Hy draf sodat ander kan Bybel lees

Douw Prinsloo nadat hy die Comrades-wedloop voltooi het (Foto: Verskaf)

Douw Prinsloo nadat hy die Comrades-wedloop voltooi het (Foto: Verskaf)

Hy wou net vir ʼn slag van die sofa af opstaan, vertel Douw Prinsloo van Gauteng, maar het intussen meer as R17 000 vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika ingesamel deur padwedlope te voltooi vir dié organisasie.

Douw het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hy het sedert hy begin draf het, byna 200 wedlope suksesvol voltooi en meer as 6 400 km afgelê.

Dié kranige drawwer het onlangs begin geld insamel vir die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

“Ek het self ʼn hele kas vol Bybels, en nadat ek die eerste keer ʼn ekspo van dié organisasie bygewoon en besef het daar is soveel mense sonder Bybels, het dit my hart aangeraak. Ek het geweet ek wou betrokke raak om te probeer help,” het hy vertel.

Hy het vanjaar vir die derde keer die Comrades-wedloop voltooi en ook dié wedloop gebruik om mense uit te daag om geld te skenk vir die genootskap. Verskeie vriende, familielede en weldoeners het Douw se Run4BibleRands ondersteun en meer as R10 000 is ingesamel voor die wedloop nog begin het. Die Eagle Wing Spur in die Wingtip-inkopiesentrum in Montana, Pretoria het ook R2 750 geskenk.

Hy het die Comrades-marathon saam met sy vriendin Cornelia Hutchinson gehardloop. “My mond hang oop daaroor. Ons het verwag dat ons iets soos R3 000 kon insamel, maar mense wou selfs ná die wedloop verder betrokke raak,” het hy bygevoeg.

Douw vertel ook sy eie lewe is verander. Hy het in die proses meer as 53 kg afgeskud. “Ek het op ʼn dag besluit ek wil my lewe verander. Dit kon nie so aangaan nie. Ek het toe begin draf, en pluk nog al die pad die vrugte.”

Al die geld wat met dié wedloop en ander wedlope ingesamel is, is intussen aangewend om Bybels vir minderbevoorregtes aan te skaf.

Marina Stebbing van die Bybelgenootskap sê dié organisasie se Aktief vir Bybels-projek het verskeie afdelings soos Stap vir Bybels en Trap vir Bybels wat mense kan gebruik om geld in te samel.

Dit kos ongeveer R45 vir ʼn sagteband-Bybel, en die genootskap subsidieer die ekstra koste wat betrokke is in die drukproses van die Bybels. Ongeveer 380 Bybels kon versprei word met die geld wat Douw en Cornelia ingesamel het.

“Dit is vir ons belangrik om die Woord van die Here te versprei, daarom waardeer ons dit wanneer mense by die projekte betrokke raak,” het Stebbing vertel.

Douw beplan ook om verder geld vir dié doel in te samel. “My geloof is vir my baie belangrik, en ek doen dit as ʼn geloofsdaad. Alles is genade, en solank ek dit kan doen, gaan ek iets vir iemand anders probeer beteken,” het hy bygevoeg.

Besoek Douw se webwerf vir meer inligting. Besoek ook die Bybelgenootskap se webwerf om uit te vind hoe om betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cornelia ·

As Douw maar net besef het wat gaan kom toe hy daardie dag van die sofa af opgestaan het! Nou is hy ‘n aansporing vir menige mense om ook van die sofa af op te staan en aktief te raak. Dit is vir my ‘n voorreg om deel te wees van Douw se voortdurende Run4BibleRands projek en om vir meer as net my eie gesondheid en genot te hardloop.

Douw Prinsloo ·

Cornelia, jy is reg, ek het nie geweet nie, maar ek is bly ek het daardie eerste stap geneem, want as ek dit nie gedoen het nie, dink net hoe anders sou my lewe vandag gewees het…? Feit is, hardloop het my een van die “rykste” mense op aarde gemaak – die vriendskappe, die wedlope, ervarings, en soos el altyd sê, dit gaan oor “Making Miles and Moments Count” ! Hardloop vir Bybels is voorwaar iets wat mens baie anders laat dink oor wat jy doen – elke tree kry skielik betekenis en waarde. Dit is vir my ‘n voorreg om jou aan boord te hê saam met my, en saam met jou tree vir tree en kilometer vir kilometer by te dra vir Bybelverspreiding. Ek hoop ander atlete sal in die toekoms hande vat met ons en ook begin hardloop vir Bybels.

Helga ·

Hy is ‘n inspirasie vir ons almal. Mag die Liewe Heer hom nog tot grooter dinge instaad stel en dat hy nog meer mense kan aanspoor en help op sy pad. Ek is bly om hom te kon ontmoet het en Saterdae op die “races” sien. Staan sterk en moet nooit op hou hardloop vir Jesus nie.

Douw Prinsloo ·

Dankie vir die mooi woorde Helga. Dis altyd lekker om al die bekendes op die pad te sien. Ons is so geseënd om te kan hardloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.