Hykie Berg klim berg vir godsdiens in skole

Hykie-Berg-vir-godsdiens-in-skole-02

Hykie Berg gaan saam met Jacobsdal Primêre Skool en AfriForum teen die Drakensberge uitstap ter behou van godsdiens in skole. Foto: Verskaf.

AfriForum het vanoggend saam met die akteur Hykie Berg en Jacobsdal Primêre Skool in die Vrystaat op ʼn twee dae lange staptoer in die Drakensberge vertrek vir die bewusmaking oor die behoud van godsdiens in skole.

Die doel van dié staptoer is om die belangrikheid van godsdiens in skole opnuut te beklemtoon.  Die staptoer dien ook as ʼn ondersteuningsbeweging vir die ses skole wat weens hul godsdiensbeleid voor die hof gedaag is en tot wie se regskostes AfriForum tot op hede al meer as R2 miljoen bygedra het. Dié skole is Laerskool Randhart, Laerskool Garsfontein, Laerskool Baanbreker, Hoërskool Oudtshoorn, Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Linden.

Jacobsdal Primêre Skool gaan hul sewe Jakkies-waardes na Mont-aux-Sources saamneem en AfriForum gaan ʼn vlag vir die saak oprig. Die skool daag ander skole uit om hul eie projekte aan te pak om te wys hoe belangrik godsdiens en veral Christenskap, in hul skole is.

Die staptoer kan op AfriForum se web- of Facebook-blad gevolg word, asook op die “Hou God in skole”-blad op Facebook.

Die vennote wat die staptoer aanbied, sluit onder meer AfriForum, Hope in Action, attooh!, Real Women for God en Random Moments of Faith in.

“Dit is wonderlik dat skole soos Jacobsdal Primêre Skool hierdie inisiatief geneem het en dat ons met dié staptoer weer opnuut bewusmaking kan skep oor die saak,” meen Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat skole se godsdiensbeleid niemand dwing om aan skolegodsdiens deel te neem nie. “Dit is daarom jammer dat daar nou pogings is om diegene wat wel aan godsdiensbeoefening wil deelneem, te verbied om dit te doen.”

  • Enigiemand wat die projek wil ondersteun en R10 tot die regskostes wil bydra, kan BERG en hul naam na 38313 SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stefan Malan ·

Géén godsdiensbeoefening, as ‘n nie-kurrikulêre aktiwiteit, moet gedurende amptelike skoolure in openbare skole toegelaat word nie. Dit is ‘n drogredenasie om dit onder die dekmantel van ‘niemand word gedwing om daaraan deel te neem’, te bedryf nie. Geloofsindoktrinasie hoort tuis en by die onderskeie geloofsgenootskappe wat hulle eiesoortige sienings op hulle eiesoortige wyses verkondig.

Jo-anlie ·

Baie dankie aan alnal wat vir die behoud van ons Godsdiens in skole baklei. Julle is engele. Sonder God sal niks regkom nie. Ek salueer julle.

Ludwig ·

Bring terug die godsdiensoefening op skool, en saam daarmee die onderwyser se reg om issipline toe te pas. Ook die ses van die bestes, dit het altyd gewerk. Kyk hoe gedissiplineerd is ons ouer geslag wat dit beleef het. Ons ouers het ons ook gedissiplineer, maar vandag is die kind mos baas.

Peet Schabort ·

Om godsdiens uit die skole te verban is deel van die kommunistiese ideologie. Hopende en wetende dat daar (dalk) ook in die ouerhuis ‘n vatplek sal wees vir kerkloosheid of kerklosheid. Die ideale broeiplek vir losbandigheid soos alreeds te bespeur is in sommige skole.

Disselboom ·

Dalk eerder die energie, tyd en geld in CVO-skole begin instoot waar die staat se seggenskap darem minder is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.