‘Huis van drome’ binnekort ʼn realiteit vir Pta-kinderhuis

Willem Engelbrecht en Jo Black gesels tydens die sakeontbyt oor die Huis van Drome-projek. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die rasperstemsanger Jo Black en sy broer, Willem Engelbrecht, stigters van die Be That Guy-organisasie, het Donderdag tydens ʼn sakeontbyt in Pretoria gesê hulle wil graag ʼn wesenlike verskil in die lewens van jong mense in Suid-Afrika maak.

Daarom het hulle saam met die eiendomsgroep Just Imagine Properties en dié groep se liefdadigheidsafdeling in die Pretoriase Moot, Just Imagine Dream Team, asook die Afrikaanse Toekomstrust (ATTSA) hande gevat om ʼn huis vir skoolverlaters van die President Kruger-kinderhuis in Pretoria op die been te bring.

Renier du Preez en Anton Smith, voorsitter van die ATTSA, Werner van Deventer van Just Imagine Properties en Kobus Vorster, wat al 23 jaar by die kinderhuis werksaam is, was almal sprekers tydens die sakeontbyt.

Smith het Donderdag beklemtoon dat die ATTSA glo in mense wat instaan vir dié wat niemand anders het nie.

“Kinderhuiskinders is afhanklik van jou en my om te oorleef. Die Huis van Drome verander afhanklike jong volwassenes in onafhanklike individuele wat kan fokus op student-wees en hulle toekoms verseker,” het Smith gesê.

“Ons koester die mooiste toekomsdrome vir ons kinders by die kinderhuis en wil hulle help om hulle voete in die grootmenswêreld te vind,” het Vorster bygevoeg.

Die sakeontbyt het ten doel gehad om die projek aan belanghebbendes bekend te stel wat in samewerking met dié organisasies die projek met ʼn volhoubare inkomste kan finansier.

Hoewel die huis deur die ATTSA aangekoop gaan word, sal daar maandeliks oorhoofse bedryfskoste wees soos onder meer krag- en waterrekeninge, maaltye, ʼn voertuig, die verblyf van huisouers, internettoegang en universiteitskostes wat gedek moet word.

Die sogenaamde Huis van Drome-projek is van stapel gestuur as lanseerplatform om jong mense toe te rus om ʼn sukses van hul lewens te maak en hulle ʼn geleentheid te bied wat kinderhuiskinders wat matrikuleer nie noodwendig beskore is nie.

Jo Black deel sy passie vir die Huis van Drome-projek op die sakeontbyt in Pretoria. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die Huis van Drome bied ʼn heenkome vir dié jong mense wat opleiding in hul onderskeie loopbane moet begin, maar wat nie ouers of familielede het wat hulle kan help deur die geskikte omgewing en geleenthede te bied nie.

Die huis kan vir ses tot agt jong mense ʼn naskoolse oorbruggingsgeleentheid bied vanwaar hulle kan studeer, ʼn internskap doen en selfs aansoek doen vir ʼn bestuurslisensie.

Dié huis, wat reeds geïdentifiseer is en binnekort in die Pretoriase Moot gestalte sal kry, is spesifiek ʼn heenkome vir kinders wat op 18-jarige ouderdom ʼn heenkome moet vind nadat hulle gematrikuleer het en die President Kruger-kinderhuis moet verlaat.

Die huis is sowat vier kilometer van die kinderhuis geleë en die kinderhuis het onderneem om intussen ook dié skoolverlaters van onder meer klere en een ete per dag te voorsien.

“Dit is ons passie om die opdrag in die Bybel uit te voer, naamlik om om te sien na die wees en die weduwees,” het Engelbrecht tydens die ontbyt gesê.

“Ons kan deur en deur die vrug daarvan sien wanneer ander inkoop in die werk wat ons doen.”

As jy betrokke wil raak of meer inligting wil hê oor die projek, stuur ʼn e-pos na [email protected] of bel Annchen by 082 561 6555 of Elanie by 083 446 8082.

Klereskenkings kan direk by die President Kruger-kinderhuis afgelaai word by 31ste Laan 728, Villieria, Pretoria. Enige ander hulp vir die kinderhuis kan met Alex Botha bespreek word by 012 332 1367.

Just Imagine Properties tesame met President Kruger Kinderhuis, ATT, Jo Black en Willem Engelbrecht

Posted by Hennie-Elanie Van Niekerk on Friday, January 28, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.