Immergroen meesterstuk op die verhoog

12719364_10153387593089632_4037274365640151547_o

Die jong dirigent, Jaco van Staden, maak met hierdie produksie sy operadebuut vir Salon Music.

Mozart se Don Giovanni is ’n tydlose meesterstuk en een van die mees opgevoerde operas ter wêreld. Ná die talentvolle Sandra Laubscher se hoogs prettige en treffende regie van Die Barbier van Seville (Rossini) in 2016, voeg Salon Music nou vir die eerste keer Don Giovanni by sy repertorium met ses uitvoerings in Brooklyn Teater. Sandra is weer die verhoogregisseur.

Die kranige jong dirigent, Jaco van Staden, maak met hierdie produksie sy operadebuut vir Salon Music. Hy is in 2016 met ‘n veer in die hoed vir sy talent beloon – hy was tweede in die Len van Zyl-kompetisie vir dirigente in Kaapstad. Jaco het pas teruggekeer van Wene, waar hy saam met prof. Georg Mark aan Don Giovanni gewerk het.

Die rolverdeling beslaan ’n gedugte span jong Suid-Afrikaanse operasangers. Die Kaapse bariton, Raimondo Viviano van Staden, debuteer in die titelrol. Ilze Coetzee wat die rol van Donna Anna vertolk, is ’n sopraan wat haarself reeds deeglik bewys het in Salon Music-produksies met veeleisende rolle soos Gilda (Rigoletto), die titelrol in Lucia di Lammermoor, die Koningin van die Nag (Die Towerfluit), asook beide die sopraanrolle in Die Fledermaus (Adéle en Rosalinde). ’n Suid-Afrikaanse tenoor wat reeds geruime tyd in Londen woon en werk, Arthur Swan, se Tamino (Die Towerfluit) asook Arturo (Lucia di Lammermoor) vir Salon Music, is hoog aangeskryf.

Don Giovanni se gesant, Leporello, word gesing deur Thabang Senekal, wat naam gemaak het in verskeie baritonrolle vir die eertydse Black Tie Ensemble asook Gauteng Opera. Linelle Wimbles Engelbrecht se vertolking van Pamina in Kobie van Rensburg se treffende “Star Wars” Towerfluit 2013 in Brooklyn Teater, was hoogs indrukwekkend.

Die opera vorm deel van die Jeugprogram van Brooklyn Teater, aangesien Don Giovanni voorgeskryf is vir musiek as matriekvak by privaat skole in Suid-Afrika. Daar is blokbesprekings beskikbaar vir leerders. Die opera word as kamer-opera aangebied, tipies van die Salon Music-produksies met dekor, periode-kostuums en ’n salon-ensemble wat die begeleiding waarneem. Dit word in Italiaans gesing met Engelse subtitels.

Alhoewel Don Giovanni bestempel word as ’n komiese opera, is dit ’n verhoogwerk wat ’n goeie versnit daarstel van buffa, melodrama asook bonatuurlike elemente. Die musiek is balsem vir die siel vir ieder en elk.

Don Giovanni vorm deel van die Johannesburg Internasionale Mozartfees 2017.

Opvoerings:

Woensdag 18 Januarie 20:00, Vrydag 20 Januarie 20:00, Sondag 22 January 15:00

Woensdag 25 Januarie 20:00, Vrydag 27 Januarie 20:00, Sondag 29 Januarie 15:00

Besoek Brooklyn Teater

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.