Ingenieurswêreld wink vir Marlize

Marlize de Villiers

Marlize de Villiers

Marlize de Villiers van Afrikaanse Hoёr Meisieskool Pretoria het uitstekend gevaar in die matriekeindeksamen met agt onderskeidings. Sy het A’s vir Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, fisiese wetenskappe, Frans, rekeningkunde en inligtingstegnologie.

Hierdie knap leerder is die oudste dogter van Pieter, ʼn narkotiseur, en Christa, ʼn elektroniese ingenieur. Sy het ook ʼn jonger broer wat laas jaar in graad 10 was in Pretoria Boys High School. Sy beplan om haar vakansie aan die Suidkus en in die omgewing van George deur te bring voor sy begin met bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria of Stellenbosch.

Sy beskryf haar ouers as haar grootste rolmodelle: “Hulle het my geleer om onvoorwaardelik lief te hê en hulle is die rede hoekom ek is wie ek vandag is.”

Marlize is lief vir gholf gedurende vakansies. Vir ontspanning gedurende die kwartaal verf en teken sy. Sy het van graad 9 tot graad 11 gholf gespeel vir die skool en in 2013 en 2015 die liga gewen. Sy het ook vir haar skool geswem, neem buitemuurse kunslesse en neem soms aan eisteddfods deel.

Marlize beskryf haarself as ʼn sosiale introvert met  ʼn kreatiewe linkerbrein, en ʼn realistiese dromer. Sy glo haar deursettingsvermoë en die ondersteuning van haar ouers en onderwysers het bygedra tot haar sukses. Marlize sê haar deursettingsvermoë en geduld is haar beste eienskappe. Haar swakste karaktertrekke is dat sy soms te perfeksionisties is en te veel op minder belangrike goed fokus.

Haar leuse is:

Omring jou met mense wat die beste in jou uitbring en die beste vir jou wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.