Hou saam tuinfees op Stellenbosch

Kom stap saam op die Waterford-landgoed se ystervarkroete. (Foto: Verskaf)

Stellenbosch, Suid-Afrika se eie dorp van eikebome, hou tans ʼn tuinweek wat spog met praatjies, toere, kuns, wyn en kos.

Die eerste tuinweek in Stellenbosch is geïnspireer deur die wêreldbekende blomfees in Girona, Spanje, wat alles insluit van tuinboutoere tot landskapkuns, kos en staproetes met musikante wat in spesiale plekke op die dorp optree.

Hierdie geleentheid is ʼn projek van VisitStellenbosch, ʼn bemarkingsorganisasie wat belanghebbendes in die streek se toerismebedryf betrek en die toerisme- en ervaringsekonomie wil laat groei.

“Wat ’n wonderlike manier om die lente te verwelkom met hierdie enig-in-sy-soort‑fees,” sê adv. Gesie van Deventer, Stellenbosch se uitvoerende burgemeester.

“Ek is self ’n kranige tuinier en kry gereeld grond onder my naels. Ek is mal oor die ongelooflike mooi tuine wat ons in die omgewing het. Ek het die voorreg gehad om inwoners te besoek wat baie trots op hul tuine is – van lowergroen, ruie, tradisionele tuine, tot slim waterwys en nuwe groen paradyse.

“Inwoners en besoekers kan gerus deel wees van hierdie unieke geleentheid en om plaaslike toerisme en ervaringsekonomie te ondersteun, ten bate van alle gemeenskappe in die omgewing.”

Jeanneret Momberg, VisitStellenbosch se uitvoerende hoof, sê dat Span Stellenbosch na baie uitdagende maande saamgestaan het vir iets wat beloof om ’n groot hoogtepunt in die Kaap te word en ’n broodnodige inspuiting vir die toerisme-ekonomie te bring.

“Ons sien uit om besoekers op Stellenbosch te verwelkom,” sê sy.

Stellenbosch se tuinweek het reeds afgeskop en tuinliefhebbers kan nog tot Sondag 10 Oktober in die fees kom deel.

Die tuinweek sluit ook verskeie installasies deur landskapargitekte en plaaslike botaniese kunstenaars in. Dit is by landmerke oor die dorp heen opgerig en vier ook die dorp se goedbewaarde geskiedenis. Een hiervan sal ’n reuse-installasie – ’n plant-labirint – by Die Braak, die dorp se hoofplein wees.

Winkelvensters op die dorp en plaaslike wynplase beeld die tema met blom-uitstallings en groenigheid uit en het spesiale aanbiedinge, terwyl plaaslike akkommodasie-verskaffers afslagpryse vir die duur van die fees het.

Daar is ook toere deur die wingerde van Jordan-wynlandgoed. (Foto: Verskaf)

Oop tuine en natuurstaptogte

Van die streek se mooiste openbare tuine sal vir besoekers oopgegooi word, waaronder die historiese Old Nectar-landgoed in die Jonkershoekvallei; die Dylan Lewis Beeldhoutuin in Paradyskloof; Spier‑wynlandgoed – wie se werkswinkels een vir kinders insluit – en Delaire Graff-landgoed.

Die eienaars van meer as twintig private tuine neem ook deel en sal aan besoekers ’n rare kykie gee in dié tuine wat gewoonlik nie vir die publiek toeganklik is nie.

Begeleide staptoere sal aan die besoekers die geleentheid bied om saam met gidse te verken, terwyl die meer energieke besoekers dalk die fynboswildernisstaptogte sal wil aanpak.

Kom hou piekniek op die Spier-plaas se kafee. (Foto: Verskaf)

Praatjies en werkswinkels

Die Stellenbosch Botaniese Tuin is ’n erkende botaniese uitblinker en het ’n spesiale program saamgestel, wat daaglikse staptogte en praatjies deur kenners insluit. Werkswinkels word ook gehou by die Rupert Museum; Blaauwklippen‑wynplaas op die R44; Jordan Wyne; Spier‑wynlandgoed en by Babylonstoren – waar toere deur Ernst van Jaarsveld aangebied word.

Onderwerpe sluit onder meer blomrangskikkings, kleurkuns, fotografie, hoe om self plante te kweek en kennis oor bye in.

Die Stellenbosch‑kunsvereniging bied ’n botaniese tekenwerkswinkel vir ontluikende kunstenaars aan.

Leer om jou eie blommekroon te maak om die tuinweek behoort te vier. (Foto: Verskaf)

Kos en wyn

Stellenbosch is die hartland van Suid-Afrikaanse wyn en ook die tuiste van voorste sjefs en restaurante. Hierdie reputasie sal gestand gedoen word in fees-geïnspireerde disse op spyskaarte, sowel as ’n reeks tuin-en-wyn‑geleenthede.

Van die hoogtepunte is ʼn besonderse Finding Eden-ervaring saam met die Suid-Afrikaanse Michelin-ster sjef Jan Hendrik van der Westhuizen. Hierdie informele tête‑à‑tête vind plaas by die magiese katedraal van Blaauwklippen‑landgoed en bevat ‘n ontdekkingsreis deur die tuine in Jan Hendrik se lewe. Van Le Jardin de JAN in Nice, Frankryk – sy Michelin-ster restaurant se nuwe potager‑tuin en piekniekterrein – tot sy nuwe kulinêre speelterrein in die Kalahari en hoe die reis in JAN the Journal vertel word.

ʼn Ander Blaauwklippen‑hoogtepunt is ’n sewegang‑ botaniese banket wat deur JAN Innovation Studio in Kaapstad voorberei sal word en die JAN-ervaring vir die eerste keer na die Stellenbosse wynlande gaan bring. Dis as’t ware ’n tuiskoms; dis waar Jan Hendrik sy kulinêre opleiding ondergaan het en sy wynsmaak vervolmaak het. Die maal sal verskeie elemente van sy bekroonde restaurante en ervaringe in Nice en die Kalahari insluit, by ’n tafel wat deur die befaamde, blom-ontwerper, Alwijn Burger, oftewel Blomboy, geskep is.

Kom stap deur Babylonstoren se kweekhuis vir vetplante. (Foto: Verskaf)

Meer inligting

Die volledige Tuinweek Stellenbosch-program en kostes kan op VisitStellenbosch se webwerf gevind word.

Andersins kan jy VisitStellenbosch by 021 886 4310 bel of stuur ʼn e-pos [email protected] vir meer inligting. Volg VisitStellenbosch op Facebook, Twitter en Instagram om die jongste nuus oor Tuinweek en ander gebeure te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Robert

Daar is meer eike bome in Potchefstroom as in Stellenbosch.