moord. Misdaad. Werkloosheid. Ongeletterdheid. Stakings. Puttoilette. Weggooibabas. Vlugtelinge. Motorongelukke. Vandalisme. Kapings. Ontvoerings. Martelings. Diefstal. Huisbraak. Verkragting. Kindermishandeling. Plaasmoorde. Elke nuusberig bring nóg ’n negatiewe storie. Nóg ’n nagmerrie. Nóg ʼn onding wat ʼn mens se vrede en jou hoop steel.
Meneer Zuma, jy het nie net Tumi se gesteelde fietsie teruggekry nie, maar ook baie ander mense se fietsies gevat. ʼn Hele generasie se fietsies. En jy het ouens soos Panyaza Lesufi toestemming gegee om die volgende generasie se fietsies ook te vat. Tumi se kinders en my kinders s’n. En nou word jy in die bek geruk en jy is kwaad daaroor. Kwaad dat ons as ʼn generasie van Suid-Afrikaners nie langer sal stilbly en stilstaan dat jy ons hoop en ons toekoms steel nie. Maar jou vertrek gee ons so klein vlammetjie hoop vir hierdie land. Vir die volgende generasie.
Hoop is in ’n kind se oë waar hy speel en sing en leer van die wêreld. Dit is in die harte van Corrie ten Boom en Anne Franck wat nie toelaat dat hul omstandighede hul geloof bepaal nie. Dit is in die Voortrekkervroue wat beskuit-bakkend, kind-draend deur berge en dale agter ossewaens aanloop. Dit is in die harte van ouers en leerlinge wat vra vir goeie onderwys. In die harte van mense wat dag na dag op Facebook vra vir ’n werk – enige werk, enige plek. Emily Dickinson beskryf hoop as ’n voëltjie wat saggies sing in die stiltes en storms. En nou begin daardie voëltjie sing.
Hoop is in die droë Kaap waar mense met sponse uit ʼn emmertjie bad in herehuise. Dit is in honderde bottels water wat in Gauteng volgemaak word en dan op trokke aangery word na vakansieplekke waar tuine nou net stof is. Hoop is waar mense motors was met stortreën terwyl die donderweer slaan. Dit is in die strate van Loeriesfontein wat soos riviere spoel. En op ’n snelweg in Kaapstad waar ’n man uitspring in spitsverkeer en opreg dankie sê vir sy Here vir die lank-verwagte, noodsaaklike reën.
Hoop is ’n brose klein voëltjie, maar dis ook ʼn ding wat floreer op elke reëndruppel. Dit neem diep asemteue van die douvoordag vroegoggend en begin blinkoog sing. En soos die reën in die Kaap uitsak en die veld begin drink en begin groei, begin ons hoop. Geloof, hoop en liefde loop hand aan hand. Het ons vergeet hoe om te hoop? Of sal elke reëndruppel en reënboog ons herinner om te hoop?
So pragtig mooi met n pen op papier geskryf en so uit n hart waar baie hartseer gestoor is. Ons hoop en bid dat daar nou voorspoed en rustigheid sal kom, dat ons boere gespaar sal bly en die kinders weer nuwe fietsies sal kry om mee veilig te kan rondry, dat die wolk van Genade uit ons Vader se Hand oor julle sal wees. Hou moed en glo in Jesus se Almag.
Sjoe maar jy kan ‘n ding raakvat met woorde! Baie dankie dat jy jou fenomenale insigte met ons deel. Ons wil nie te vroeg opgewonde raak oor die nuwe besem nie, maar met hom aan die stuur en ‘n groot klomp kinders van die Here wat vir hom bid, kan dinge in hierdie land net beter word! Ons moet net nie moed verloor as alles nie oornag regkom nie! 22 April verlede jaar het oom Angus gesê It is time en stadig maar seker het dinge begin verander en nie net in ons land nie! Mag die reëndruppels en die gepaardgaande hoop ons regtig omvou en mag ons nooit ophou bid en vertrou nie! Ons dien nog steeds ‘n God van wonderwerke!
Sjoe! Dit is so pragtig verwoord!
Wel gedaan suster.