In 10 tale wil hy geregtigheid laat seëvier

Jeremia Tollie. Foto: Mariné Lourens

Wanneer opspraakwekkende hofsake intensief vanuit die openbare galery en deur die media gevolg word, neem die meeste mense nie eens kennis van die tolk wat woord vir woord die hele hofsaak moet vertolk nie. Tog speel dié persoon ʼn sleutelrol om te verseker dat die wiel van die gereg aanhou draai.

Een so ’n tolk is Jeremia Tollie (59), wie se vermoë om in minstens 10 verskillende tale te tolk ʼn waardevolle en buitengewone aanwins vir die Suid-Afrikaanse regstelsel is. Tollie is tans die tolk in die sogenaamde Parys-boere-hofsaak waar ses mans van die distrik aangekla word van die moord op twee vermeende plaasaanvallers.

Tollie, wie se huistaal Xhosa is, kan in Afrikaans, Engels, Xhosa, Suid-Sotho, Noord-Sotho, Zoeloe, Tswana, Tsonga, Venda en Swazi tolk. Hy sê hy kan wel ook Ndebele praat, maar voel nie gemaklik genoeg met die taal om daarin te tolk nie.

Verbasend genoeg het Tollie nie tale studeer nie, maar eintlik heel toevallig in sy beroep beland. Oor sy 37 jaar lange loopbaan het hy egter een van die bestes in die bedryf geword en word hy hoog aangeskryf deur verskeie regslui.

Tollie vertel hy het in 1980 ʼn saak in die hooggeregshof in Bloemfontein bygewoon waar ʼn vriend van hom van moord aangekla is. Terwyl hy na die saak geluister het, het hy beswaar aangeteken teen die tolk wat hy meen nie korrek vertolk het wat gesê is nie. Die regter het aandagtig na sy beswaar geluister en toe hy hom weer bevind, was hy aangestel as ʼn hoftolk.

“Ek het nooit gedink ek sal ʼn tolk word nie, ek het net half in die beroep opgeëindig,” lag hy. Hy sê hy het deur die jare al die verskillende tale geleer en mettertyd het hy tien tale onder die knie gehad. Van die hooggeregshof in Bloemfontein is hy na Parys verplaas, voordat hy na Johannesburg oorgeplaas is om daar te tolk. Hy is later na Bloemfontein terug verplaas waar hy tans in die Vrystaatse hooggeregshof en rondgaande hof tolk.

Tollie sê selfs na al die jare geniet hy steeds sy werk terdeë. “Ek hou daarvan dat geregtigheid geskied. As daar ʼn bekwame tolk is, help dit dat geregtigheid geskied,” sê hy. Daar is wel moeilike aspekte van sy werk, erken hy. Dit is vir hom veral moeilik wanneer ʼn hofuitspraak gelewer word waarmee hy nie saamstem nie en hy moet leer om hom daarby te berus.

Om gereeld gru-besonderhede van moorde, verkragtings en ander sake aan te hoor, bly moeilik. “Dit is maar ʼn pyn waarmee ek altyd loop, want ek sal altyd met sulke sake werk. Partymaal kan jy in die aande nie slaap nie. Sommige dae as jy uit die hof stap, wil jy net niks meer hoor nie.”

Tollie het op verskeie opspraakwekkende sake gewerk, onder meer die verkragtingsaak van pres. Jacob Zuma. Wanneer hy gevra word watter sake in sy lang loopbaan vir hom uitstaan, dink hy eers ʼn rukkie. “Hier was ʼn saak wat 10 maande lank geduur het. Dit was die onwettige myners by Welkom wat drie of vier jaar ondergronds gebly het. Dit was ʼn lang en moeilike saak. Ek onthou hom, want dit was ʼn interessante saak waarin ek baie geleer het.”

Tollie, wat getroud en die pa van drie dogters is, sê hy sal graag volgende jaar wil aftree, maar hy weet nie of die departement van justisie hom sal toelaat om te gaan met sy skaars vaardighede nie. Hy sê hy is wel tans besig om twee jonger tolke op te lei om die leisels by hom oor te neem.

Intussen is Tollie met sy aansteeklike glimlag elke oggend op sy pos om sy deel vir geregtigheid te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Skrikwekkend om te dink ‘n tolk kan ‘n verkeerde boodskap lewer wat foutiewe vonnis tot gevolg kan hê!! Dankie tog dat hy nog werk – meneer Tollie, dink tog daaraan om eers nader aan 70j af te tree!

Sharon ·

Mnr. Tollie, net ‘n gedagte…… Lei asb. vir ons ten minste 3 tolke op. Deel asb jou kennis en passie vir jou werk voor jy aftree. Voorwaarde is natuurlik dat elkeen van hulle ook weer 3 jonger tolke DEEGLIK oplei, en so aan en so aan…….
Ons sal U innig dankbaar wees!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.