Hospitaal, organisasies vat hande om kinderlewens te red

DIe spanne van Vertice, Operation Healing Hands en Zuid-Afrikaans-hospitaal. (Foto: verskaf)

“Ons het soveel kinders met hartprobleme, en wat ons hulp nodig het. Om die geleentheid te kry om soveel kinders te help, is vir ons wonderlik.”

Só sê prof. Lindy Mitchell, een van die pediatriese kardioloë wat hande gevat het met die Zuid-Afrikaans Hospitaal in Pretoria asook Vertice, ’n mediese tegnologiefirma, en Operation Healing Hands, ’n mediese welsynsorganisasie, om verskeie kinders met lewensreddende prosedures te help.

Dié kinders ly elkeen aan ’n oorerflike harttoestand wat slegs met ’n operasie genees kan word. Dié toestand ontwikkel wanneer babas se harte nie reg in hul ma’s se baarmoeders ontwikkel nie.

Daar word beraam dat sowat 11 000 Suid-Afrikaanse kinders met dié toestand gebore word, terwyl byna die helfte hiervan mediese ingryping benodig om te oorleef.

Weens kapasiteit en beskikbaarheid in staatshospitale, sterf duisende van hierdie kinders voordat hulle die nodige hulp kon kry om te oorleef.

Dít is egter iets wat die Zuid-Afrikaans Hospitaal, Vertice en Operation Healing Hands hoop om te verander.

Een van die teaterspanne. (Foto: verskaf)

Ter viering van die aangebore hartkwaal bewusmakingsweek (7 tot 14 Februarie), het drie kinders lewensreddende hartoperasies ondergaan. Pediatriese kardioloë, prof. Lindy en prof. Jayneel Joshi, het saam met ’n toegewyde teaterspan dié drie prosedures uitgevoer. Daar word beoog om 20 prosedures in die nabye toekoms uit te voer.

Personeel van dié drie organisasies het op 15 Februarie by die hospitaal byeengekom om die eerste drie hartoperasies te vier.

“Operation Healing Hands is ’n multidissiplinêre organisasie, ons probeer kinders met enige prosedure help wat hulle dalk mag nodig hê,” het Catrien Stander, hoof van finansies en openbare betrekkinge van Operation Healing Hands, aan Maroela Media verduidelik.

“Ons het op Good Morning Angels gaan gesels, en mense het vir ons geld geskenk om die eerste drie prosedures te kan doen.”

Die Zuid-Afrikaans Hospitaal het die teatergeriewe en hospitalisasie teen ’n reuse-afslag aangebied, Vertice het die nodige mediese toestel vir die prosedure geborg en ingevoer, terwyl Operation Healing Hands die oorblywende fooie gedek het.

‘n Model van die toestel wat in die pasiënte se harte geplant is. (Foto: verskaf)

Die operasie, hoewel lewensbelangrik, behels nie opehart-chirurgie nie. ’n Klein mediese toestel word met ’n kateter in die pasiënt se hart geplant om ’n gaatjie toe te stop.

“Die staat kan net tot op ’n punt help, en daar is so ’n lang waglys van kinders wat hierdie hartoperasie nodig het. Ons werk al jare saam met Vertice om hierdie droom om te help te bewaarheid,” het prof. Lindy aan Maroela Media vertel.

  • Vir meer inligting oor Operation Healing Hands, besoek hierdie webwerf.
  • Vir meer inligting oor Vertice, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.