iALA-brugjaar: Hier is die wenner

Konrad du Plooy (Foto: Heinrich Kirstein/Verskaf)

Konrad du Plooy, ʼn matrikulant van Heidelberg in Gauteng, is aangewys as die wenner van ʼn brugjaar by iALA.

Talle matrikulante kry ʼn beklemmende gevoel in die bors as hulle net dink aan die jaar ná skool: hulle is onseker of hulle moet gaan studeer, wat hulle wil studeer, wat hulle met hul lewens wil doen en wat hulle een dag wil word.

Om hierdie rede is ʼn oorbruggingsjaar vir baie matrikulante ʼn goeie opsie – ʼn jaar waartydens jy van jou eksamenstres kan vergeet en al jou aandag daaraan kan gee om te besin oor wat jy met die res van jou lewe wil doen.

Die iALA (Internasionale Akademie vir Leierskap deur Avontuur)-oorbruggingsjaar kyk egter heel anders na dié belangrike tyd van jou lewe. Met dié avontuurjaar gaan jy jouself leer ken soos nog nooit vantevore nie en jy gaan sien waartoe jy werklik in staat is. Jy gaan na dié jaar presies weet wat jy met jou lewe wil doen.

Jan Heenop, direkteur van iALA, sê matrikulante se grootste probleem is dat hulle nie weet wat hulle nie weet nie – en daarom bied dié avontuurjaar al die antwoorde op jou vrae. Jan verduidelik die iALA-brugjaar steun ook sterk op twee beginsels: ʼn waardesisteem gebou op respek, dissipline en verantwoordbaarheid en ʼn X-Ten-geloofsbasis waar jy jou potensiaal ontdek deur jou werklikhede te pak.

Maroela Media en iALA het vanjaar een Maroela-leser, wat vanjaar in matriek is, die geleentheid gebied om ʼn brugjaar ter waarde van R115 000 te wen. Die enigste vereiste was dat die matrikulant die brugjaar regtig nodig moet hê, om watter rede ook al.

“Ek het nooit gedink ek sou die brugjaar wen nie! Ek is sonder woorde,” sê Konrad aan Maroela Media, en dis duidelik dat hy baie dankbaar is vir dié besonderse geleentheid wat oor sy pad gekom het.

Konrad du Plooy (Foto verskaf)

Konrad het hoofsaaklik in pleegsorg grootgeword. “Agtien jaar lank tref my lewe slaggat ná slaggat,” het hy in sy inskrywing geskryf. “Om in 300 woorde te beskryf hoekom ek ʼn kans moet staan om hierdie prys te wen is ʼn struikelblok op sy eie. Helfte van my lewe is op hierdie papier, as jy belang stel in die ander helfte, kies my.”

En dit wat Konrad geskryf het, het reeds Jan se hart aangegryp.

Konrad was baie onseker wat hy volgende jaar sou doen. “Ek het nog glad nie ʼn idee wat ek wil word of wat ek (uiteindelik) wil gaan studeer nie,” sê hy.

Dié 18-jarige speel skaak vir sy skool en spog met ʼn plek in sy skool se tweede krieketspan. Wiskundige geletterdheid is sy gunstelingvak op skool. Hy werk oor naweke by ʼn trouvenue vir ekstra sakgeld en in sy vryetyd speel hy graag kitaar.

Volgens hom sien hy die meeste uit na die avontuur wat iALA bied. “Ek sien al klaar uit na die Visrivier-staptog en skubaduik!” en dit is duidelik dat hy nie ʼn banghaar op sy kop het nie – hy stel baie belang in parkour, die sport waar mense teen mure hardloop en tussen geboue spring.

Hoekom moet jy só brugjaar oorweeg?

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

Buiten die pret en avontuur bied iALA ook aanlegtoetse wat die jongmense help om te bepaal waarvoor hulle aangelê is. Só voorkom jy dat jy geld mors om iets te gaan studeer waarvoor jy nie aangelê is nie.

Tydens dié avontuurjaar leer die jongmense ook praktiese lewensvaardighede: van hoe om ʼn begroting saam te stel en dit te bestuur, hoe om ʼn hemp te stryk, hoe om ʼn bed behoorlik op te maak, hoe om ʼn knoop aan te werk, ʼn das te knoop tot selfs hoe om wasgoed en skottelgoed te was.

Jan sê iALA wil hierdie jongmense emosioneel sterker maak en hulle emosioneel ryp kry sodat hulle self kan besluit wat hulle wil doen en nie wil doen nie. Daar word ʼn gaping gevul: dit wat ons dink ons weet en dit wat ons weet ons weet. Hy reken iALA bied as’t ware ʼn gereedskapkis aan elke jongmens om te kan doen wat hulle uiteindelik moet doen. “Jongmense moet besluit wat hulle ‘ding’ gaan wees in die lewe en wat in dié gereedskapkis moet kom.”

Hoe ontdek jy jou potensiaal? “Eers wanneer jy weet wie jy is en wat jy kan wees, kan jy jou potensiaal ontdek. Mens moet eers buite jou bestaande gemaksone beweeg om bewus te word van jou potensiaal. ʼn Gemaksone ontneem jou van jou maksimum groei.”

Hoe lyk die program?

iALA-oorbruggingsjaar (Foto: Alfred Thorpe/iALA)

• Ken die see (noodhulp en lewensredding ingesluit)
• Veldkennis (oorlewing, spoorsny)
• Selfkennis
• Emosionele groei

Besoek iALA se webwerf
Besoek iALA se Facebook-blad

*iALA is besig om akkreditasie te bekom as ʼn tersiêre onderriginstelling met ʼn tweede jaar van avontuur en leierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann cb ·

Konrad, ek is bitter dankbaar dat jy gekies is! Jou lewensverhaal is aangrypend! Jy verdien hierdie geleentheid! Benut dit ten volle, en jy sal suksesvol wees die toekoms in! Baie sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.