Hulp aan radiostasies ná plundery

GROOTfm 90.5 het intussen ʼn besoek by Alex FM afgelê en R10 000 aan Takalani Nemangawe, die stasiebestuurder geskenk. (Foto: Verskaf)

Twee gemeenskapsradiostasies in Gauteng was die afgelope week tydelik van die lug nadat plunderaars hul eiendom beskadig en van hul toerusting gesteel het.

Maroela Media het vroeër berig dat die gemeenskapsradiostasie Alex FM se stem verlede week stilgemaak is toe plunderaars verlede Dinsdag in die vroeë oggendure miljoene rande se toerusting by dié bekende plaaslike stasie in Alexandra in Johannesburg gesteel het.

Mams Radio 92.9, wat in Mamelodi in die noorde van Pretoria geleë is, het ook onder plundertogte deurgeloop. Die stasie se ateljee is tot so ʼn mate beskadig dat omroepers in ʼn stadium in ander ateljees moet uitsaai.

Verskeie gemeenskapsradiostasies en organisasies het sedertdien ʼn hand uitgesteek en hulp aan dié stasies verleen.

“Dit is maklik om te sê: ‘Ek gaan nie bou nie, want ek het nie gebreek nie.’ Maar ek en jy het ʼn verantwoordelikheid teenoor ons naaste, maar bo alles teenoor ons hemelse Vader. Die vraag moet wees, nie ‘of’ ek gaan help nie, maar ‘hoe’.”

GROOTfm 90.5 se span meen die afgelope week se landwye plundertogte was ʼn herinnering dat lewens en besittings verganklik is. Hulle wens Alex FM en Mams Radio se omroepers en ander personeel sterkte toe met die opbouproses van hul ateljees.

Alex FM het GROOTfm 90.5 op Twitter vir hul ondersteuning bedank:

Deirdre King, Jacaranda FM se besturende direkteur, het in ʼn brief gesê dit maak nie saak hoe mense op die afgelope week se gebeure reageer nie – daar is steeds ʼn geleentheid om ʼn verskil te maak.

“Ons het ʼn enorme geleentheid vir gemeenskapsbou en moet dit gebruik om die verhaal van hoop waarop ons demokrasie gebou is, te herskep,” meen King.

Jacaranda FM het in samewerking met ander radiostasies noodsaaklike toerusting en tegniese kundigheid verskaf om seker te maak dat Alex FM en Mams Radio 92.9 so gou moontlik weer op die lug is.

“Hierdie gemeenskapsradiostasies is reddingsboeie in hul betrokke gemeenskappe. Deel daarvan om ʼn gemeenskap te herbou is om mededeelsaam te wees,” sê sy. Lees King se volledige brief op Jacaranda FM se webwerf.

Intussen berig Good Things Guy dat Primedia Broadcasting en CliffCentral ook tot Alex FM se redding gekom het.

Primedia het ingewillig om toerusting te skenk en tegniese en ingenieursvaardighede beskikbaar te stel om die stasie se ateljees te herstel, terwyl CliffCentral van sy ateljees as tydelike uitsaairuimtes vir Alex FM aangebied het.

GROOTfm 90.5 oorhandig R40 000 aan Sam Mfaladi van Mams Radio. (Foto: Verskaf)

Mams Radio kon op 20 Julie weer sy ontbytprogram uitsaai en gebruik tyd en wyl Boston Media House se ateljees, wat in samewerking met Jacaranda FM en Tuks FM gereël is.

Die stasie is dankbaar vir die ondersteuning wat hy tot dusver ontvang het en het die volgende boodskap in ʼn Facebook-plasing geskryf: “Mams Radio wil die publiek bedank vir hul ondersteuning, hartlike boodskappe en ruim donasies. Ons wil ook vir GrootFM, Titans Cricket Club, Thot Box en NCRF dankie sê vir hul ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gawie

En wat van LM Radio? Hulle het dieselfde dag nog hulle ateljees beskikbaar gestel vir AlexFM om
vanaf uit te saai. Hoekom word hulle nie genoem nie? Hulle naam kruip darem so effe uit agter die mense op die foto, maar hullle word nêrens in die berig genoem nie.