Ideale geleentheid vir jongmense wat tuisversorging wil doen

Siesta-aftreeoord (Foto verskaf deur Helpende Hand)

Solidariteit Helpende Hand in samewerking met Gratia Via Akademie, bied vanjaar ʼn ideale geleentheid vir jongmense wat daarin belangstel om in tuisversorging opgelei te word of later verpleegsters te word.

Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder vir bejaardes, sê die organisasie het besluit om bekostigbare opleiding in tuisversorging aan te bied weens ʼn groot behoefte aan tuisversorgers in die land.

“Daar is baie seniors wat nie kan bekostig om in tehuise te woon nie en graag by hul eie huise versorg wil word. Helpende Hand en Gratia Via Akademie bied nou dié SETA-geakkrediteerde kursus aan en studente wat die kursus suksesvol voltooi sal ʼn nasionale sertifikaat in tuisversorging (SAQA ID 80786, Vlak 2) ontvang. Dit is 145 krediete werd,” verduidelik Welman.

“Instansies wat verpleging-opleiding wil aanbied, sukkel tans om akkreditasie te kry en tuisversorging opleiding is ʼn eerste stap in daardie rigting. Tuisversorging is ʼn goeie eerste stap vir ʼn student wat graag ʼn verpleegster wil word en om watter rede, soos byvoorbeeld finansies of keuringsvereistes, nie dadelik die graad kan gaan studeer nie,” voeg sy by.

Die kursus word vanaf Maart 2021 oor ʼn tydperk van ses maande in Pretoria en Bloemfontein aangebied waarin teorie- en praktiese sessies afgewissel word. Die praktiese komponent sal by ʼn geïdentifiseerde instansie aangebied word. Die praktiese ervaring sal aan die student die nodige selfvertroue bied om, sodra die kursus voltooi is, hierdie dienswerk met die nodige kennis en ervaring uit te voer.

Siesta-aftreeoord (Foto verskaf deur Helpende Hand)

Die volgende waardes sal in die kursus toegepas word, naamlik: respek, etiese beginsels, om vir ander om te gee, uitnemendheid, professionalisme en integriteit.

Die student wat vir hierdie kursus aansoek doen, moet ʼn besonderse liefde en omgee vir hul medemens toon. Hierdie beroep verg ʼn besondere hardwerkende en toegewyde gesindheid. Die student moet self ook fisiek en geestelik gesond wees en die waardigheid van mense hoog op prys stel.

Indien die kursus suksesvol voltooi word, kan die student as tuisversorger of as versorgingshulp in tehuise of residensiële instansies in diens geneem word.

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing en maatskaplike ontwikkeling, sê die behoefte aan tuisversorging het onder die organisasie se aandag gekom ná verskeie stakings by tehuise, ook tydens die inperking, asook konstante navrae by Helpende Hand.

“Die finansiële druk wat die meeste Afrikaners ervaar en die hoë koste van tehuise, maar ook van tuisversorging, noodsaak Helpende Hand om aan gewone mense ʼn bekostigbare oplossing te gee,” sê Hermann.

“Hierdie opleiding bied nie net aan die student bekostigbare opleiding nie, maar ook ʼn geleentheid om ʼn inkomste te verdien en só ʼn toekoms te verseker. Hierdie kursus sal nie net aan die basiese vaardighede van die SETA-vereistes voldoen nie, maar die studente sal ook die geleentheid hê om as mens te groei en ander persoonlike vaardighede te ontwikkel,” voeg sy by.

Sy sê die kursus wat Helpende Hand aanbied is baie meer omvattend as die minimum vereistes soos deur SETA voorgeskryf. Daar word oor die tydperk van opleiding ekstra kurrikulêre kursusse aangebied wat studente nodig het om gehaltesorg en persoonlike ontwikkeling te verseker.

Die minimum toelatingsvereiste is graad 10. Opleiding word in Afrikaans aangebied en die kursus word in Pretoria-Noord en Bloemfontein by die Siesta-aftreeoord aangebied.

  • Pretoria-Noord

In Pretoria Noord sal die teoretiese opleiding by Helpende Hand se Ons Sentrum aangebied word en die praktiese opleiding by ʼn tehuis vir bejaardes in die omgewing. Studente moet hul eie verblyf reël.

  • Bloemfontein

In Bloemfontein word daar ʼn unieke geleentheid vir studente aangebied om nie net inwoning nie, maar ook ʼn mate van studentelewe te ervaar. Daar is vir ʼn beperkte aantal studente in die Siesta-aftreeoord ʼn geleentheid om ʼn gemeubileerde kamer te huur. Indien die student hierin sou belangstel moet dit duidelik op die aansoekvorm aangebring word. Verblyf en etes is R6 500 ʼn maand.

Die opleiding kos R 8 000, wat kursusmateriaal en ʼn uniform insluit. Voornemende studente kan by Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) aansoek doen vir rentevrye studielening. Dié aansoeke sluit op Maandag, 7 Maart 2021, en moet aanlyn voltooi word om in aanmerking te kom.

“Ons vertrou dat hierdie opleiding vir jou die begin van ʼn waardevolle, roepinggedrewe toekoms sal wees. Uitnemendheid, professionaliteit een integriteit sal deurgaans in die kursus toegepas word,” sê Hermann.

  • Die aansoek vir toelating tot tuisversorgingsopleiding vind slegs aanlyn plaas. Die aansoekvorm, moet op die laatste teen Maandag, 7 Maart 2021, aanlyn voltooi word, om in aanmerking te kom vir die kursus. Vind die skakel vir die aansoekvorm hier: https://form.jotform.com/210343523062543
  • Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum stel volgens ʼn sekere kriteria, ʼn beperkte aantal rentevrye studielenings aan studente beskikbaar. Kandidate sal wel ʼn streng keuringsproses ondergaan om hiervoor te kwalifiseer. Om aansoek vir ʼn rentevrye studielening te doen, moet die volgende skakel gevolg word: https://aansoek.studiefonds.co.za

Vir enige navrae, stuur ʼn e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.