Identiese tweeling vier 75 jaar as nonne

Nonne-2.jpgDie 93-jarige identiese tweeling van New Orleans in Amerika, susters Canice en Canisius Lastrapes, vier vanjaar hulle 75ste jaar saam – as nonne!

Die New Orleans Advocate berig die tweeling, die jongstes in ʼn gesin van 12 kinders, het gesê hulle was nog nie een dag spyt oor die besluit wat hulle geneem het om nonne te word nie. Die twee was ook in ʼn Rooms Katolieke skool waar nonne hulle geleer het. “Ons het ons lewe lank susters saam met ons gehad,” het suster Canice vertel. “Dit is seker net natuurlik dat ons besluit het om na skool soos hulle te wees.” Sy het in September 1940 haar geloftes afgelê en suster Canisius het twee maande later gevolg.

Altesaam 75 van die susters se vriende en familie het onlangs vir ʼn naweek saamgetrek om die groot mylpaal te vier. “Hulle is oor die jare ʼn groot inspirasie vir ons en so baie ander mense,” het Jude Lastrapes, die susters se agterkleinneef gesê. Hy het al die pad vanaf New York gereis om die feesvieringe by te woon.

Suster Canice, wat chemie aangebied en met armes gewerk het, het gesê dit voel nie soos 75 jaar nie. “Dit voel soos 75 dae, so gou het dit verbygegaan,” het sy geskerts. “Dit is wat gebeur as mens doen waarvoor jy lief is. As jy iets doen waarvan jy nie hou nie, voel dit of die tyd stil staan.”

Die twee susters hou baie van naaldwerk en brei. “Enige iets vir wie dit ook al nodig het of dit wil hê,” het suster Canice vertel. “Luiheid is die duiwel se oorkussing. Ons moet aktief bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.