Houers vol hoop – help só in ’n japtrap

Die eerste skenking wat by Ons Plek Strand vir Josef Silo’s aan Helpende Hand gemaak is. (Foto: Verskaf.)

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag tydens sy Helpmekaar-dag sy amptelike Krisisfonds gestig om die maatskaplike nood wat reeds weens die nuwe koronavirus (Covid-19)-krisis ontstaan het, aan te pak.  Die fonds word deur Solidariteit Helpende Hand bestuur.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, volg daar gewoonlik ’n maatskaplike krisis op ’n ekonomiese krisis.

“Die gemeenskap moet daarom seker maak dat alles in plek is om mekaar in tye van nood te help. Helpende Hand word oorval met versoeke vir hulp van kwesbare groepe.  Ons verwag dat die nood en die behoefte al hoe groter gaan word.  Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds word deur Solidariteit Helpende Hand se onafhanklike ouditeure geoudit en ’n spesiale oorsigkomitee sal sorg dat die geld reg aangewend word,” sê Noëth.

Helpende Hand as maatskaplike organisasie fokus veral op die verligting, verbreking en voorkoming van Afrikaner-armoede. “Die verbreking en voorkoming van armoede het skielik ’n nuwe dimensie aangeneem toe al die fokus na verligting verskuif het – nie omdat ons dit so wil hê nie, maar omdat die praktyk dit afdwing as gevolg van Covid-19,” sê hy.

Noëth verduidelik Helpende Hand het ook reeds meer as 70 Josef Silo’s op die been gebring waar nie-bederfbare kos afgelewer kan word.

“Josef Silo’s is afkomstig uit die Bybel toe Josef opdrag gekry het om in Egipte tydens die sewe jaar van oorvloed kos bymekaar te maak en te stoor vir die sewe jaar van hongersnood wat gevolg het. Ons bedoeling met Josef Silo’s is dus om voorsiening te maak vir die moeilike tye wat ons tans ervaar én voorsorg te tref vir moeilike tye wat kan kom as die inperking verby is,” sê Noëth.

Om Josef Silo’s meer toeganklik en makliker te maak vir enigiemand wat in staat is om ʼn bydrae te maak, stel Helpende Hand vandag sy Houers VOL Hoop-projek bekend.

“Die strategie van Houers VOL Hoop is tweeledig: die publiek kan kos gaan afgee, of hulle kan ’n kontantskenking maak sodat ons kos vir behoeftiges kan aankoop,” verduidelik Noëth.

Helpende Hand pak die houers self en ontsmet die verpakking.  Elke houer bevat R350 se nie-bederfbare goedere wat vir gesinne in nood uitgedeel gaan word.

“Helpende Hand wil graag onder gesinne ’n verskil maak, daarom het ons Houers VOL Hoop geskep. Houer vir houer moet daar ’n verskil gemaak word in ons behoeftige gemeenskappe wat tans swaar ly onder die Covid-19-inperking.  Ons gebruik spesifiek die woord ‘houer’, want dit is iets waaraan jy fisiek kan vat en waarvan jy die inhoud kan gebruik.  Ons gebruik spesifiek die woord ‘VOL’, want dit is nie net ’n houer nie – die houer is vol ‘hoop’, want saam met die bietjie kos gee ’n mens ook hoop,” voeg Noëth by.

“Helpende Hand glo in beginsel daaraan om reg te gee.  Ons kyk mooi wat die gesin nodig het en bereken dit reg om te sien wat hulle kan deurtrek in ’n moeilike tyd.  Houers Vol Hoop is ook bedoel om ’n handvatsel te wees vir die situasie waarin mense hulle tans bevind.  Mense is soms onseker en daar word dikwels aan ons gevra: ‘Wat moet ek gee?’ Houers VOL Hoop is iets wat gegee kan word en die inhoud is wat benodig word.  Ondersteuners kan een aankoop en sodoende reg gee; hulle kan nood aanspreek en sodoende hoop skep,” sluit Noëth af.

Die VF Plus het die voortou geneem en die eerste bydrae gemaak deur R50 000 te skenk om Houers VOL Hoop aan te koop.  Noëth het die party vir die ruim skenking bedank.

So kan jy help:

Koop ’n Houer VOL Hoop vir R350 en help om tydens die Covid-19-pandemie hongersnood by behoeftige en weerlose gesinne te verlig.  Besoek www.houersvolhoop.co.za om ’n houer aan te koop.

Hier volg die inhoud van elke Houer VOL Hoop:

ItemAantal
12,5 kg mieliemeel1
2 kg rys1
Macaroni2
200 pak-teesakkies1
500 g Cremora1
Soja (bees)1
Soja (hoender)1
Geblikte uie en tamatie2
Boeliebief1
Geblikte bone1
Soppoeier2
750 mℓ olie1
500 g sout1
900 g konfyt1
Tandepasta1
9 rolle toiletpapier1
Sunlight Skottelgoedseep1
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.