Hospitaalpersoneel kry omgeegeskenkies

GROOTfm90.5-gemeenskap het in Februarie meer as 2 000 geskenkpakkies by vyf hospitale in die Jakarandastad afgelewer. (Foto: Verskaf)

Talle plaaslike organisasies het te midde van die piek van die tweede Covid-19-pandemiegolf in Suid-Afrika ingespring om vir gesondheidswerkers te wys hulle waardeer en ondersteun hulle in dié moeilike tyd.

Danksy die GROOTfm 90.5-gemeenskap in die Pretoria-omgewing kon die gemeenskapsradiostasie saam met die ambulansdienste van Emer-G-med, Best Care, Life Med en Ambulink meer as 2 000 geskenkpakkies by vyf hospitale aflewer.

Voortrekkerkommando’s en lede van AfriForum Moot is deur die Tshwane-metropolisie vergesel om die geskenkpakkies ter waarde van meer as R54 000 by die onderskeie hospitale oor twee dae te versprei.

“Ons kan nie ʼn nuwe hospitaal bou nie, en ons kan die gesondheidswerkers nie van die virus vrywaar nie, maar ons kan probeer om hulle gemoedere te lig. Ons kan gesondheidsorgwerkers daaraan herinner dat die gemeenskap hulle raaksien, en dat ons dankbaar is vir hulle onbaatsugtige, onselfsugtige dade,” het Sonet Stofberg, skakelbeampte en projekbestuurder van GROOTfm 90.5, gesê.

“Danksy al die raakvatters en handevatters kon ons die Unitas-hospitaal met 300 pakkies bederf, terwyl die Pretoria-Wes-distrikshospitaal 365 pakkies ontvang het. Die Montana- en Eugene Marais-hospitaal het onderskeidelik 250 en 426 ontvang, terwyl 800 geskenkpakkies aan die Tshwane-distrikshospitaal en die Steve Biko-akademiese hospitaal uitgedeel is.

“Die Pretoria-gemeenskap kan weet hulle het ʼn verskil in ʼn versorger se gemoed gemaak.”

 Avbob sê ook dankie

Sowat 600 gesondheidswerkers by die Brits-distrikshospitaal in Noordwes het onlangs ook elkeen ʼn welkome geskenkpakkie van Avbob gekry. (Foto: Verskaf)

Sowat 600 gesondheidswerkers by die Brits-distrikshospitaal in Noordwes het onlangs ook elkeen ʼn welkome geskenkpakkie gekry met die woorde: “Behind Every Mask Is A Hero. AVBOB Appreciates You.”

Die verrassingsgeskenke van Avbob, ʼn onderlinge versekeringsgenootskap, aan die hospitaal se personeel is met groot entoesiasme ontvang, veral in die lig van die moeilike stryd teen die Covid-19-pandemie.

Ernest Moekoena, Avbob se provinsiale hoof vir Gauteng-Suid, het namens die versekeringsgenootskap lof uitgespreek vir die harde werk en toewyding van die gesondheidswerkers by die Brits-distrikshospitaal aan Suid-Afrika.

“Toe ons hoofkantoor ʼn versoek van ʼn personeellid gekry het vir moontlike ondersteuning aan die hospitaalpersoneel kon ons nie nee sê nie. Hoewel ons baie ander projekte in die land ondersteun, veral in onderwys, het ons besef dat niemand gedurende die pandemie sonder ons land se gesondheidswerkers oor die weg sou kom nie,” het hy verduidelik.

ʼn Opgewonde Thelma Sopeng wat al nagenoeg 20 jaar by die hospitaal werk, het haar waardering uitgespreek vir die ondersteuning van Avbob. “Mense is nie altyd bewus van waardeur ons as personeel gaan nie, veral in die tyd van die pandemie. Ons sien en voel die gevolge van Covid-19 met almal wat in die hospitaal beland,” sê sy.

Volgens dr. Thekiso Isaacs, waarnemende uitvoerende hoof van die Brits-distrikshospitaal, was die afgelope jaar tydens die eerste en tweede golf van die pandemie ʼn uitsonderlik moeilike tyd vir personeel by die hospitaal.

“Ons het tot op hede drie Covid-19-sterfgevalle van ons personeel gehad en baie van ons gesondheidswerkers het ook in dié tyd Covid-19 opgedoen. Tog het ons personeel getrou gebly aan hulle diensplig en altyd opgedaag vir werk, sodra hulle deur die isolasietydperk was, of herstel het van hulle simptome. Avbob se gebaar en waardering vir ons gesondheidswerkers is dus ongelooflik en word hoog op prys gestel,” het Isaacs gesê.

Die nuwe uitbreiding van die Brits-distrikshospitaal wat in Noordwes geleë is, is in 2014 voltooi. Die hospitaal het tans 216 beddens vir pasiënte en is verantwoordelik vir ʼn gebied met ʼn bevolking van nagenoeg een miljoen mense. Sowat 40 dokters werk by die hospitaal.

’n Beter nagrus vir gesondheidswerkers

Restonic SA het op sy beurt 300 geheue-skuimkussings aan gesondheidswerkers by die Chris Hani Baragwanath-akademiese hospitaal in Johannesburg geskenk. (Foto: Verskaf)

Restonic SA het op sy beurt vroeër in Februarie 300 geheue-skuimkussings aan gesondheidswerkers by die Chris Hani Baragwanath-akademiese hospitaal in Johannesburg geskenk. Dié groep gesondheidswerkers werk daagliks met Covid-19-pasiënte.

“Ons waardeer die harde werk van almal wat Suid-Afrika in die gesondheidsektor tydens hierdie uitdagende tye bedien. Hulle moed en toewyding inspireer ons, en ons wou alles moontlik doen om die personeel te ondersteun,” het Dale Harley, Restonic SA se uitvoerende hoof van verkope en bemarking, gesê.

Dr. Nkele Lesia, uitvoerende hoof van die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal, het gesê die personeel is nederig dankbaar vir die bydraes wat Restonic gelewer het. “Ons voel aangemoedig deur die vriendelike gebaar van welwillendheid aan ons organisasie gedurende hierdie tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.