Hulplyn kry hupstoot in stryd teen geslagsgebaseerde geweld

Mara Glennie, stigter en direkteur van die Tears-stigting, en Carl van der Riet, Avbob se uitvoerende hoof, by die amptelike aankondiging van Avbob se borgskap van die Tears-stigting se gratis USSD-hulplyn (*134*7355#). (Foto: Verskaf.)

Avbob het die borgskap van die Tears-stigting se gratis USSD-hulplyn (*134*7355#) oorgeneem in ʼn verdere stap in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. Dit vorm deel van die onderlinge genootskap se veldtog genaamd 365+ wat onlangs van stapel gestuur is.

Die begrafnis-en-versekeringsdiensgroep het dié veldtog verlede maand afgeskop deur ʼn gesamentlike bedrag van R210 000 aan sewe nieregeringsorganisasies (NRO’s) oor die hele land, wat betrokke is by die bestryding van geslagsgebaseerde geweld, te skenk.

Carl van der Riet, Avbob se uitvoerende hoof, beskryf die simboliek van 365+ as deel van die groep se verbintenis tot die stryd teen geslagsgebaseerde geweld soos volg: “Ons pogings met dié veldtog strek verder as nét geldskenkings, naamlik om bewustheid van geslagsgebaseerde geweld te bevorder en mense in staat te stel om op elkeen van die 365 dae per jaar daaroor te praat.”

Hierdie verbintenis word nou versterk deur Avbob se borgskap van dié hulplyn, wat vir ʼn aanvanklike tydperk van een jaar sal duur. Tears het ʼn stewige teenwoordigheid in Suid-Afrika en het in die afgelope 12 maande 57 318 slagoffers van seksuele geweld gehelp deur hul gratis 24 uur lange hulplynplatform.

In Suid-Afrika word een uit elke drie vroue in hul leeftyd deur fisieke en seksuele geweld en mishandeling geraak.

“Die Covid-19-pandemie saai verwoesting in ons samelewing en ekonomie en die staat van inperking het ʼn dramatiese uitwerking op heelwat lewens. Maar te midde van al hierdie trauma en die omwenteling wat dit veroorsaak, is daar nóg ʼn pandemie wat ons samelewing al jare lank teister en wat sy lelike kop nou weer uitsteek. Dít is die pandemie van geslagsgebaseerde geweld,” sê Van der Riet.

“Die vennootskap met die Tears-stigting is baie belangrik vir Avbob, wat reeds langer as 100 jaar sy gemeenskappe en families dien. Een van ons kernwaardes binne die onderneming is die waarde van familie. Ons is erg oor hierdie beginsel, en een van die onderdele daarvan is dat ons almal saamstaan, niemand word uitgesluit nie. Die kwessies wat een familielid raak, raak die hele familie. Daarom berus die verpligting op elke familielid om deel van die oplossing te wees.”

Van der Riet sê dit is almal se verantwoordelikheid om, veral te midde van die viering van Vrouemaand, ʼn standpunt in te neem teen geweld teen vroue en kinders.

“Al die enkelinge en organisasies wat nou met die slagoffers van hierdie gruwel saamwerk, weet dat die geweld teen ons vroue en kinders nie met die daad eindig nie. Dit duur voort wanneer hulle probeer om dié mishandeling aan te meld en hulle dan verkleineer of geïgnoreer word. Hierdie houding sal voortduur solank ons staan en toekyk en niks daaraan doen nie.

“Avbob wil ʼn einde hieraan bring. Ons staan langs die grafte saam met families en sien die hartseer, woede en pyn van gesinne wat hul dogters, susters en ma’s weens hierdie afgryse verloor het.”

Mara Glennie, stigterslid en direkteur van Tears, het dié vennootskap met Avbob verwelkom. “Ons sê dankie vir die vennootskap en hoop om só selfs meer ondersteuning te bied aan diegene in ons gemeenskappe wie se lewe deur geslagsgebaseerde geweld geraak is. Saam kan ons ʼn verskil maak.

“Avbob se slagspreuk, ‘Ons is hier vir jou’, beklemtoon ook dít wat ons by Tears glo. Dit is vir Tears ʼn riem onder die hart om te weet dat ons hierdie moeilike pad saam met Avbob kan aandurf.”

Die Tears-stigting word deur vroue gelei wat hulle vir die bekamping van seksuele geweld beywer en landwyd ondersteuning aan slagoffers van verkragting en mishandeling bied. Die organisasie staan reeds agt jaar lank aan die voorpunt van die plaaslike reaksie teen seksuele geweld.

Tears bied hulp deur ʼn 24 uur lange gratis USSD-diens (*134*7355#) aan enigiemand wat toegang tot ʼn selfoon het, ongeag ras, geloof, kultuur of sosio-ekonomiese agtergrond of plek van afkoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.