Inisiatief wil hoop bring vir kinders met kanker

Ondersteuners en spanlede van die Seven7 Drive-inisiatief. Foto: Brendon Staniforth.

Seven7 Drive, ’n inisiatief ten bate van kinders met kanker, is terug!

’n Span van joernaliste en avonturiers het gister by KIA Centurion weggespring en sal altesaam 6 000 km oor sewe dae aflê waartydens hulle jong kankerlyers by sewe hospitale oor die hele Suid-Afrika sal besoek.

Oudergewoonte ondersteun KIA Motors Suid-Afrika weer die inisiatief. Die motorvervaardiger sal ’n KIA Grand Sedona aan die span op hul avontuur verskaf.

Die Seven7 Drive-inisiatief is van stapel gestuur ná die dood van ’n jong kankerlyer. Die kind was spesiaal vir die Leisure Wheels-span en só het dié blink idee gestalte gekry.

“Ons het geen benul gehad of dit ooit moontlik was om deur sewe lande in sewe dae te ry nie. Maar ons het geskenke en ’n bietjie voorraad in ’n KIA Sorento gelaai en weggetrek! Ons het dit wonderbaarlik gemaak.

“Dus het ons dit die volgende jaar weer aangepak, dié keer in ’n KIA Sportage en toe weer in ’n KIA Soul. Daardie 1 800 km wat ek destyds van Pretoria na Windhoek gery het, was die langste wat ek nog bestuur het,” sê Leisure Wheels se Danie Botha.

Die groep het in die verlede sewe verskillende lande (Suid-Afrika, Mosambiek, Zimbabwe, Namibië, Botswana, Swaziland en Lesotho) besoek, maar het vanjaar besluit dat hulle vir eers weer net op Suid-Afrikaanse pasiënte fokus.

“Ons wou meer Suid-Afrikaners bewus maak van die veldtog. Ons doen dit immers vir die kinders en vir die liefdadigheidsorganisasie, Cupcakes of Hope.”

Die span sal vanjaar hospitale in Polokwane, Upington, Kaapstad, Port Elizabeth, George, Bethlehem en Nelspruit besoek, voor hulle volgende week by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria eindig.

“As ’n trots Suid-Afrikaanse maatskappy het KIA Motors nie gehuiwer om in 2015 deel van die inisiatief te word nie,” sê KIA se Christo Valentyn.

  • Seven7 Drive word deur KIA Motors Suid-Afrika, Tracker, Airbnb en Wrap Vehicles ondersteun. Al die geld wat ingesamel word, gaan aan die Cupcakes of Hope-liefdadigheidsorganisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.