Hulp en lof vir boeties wat ver stap vir hond

Peter, Gerry en Meisie (Foto: Verskaf)

Die twee boeties wat verlede week kilometers ver gestap het om behandeling vir hul siek hond te kry, is vandeesweek as ambassadeurs van die Dierewelsynsvereniging in Philippi, Kaapstad, aangewys.

Volgens Allan Perrins, uitvoerende hoof van die vereniging, is Peter (14) en Gerry (8) Cedras “voorwaar rolmodelle” nadat die twee boeties vier uur gestap het oor ’n afstand wat per motor tien minute sal neem, op pad na dié tak van die dierevereniging – met die stewige Meisie wat 20 kg weeg in hul arms.

Gerry het dié tog kaalvoet aangepak. Perrins erken dat daar baie kinders is wat hul siek troeteldiere na die vereniging bring, maar sê dat dié twee seuns ’n uitsondering is en juis daarom as ambassadeurs gekroon is. “Hulle is twee besonderse seuns.”

Volgens Perrins is dit hul goedhartigheid en omgee wat hul geval anders maak. Hy erken dat dit ook hul armoedige omstandighede is wat die boeties juis so inspirerend maak.

Peter en Gerry, Dierewelsynsvereniging-ambassadeurs. (Foto: Facebook)

Die boeties woon saam met hul ouers op ’n grasplaas in die Philippi-omgewing. Hy vertel dat die gesin finansieel sukkel en snags saam op een driekwartmatras in hul klein gehawende huisie op die plaas slaap.

Ondersteuning stroom egter in nadat daar oor hulle in die media berig is. Perrins vertel dat die Cedras-boeties reeds geweldig baie kos, klere en skoene ontvang het. Hy vertel verder dat die twee baie opgewonde is oor die skielike aandag wat hulle ná hul heldedaad ontvang. “Ek glo nie hulle het al ooit in hul lewe iets gekry nie.”

Die boeties gaan ook volgende week met ’n fiets elk verras word, sodat hulle nooit weer so ver na die dierevereniging hoef te stap nie.

Volgens Perrins het talle mense belowe om by te dra om die boeties en Meisie se omstandighede te verbeter. Hy moedig almal aan om hul beloftes na te kom en die gesin te help. Die plan is om die Cedras-huis met meubels, onder meer ’n klerekas, toe te rus en vir Meisie kos te koop.

Volgens Perrins gaan dit goed met Meisie nadat sy dodelik siek was met bosluiskoors. Hy is aangenaam verras met Meisie se vordering. “Sy lyk soos ’n ander hond.”

Meisie (Foto: Verskaf)

Perrins vertel dat die Dierewelsynsvereniging al 89 jaar bestaan en nog nooit ’n siek dier weggewys het nie. Die vereniging wil deur hul ambassadeurs se storie ook ander desperate diereliefhebbers aanmoedig om hul siek diere te bring, al kan hulle nie mediese behandeling bekostig nie. “Ons wil nie hê diere moet ly nie, ons sal ’n plan maak.”

Perrins wil ook hê die boeties moet die vrymoedigheid hê om gereeld by die vereniging te kom kuier en met die diere te speel. “Hulle is altyd welkom, hulle is immers ons ambassadeurs.”

Besoek gerus die Dieresorgvereniging in Philippi se Facebookblad vir meer inligting oor hulpverlening en skenkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rene ·

Dit is die mooiste storie ooit!!!!! Dankie vir die nuus. Meisie lyk sommer baie beter !

Pik ‘n Traan ·

Meisie lyk soooo beautiful! En ek is weer van voor af verbaas oor die 2 kleintjied wat nie toelaatbdat omstandighede hulle toekoms bepaal nie.

Theresa B ·

Wonderlike storie. So mooi. Mag julle twee boeties baie seeninge ontvang. Daar is baie volwassenes wat by julle 2 kan leer. Wel gedaan. Meisie sal julle met haar lewe beskerm. Sy weet wat julle vir haar gedoen het.

Landi ·

Wat n pragtige voorbeeld vir baie mense. Om op so n jong ouderdom in sulke omstandighede soveel om te gee vir jou troeteldier is wonderlik. Ek is so bly die seuns word baie bederf en sommer hulle woef ook.

mooi so ·

‘Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed. ‘

SPREUKE 12:10

mooi so ·

n goeie daad wat nou met goed beloon word. veels geluk seuns. God is met julle.

madels ·

Dit is voorwaar n pragtige storie. Mag die Here hulle seen vir hul liefde vir diere…

joanie ·

Dit is die ongelooflikste mooiste storie. Meisie is pragtig en ek is baie bly sy is nou gesond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.