Idees vir kreatiewe Kersgeskenke

kersgeskenke.jpgDie feesseisoen kan nogal jou sak ruk en met talle Suid-Afrikaners gaan dit tans broekskeur, maar dis steeds lekker om ʼn geskenkie te gee en te ontvang. Dit is maklik om soms uit die oog te verloor dat dit nie gaan oor wát jy gee en ontvang nie, maar eerder oor die gesindheid waarmee dit gedoen word.

Geskenke oor die Kersseisoen herinner ons aan die Groot Geskenk wat ons ontvang het toe God sy seun vir ons aarde toe gestuur het! Geskenke moet dus nie die ware betekenis van Kersfees oorskadu nie, maar eerder tot die werklike rede vir Kersfees bydra.

Maroela Media het gaan kyk na ʼn paar idees om jou geliefdes vanjaar steeds met iets spesiaal te bederf, sonder om jou bankrekening in die rooi te druk:

– Kom vooraf ooreen dat elkeen ʼn geskenk self moet maak, of elkeen moet ʼn klomp klein goedjies maak wat hy dan vir elke persoon by die Kersete gee (byvoorbeeld boekmerke, sleutelhouers of  fotoraampies wat geverf is).

– Trek name uit ʼn hoed en elkeen moet vir dié persoon iets uit jou huis gee wat jy nie meer gebruik nie, maar wat die ander persoon waardevol kan vind. Jy kan hier kreatief wees en ook ʼn lekker tong-in-die-kies-geskenk gee, byvoorbeeld ʼn resepteboek vir die persoon wat glad nie kan kook nie.

– Laat elke persoon ʼn geskenk ter waarde van ʼn voorafbepaalde bedrag koop wat vir ʼn man of ʼn vrou gepas sal wees. Al die geskenke (toegedraai, maar sonder name) word dan in die middel van die tafel gesit. Die oudste persoon aan tafel kies ʼn geskenk en maak dit oop. Dan kies die persoon aan sy of haar linkerkant een en maak dit oop. Die eerste persoon kan dan kies om sy of haar geskenk óf te hou, óf om te ruil met die tweede persoon se geskenk. Die derde persoon kies dan ʼn geskenk en maak dit oop, en dié persoon het dan weer die keuse om dit óf om te ruil met een van die eerste twee persone se geskenke, óf te hou. Dit raak baie pret omdat daar gewoonlik ʼn paar gunstelinggeskenke is wat almal wil hê! Elke volgende persoon kan dus kies uit elk van die ander geskenke wat reeds oopgemaak is. Uiteindelik kan die persoon wat begin het, laaste weer kies uit al die geskenke wat om die tafel te sien is.

Argieffoto (Foto: rawpixel/Pixabay)

– Laat elke vrou ʼn geskenk vir ’n vrou ter waarde van ʼn voorafbepaalde bedrag koop, en elke man koop ʼn geskenk vir ʼn man van dieselfde bedrag. Die koper draai dit toe en skryf buite-op net “vrou” of “man”. Al die geskenke word onder die boom gesit, en die gasheer of gasvrou deel dan die toegedraaide geskenke uit na goeddunke.

– Besluit as familie of vriendekring saam dat julle vir mekaar dade gee vir Kersfees. Hierdie dade word dan op kaartjies geskryf, byvoorbeeld: “Oom Pieter: Een karwas van Samuel” of “Ouma Santie: ʼn Lekker voetevryf- en tone-verf van Anneke”. Elke gas by jou Kersete kry ʼn mooi gemaakte Kersfeesboksie op sy of haar plek aan tafel, en almal gooi dan hulle geskenkkaartjies in die boksie vir die persoon om te gebruik wanneer hy of sy wil.

– Jy kan ook dié dade met komplimente vervang. Gee in hierdie geval aan tafel, voor die ete bedien word, vir elkeen ‘n pakkie kaartjies en ’n pen. Elkeen moet dan vir elk van die ander gaste aan tafel ’n mooi kompliment neerskryf en dit in die persoon se houertjie gaan gooi. Dit kan met name gedoen word, of anoniem.

Timea Kulcsar van The Flow Experience het ook ʼn paar idees wat hierdie Kersfees nie jou sak sal ruk nie.

  • Kies ervarings bo geskenke en maak eerder herinneringe saam. Masserings, vakansies, konserte en toneelstukke is heerlike aktiwiteite waar ʼn mens wonderlike herinneringe saam kan bou.
  • Gee jou tyd. Pas ʼn vriendin se kinders op of gaan stap met jou honde. Tyd is die kosbaarste geskenk wat jy vir iemand kan gee.
  • Koop bewustelik. As jy goed koop, koop dinge wat plaaslik of handgemaak is en ondersteun klein besighede sover moontlik.
  • Stem vooraf ooreen op ʼn begroting saam met die mense met wie jy geskenke gaan uitruil. Sodoende weet almal wat om te spandeer en niemand voel hy is te na gekom nie.
  • Geskenkbewyse en geld is altyd lekker om te gee en te ontvang, dan kan die persoon koop wat hy regtig graag wil hê of nodig het.
  • Maak dit maklik vir die persoon om die geskenk wat jy gekoop het om te ruil of terug te vat indien hulle nie daarvan hou nie of as dit nie pas nie.
  • Koop iets op hulle geskenklys, dan weet jy dit is iets wat hulle graag wil hê.
  • Moenie jou geskenkaankope los tot op die nipper nie – dit is wanneer jy noodgedwonge goed koop wat op die rakke oorgebly het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.