Hou jou by jou lees

Foto ter illustrasie. (Foto: Raoul Ortega/Unsplash)

As jy ’n boekemens wil wees, moet jy lees, as jy ’n skrywer wil word, is lees jou leermeester en as jy skoenmaker wil wees, leer ken dan eers jou lees. Die enigste verskil tussen leer en lees is net ’n s en ’n r. Of dit nou kopwerk of handewerk is, jy moet weet wat jy doen en jy moet doen wat jy weet. Daarvoor moet jy jouself ken, en dit wil vir my al meer lyk of jouself die laaste mens is wat jy regtig leer ken.

Hoekom leer ’n mens jouself eers ná 75 ken? Dit sou soveel makliker gewees het as ek op twintig al geweet het wie en wat ek eintlik is – en wat ek nié is nie. Dink net hoeveel moeite en verdriet ek myself en ander mense kon gespaar het as ek van die begin af geweet het ek is nie so handig as wat ek al die jare van myself geglo het nie. Ek sou toe al geweet het ek is prakties sonder om netjies te wees. Nou eers, ná 75 jaar, verstaan ek dat ek glad nie ’n detail-mens is nie – en toe glad ook nie so danig prakties nie.

Omdat ek in ’n meesterbouer se huis grootgeword het, kon ek op tien al die smeltdraadjie op die outydse verdeelbord vervang en ek het geweet wat ’n mens met ’n hamer en ’n saag doen. As iets gebreek het, kon ek dit self reggemaak sodat dit weer kan werk, al lyk dit nou nie so waffers nie. Solank dit net werk.

Dit is, so lyk dit vir my, uiteindelik ’n kwessie van die balans tussen selfvertroue en talent. Baie mense het baie meer selfvertroue as talent, party van hulle word selfs sangers of akteurs of skrywers. Ek weet nogal van professore wat met heelwat meer selfvertroue as verstand kan spog. Miskien is dit wat opportunisme ook kan beteken? ’n Mens vind dit net te laat uit.

Nou eers begin ek verstaan dat al het my regmaaksels nogal soms gewerk, dit beslis nie ’n estetiese pronkstuk was nie. Om dit te kon insien, het ek die eerlikheid van kleinkinders nodig gehad. Kon ek nie maar kleinkinders op twintig gehad het nie?

Maar nee, nou moes ek eers wag op die verloop van 27759 dae. En die eerlikheid van ’n ouman wat meer weet as wat ek weet: Nou messel ek toe self vir ons ’n posbus op die straatpunt van ons inrypad in Molenstraat in Potchefstroom. Die adres is belangrik, want dan kan jy verstaan dat ’n mens ’n studentwerende posbus nodig het as jy tussen die universiteit se koshuise en dié van die hoërskool Gimnasium woon. Posbusverwoesting is glo deel van een of ander jaarlikse kulturele ritueel.

Omdat ek van kleintyd af al van bou weet, weet ek mos van messel. Dagha aangemaak soos wat ek Petrus-hulle dit male sonder tal gesien doen het, sierstene netjies en professioneel op  ’n hopie gepak en die fondasie al behoorlik droog. En ek vat die nuwe troffel met die selfvertroue van ’n man wat weet van messel.

Ek was al heuphoogte met my messelprojek toe die ouman stadig op die sypaadjie langs verbyslenter, takserend vir ’n oomblik staan en ewe vra: “Het Oubie nie ’n waterpas nie?”

“Ek het,” antwoord ek trots en wys hom my splinternuwe geel waterpas.

Hy glimlag skalks en slenter aan, gaan dan ná ’n tree of wat staan en so oor sy skouer, merk hy lakoniek op: “Oubie moet hom liewer gebruik,” en loop verder met die stappie van iemand wat beter weet.

Ek het toe maar ’n regte bouer gekry, maar die ouman op die sypaadjie se boodskap dring eers behoorlik tot my deur toe die kinders later jare vir my vra om ’n ogie te kom hou oor die kontrakteur wat die opknapwerk aan die strandhuis moet kom doen: “Pa moet dit asseblief net nie self doen nie, ons vra Pa mooi!”

Nou het ek twee dinge geleer: ’n mens begin jouself eers ná 75 verstaan.

En die ander ding?  O, die meeste van ons leer dit nooit nie …

Of jy dan nou skoene maak, mure of boeke maak, hou jou liefs by jou lees.

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.