Hospitaal ontvang mobiele lykshuis

Carl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, en dr. Avumile Mankahla, waarnemende uitvoerende hoof van die Nelson Mandela Akademiese Hospitaal se nuwe mobiele lykshuis. (Foto: Verskaf)

Avbob het Maandag ʼn skeepsvraghouer wat as ʼn mobiele lykshuis ingerig is aan die Nelson Mandela Akademiese Hospitaal in Mthatha, Oos-Kaap, geskenk.

Die tweede golf van Covid-19-sterftes wat Suid-Afrika in Januarie getref het, het dié provinsie hard geslaan en reusagtige druk op gesondheidsorg geplaas. In dié tydperk was dit toenemend moeilik vir dié hospitaal om lyke van Covid-19-sterftes te isoleer van ander sterfgevalle in die hospitaal.

Nelson Mandela Akademiese Hospitaal bedien vyf distriksmunisipaliteite in die Mthatha-streek en deel sy lykshuisdienste met twee ander organisasies.

Avbob se ingerigte skeepsvraghouers beskik oor die kapasiteit om 40 oorledenes te huisves, en is toegerus met verkoelingsgeriewe, ligte, rakke, ʼn oprit en ʼn bystandkragopwekker. Die groep se tak in Bloemfontein rig die skeepsvraghouers in en die omskakeling word in vyf tot sewe dae gedoen.

Avbob hoop dié mobiele lykshuis kan die bykomende druk op die hospitaal se stelsels en stoorfasiliteite help verlig.

Dr. Avumile Mankahla, die waarnemende uitvoerende hoof van die hospitaal, het met sy openingsrede tydens die amptelike oorhandiging die tydige aard van die skenking van Avbob beklemtoon. Volgens Mankahla moet sy hospitaal verskeie infrastruktuuruitdagings op ʼn bykans daaglikse grondslag hanteer.

Dié hospitaal beskik oor ʼn kapasiteit van 811 beddens vir pasiënte en bedien ʼn gebied met ʼn bevolking van ongeveer drie miljoen. Die hospitaal se bestaande lykshuis kan slegs 36 oorledenes huisves.

Carl van der Riet, die uitvoerende hoof van die Avbob-groep, het gesê die skenking is deel van die groep se gedeelde waardestrategie.

“Om te sê dat die Covid-19-pandemie ʼn vernietigende uitwerking op die land en die wêreld gehad het, sou dit eintlik te lig stel omdat soveel mense al geliefdes verloor het.

“Gesondheidswerkers is die ruggraat in die stryd teen die koronavirus en maak ʼn wesenlike verskil aan die gemeenskappe wat hulle dien. Hiervoor erken ons elkeen van julle en sê dankie vir alles wat julle gedoen het en steeds doen om lewens te red.”

Van der Riet het bygevoeg dat begrafnisondernemers ʼn spesiale bond met gesondheidswerkers het omdat albei bedrywe saam in die voorste linies teen die pandemie staan.

“Ons wens dit was nie nodig om ʼn skenking soos hierdie vandag te maak nie, maar ons weet dit sal julle help om julle gemeenskap beter te versorg.”

Hier is video van die mobiele lykshuis:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.