Identifiseer en voorkom kindermishandeling met dié handleiding

'n Foto wat by die onlangse werkswinkel geneem is (Foto: Verskaf)

‘n Foto wat by die onlangse werkswinkel geneem is (Foto: Verskaf)

Die sanger en verhoogpersoonlikheid Nataniël het Maandag in ʼn verklaring gesê sy liefdadigheidsprojek, The Nataniël Progress Project, se Call to Arms-kindermishandelingshandleiding het al meer as 420 onderwysers en ouers landwyd opgelei om mishandeling onder kinders te identifiseer en te voorkom.

ʼn Werksessie is onlangs vir die derde keer in samewerking met Kinderwelsyn Tshwane (CWT) en die VN se kinderfonds (Unicef) in Pretoria aangebied. Meer as 120 praktisyns wat almal fokus op vroeë kinderontwikkeling is tydens dié werksessie opgelei met behulp van die sogenaamde Call to Arms-kinderbeskermingshandleiding.

Die doel van die werksessie en handleiding is om ouers en onderwysers op te lei met die nodige vaardighede om kinders te beskerm en om mishandeling in ʼn vroeë stadium raak te sien, te beëindig of te voorkom.

Nataniël het gesê dié handleiding het reeds ʼn verskil in honderde mense se lewe gemaak. “Sedert die bekendstelling van die Call to Arms-handleiding in 2015 is meer as 420 onderwysers opgelei in die beskerming van kinders. Mense daar buite sien die verskil wat julle maak; dankie dat julle ons kinders versorg,” het Nataniël gesê.

Wezet Botes, wat die handleiding geskryf het, het gesê dié handleiding sal ouers en onderwysers help om te weet waarvoor om uit te kyk. “Die eerste stap is om die kind te identifiseer wat jou hulp nodig het. Soms word die kinders fisiek mishandel, wat dalk makliker is om raak te sien, maar soms word die kind emosioneel mishandel, wat nié so maklik opgetel word nie.

“Dit is daarom belangrik om stelselmatig te dokumenteer wat dit is wat die kind sê of doen wat jou bekommer. Jy kan dan oor ʼn tydperk ʼn duidelike beeld van die kind se gedrag vorm om vas te stel of hy of sy wel in ʼn omgewing woon waarin hy of sy bedreig word.”

Indien ander maatskaplike werkers, welsyninstansies of sielkundiges ook opleiding aan ouers of onderwysers wil gee, kan jy dit doen deur ʼn e-pos te stuur na die Nataniël Progress Project by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.