Huishulp begin besigheid om kinders universiteit toe te stuur

Grace Msyali met die eiers wat sy aflewer vir haar besigheid. Foto: Verskaf

Grace Msyali met die eiers wat sy aflewer vir haar besigheid. Foto: Verskaf

Waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg, lui die Afrikaanse spreekwoord. Grace Msyali is ʼn sprekende voorbeeld hiervan na dié huishulp ʼn onderneming op die been gebring het om haar drie kinders skool toe en uiteindelik ook universiteit toe te stuur.

Msyali werk haar lewe lank as huishulp in Kaapstad. Ná sy haar eersteling in 2008 gehad het, het sy besef sy moet ʼn ander inkomste kry om  te verseker haar kinders ontvang die beste geleerdheid.

“Ek het besef as ek die kinders in die lewe kon bring, kan ek vir hulle sorg ook. God het die kinders vir my as geskenk gegee en verwag van my om na hulle om te sien,” vertel sy.

Sy het die onderneming Amazing Grace Gourmet op die been gebring, wat eiers vir kliënte aflewer in Kaapstad. Die idee agter dié naam dra ʼn diep betekenis. “Grace verwys natuurlik na my naam, maar ook na die genade van die Here. Ek het ook die naam gekies omdat ek nie altyd wil eiers aflewer nie, maar die onderneming wil uitbrei na iets wat volhoubaar is vir my kinders.”

Grace is steeds ʼn huishulp omdat die onderneming nog nie genoeg uitgebrei het sodat sy voltyds in die onderneming kan werk nie. “Daar is baie ruimte vir verbetering, maar mense ondersteun my geweldig baie.”

Sy beplan om die onderneming uit te brei wanneer sy voltyds daarby betrokke kan wees. “Ek het besef as ek nie nou begin om te beplan vir my kinders se toekoms nie, daar nie ʼn toekoms gaan wees nie. Wanneer die tyd reg is, sal die besigheid ook groei.”

Haar jongste kind, wat vanjaar sewe jaar oud is sal die geleentheid hê om skool te gaan as gevolg van sy ma se inisiatief. “God het die kinders vir my gegee. Ek wil my deel doen en ook vir hulle kan sorg.”

Grace lewer tans af in en rondom Kaapstad. Bel haar by 076 477 9311 of besoek haar Facebook-blad Amazing Grace Gourmet of webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lenie ·

Wel gedaan vrou. Ek is seker daarvan jy gaan honderde inspireer. Ek wens jou all sukses toe.

Lucia ·

Pragtig, sterkte vir jou Grace. Daar is sovele mense wat nie wil probeer. Hulle gaan sit eerder in sak en as. Jy sal een dag die vrugte pluk.

Madelize ·

Grace baie geluk jong.Ek glo met jou mooi geloof in Jesus sal jy nog ver vorder.Mag Hy al jou drome bewaarheid.Ons land kort meer mense soos jy.Sterkte vir jou pad vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.