Huisverbeterings hoef jou nie oud te maak nie

Foto: Pixabay

Die meeste verbruikers wat al huisverbeterings laat doen het, sal ʼn hele paar staaltjies kan vertel oor alles wat verkeerd kan loop, van waterpype wat beskadig word tot werk wat nie betyds voltooi word nie. Bouers wat aan nuwe huise werk, moet by die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC) geregistreer wees, maar ʼn bouer wat net verbeterings aan ʼn bestaande huis doen, hoef nie te reigstreer nie. Ina Opperman verduidelik hoe jy jouself kan beskerm teen bouers wat verbeterings by jou huis doen.

Wanneer mens ʼn bouer aanstel om werk by jou huis te doen, begewe jy jou inderdaad in ʼn veld vol landmyne. Ek weet die goeie ouens daar buite sal my wil stenig as ek dit sê, maar net soos hulle nie ʼn messelaar sal aanstel wat nie kan messel nie, moet verbruikers weet hoe om hulle teen gewetenlose mense te beskerm wannneer hulle hul swaarverdiende geld bestee.

Die NHBRC

Die nasionale registrasieraad van huisbouers (NHBRC) is ʼn statutêre liggaam wat gestig is involge die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers, om die belange van behuisingsverbruikers te beskerm en voldoening aan die gereguleerde boubedryfstandaarde te verseker. Die Wet vereis dat almal wat huise bou, by die raad moet registreer. Die raad sertifiseer bouers wat voldoen aan die bedryfsvereistes vir tegniese, konstruksie en finansiële vaardighede. Die raad het egter net jurisdiksie oor nuwe huise en nie huisverbeterings of aanbouings nie.

Meesterbouerverenigings

Lidmaatskap van Meesterbouervereigings is vrywillig en lede word gedissiplineer deur skorsing of boetes.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Verbruikers kan die Wet gebruik om hul regte uit te oefen wanneer huisverbeterings skeefloop en kla by die provinsiale verbruikerskantore of die Nasionale Verbruikerskommissie.

Die Wet beskerm jou reeds wanneer jy ʼn ooreenkoms sluit om huisverbeterings te doen. Volgens artikels 48 en 49 mag die bouer nie ʼn onregverdige prys vra of voorwaardes insluit wat onregverdig, onbillik of onredelik is nie. Verbruikers moet egter onthou ʼn prys is nie noodwendig onredelik omdat dit hoër is as die prys wat iemand anders vra nie.

Die kontrakteur mag nie vereis dat jy ʼn ooreenkoms onderteken waarin:

  • jy jou regte in terme van die Wet opgee nie.
  • jy hom vrystel van enige verantwoordelikheid vir jou en jou familie en vriende se skade, dood of beserings nie.
  • hy sy aanspreeklikheid beperk nie. Hy is verantwoordelik vir swak werk wat sy werkers en subkontrakteurs verrig.
  • voorwaardes voorkom wat onredelik, onregverdig en onbillik is nie. Kyk na die lys onregverdige voorwaardes in regulasie 44 van die Wet voordat jy teken.
  • jou wettige regte tot billike vergoeding as die bouer nie sy werk doen nie, beperk of verwyder word. Dit sluit jou reg in om betaling te weerhou indien jy ʼn eis teen die kontrakteur het. As jy geld terughou omdat jy ontevrede is met die werk, mag die kontrakteur ook nie boumateriaal waarvoor jy betaal het, verwyder nie.
  • die tydperk waarin jy kan kla voordat die klagte verval, verkort word nie.
  • jy gedwing word om verantwoordelikheid te aanvaar vir materiaal van swak gehalte nie, tensy jy dit self koop.
  • die kontrakteur kan kanselleer net wanneer hy wil, maar jy kry nie dieselfde reg nie.

Die kontrakteur mag ook nie die voorwaardes van die ooreenkoms of die aard van die materiaal wat hy gebruik verander sonder om jou eers die keuse te gee om die ooreenkoms te kanselleer nie. Hy mag ook nie op sy eie besluit of die materiaal wat hy gebruik en die werk wat gedoen is aan die ooreenkoms voldoen nie.

Ooreenkomste moet in gewone en verstaanbare taal wees en geen fynskrif word toegelaat nie. Die Wet beskerm jou ook teen dinge waaroor verbruikers wat huisverbeterings laat doen, die meeste kla:

  • Hulle betaal op die ou end meer as die prys wat gekwoteer is. Volgens die Wet kan die kontrakteur nie die prys verhoog sonder om jou die geleentheid te gee om die ooreenkoms te kanselleer nie.
  • Die werk word nie betyds voltooi nie. Volgens artikel 54 van die Wet het jy die reg om te verwag dat die werk voltooi word binne ʼn redelike tyd en indien dit nie moontlik is nie, moet die kontrakteur jou betyds laat weet as daar ʼn vertraging is.
  • Die kontrakteur gebruik swak boumateriaal. Volgens artikel 54 moet die kontrakteur werk van goeie gehalte doen en materiaal gebruik wat nie defekte het nie.
  • Jou erf lyk soos ʼn rommelhoop wanneer die bouwerk klaar is. Artikel 54 bepaal ook dat die erf ten minste in dieselfde toestand moet wees waarin dit was voordat die werk begin het.

Indien jy nie tevrede is dat die werk volgens die standaarde van artikel 55 voltooi is nie, kan jy van die kontrakteur verwag om enige probleme reg te maak of jou ʼn billike gedeelte van die geld wat jy betaal het, terug te gee. Volgens artikel 56 is daar ʼn versweë waarborg dat die werk aan artikel 55 voldoen.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kontrakteurs wat huisverbeterings doen.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.