Inisiatief bied gratis verblyf vir gesondheidswerkers

Danksy ʼn nuwe gasvryheidsinisiatief genaamd Ubuntu Beds kan gesondheidswerkers nou van gratis private verblyf nader aan die werk gebruik maak om sodoende minder tussen die huis en die werkplek te pendel.

Hoteleienaar Kim Whitaker het in Maart vanjaar, nadat sy self Covid-19 opgedoen het, die Ubuntu Beds-inisiatief van stapel gestuur om gasvryheidsondernemings wat nou net leeg staan met gesondheidswerkers te verbind.

Ubuntu Beds, met die ondersteuning van FirstRand South African Pandemic Intervention and Relief Effort- (SPIRE-)fonds, se doel is om R16 miljoen deur private en korporatiewe skenkings in te samel om verblyf aan sowat 2 500 gesondheidswerkers oor die volgende vier maande te verskaf.

Duisende gesondheidswerkers, veral verpleegsters, is sedert die aanvang van die wêreldwye Covid-19-pandemie met dié virus besmet. ʼn Tekort aan beskermende klere en maskers, asook ʼn oormatige blootstelling aan die virus weens ʼn tekort aan personeel en lang afstande wat tussen die huis en die werk met openbare vervoer afgelê moet word, dra by tot die verspreiding van die virus.

Namate die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel voorberei vir die piek van die verspreiding van die koronavirus in die land, loop gesondheidswerkers ʼn groter risiko om die virus op te doen en om hulle families en ander mense te besmet terwyl hulle tussen die werkplek en die huis pendel.

Tans is daar 869 ondernemings oor die land, met altesaam ongeveer 15 000 kamers en wat naby aan klinieke en hospitale geleë is, wat by dié nuwe platform aangesluit het. Die algemene verblyftydperk is tussen sewe en 14 dae en is beskikbaar vir die private en openbare gesondheidsektor. Gesondheidswerkers het ook toegang tot selfsorgfasiliteite en in sommige gevalle ook Wi-Fi-, televisie- en wasgoeddienste.

“Die gees van ubuntu heers veral in hierdie moeilike tyd onder Suid-Afrikaners. Ubuntu Beds het ons ʼn manier gegee om ons dankbaarheid te betoon teenoor die gesondheidshelde terwyl ons plaaslike toerisme ondersteun. Sedert ons begin het, het ons al 59 dokters en verpleegsters geplaas. Die piek van die virus is op pad en ons gaan alles in ons vermoë doen om die gesondheidsektor te help voorberei,” sê Whitaker.

Netheid is uiters belangrik en alle verblyfverskaffers moet voldoen aan die vereistes van ʼn sekere netheidsgids, wat deur Ubuntu Beds ontwerp is volgens die riglyne van die gids wat deur die gesondheidsdepartment vir selfisolering en selfkwarantyn saamgestel is.

“Ons glo deur met Ubuntu Beds saam te werk, skep ons die geleentheid vir gesondheidswerkers om nader aan die werk te wees en hulle families word daardeur beskerm. Beddens van gasvryheidsondernemings word terselfdertyd volgemaak en werk kan behou word in die gasvryheid- en verwante sektore,” sê Jessica Spira, hoof van gesondheid en gasvryheid by Rand Merchant Bank, wat bygedra het tot die SPIRE-fonds.

Gesondheidswerkers wat verblyf benodig en enige gasvryheidsonderneming wat belangstel om kamers beskikbaar te stel, kan Ubuntu Beds se webwerf besoek vir meer inligting.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.