Ink-kompetisie vir digters, skrywers

Argieffoto (Foto: Thom Milkovic/Unsplash)

Ink Skryf in Afrikaans, ʼn onafhanklike platform wat skryfwerk in Afrikaans bevorder, bied vanjaar weer ʼn dig-en-skryfkompetisie vir oud en jonk aan. Digters en skrywers van alle ouderdomme het tot 30 Junie kans om hul skryfwerk in te stuur.

Anzé Bezuidenhout, stigter van Ink Skryf in Afrikaans, sê die hoofdoel van hierdie kompetisie is om poësie en kortverhaalkuns van gehalte in Afrikaans te bevorder.

“Ek het die platform ʼn paar jaar gelede begin omdat my liefde vir Afrikaans so geweldig groot is. My ervaring was ook dat daar bitter min geleenthede en inisiatiewe vir Afrikaanse dig- en skryfwerk op die internet is.

“Ek het geglo daar is nog mense wat soos ek oor Afrikaans voel en ek was reg. Die Ink-platform het intussen geweldig gegroei en is besig om uit sy nate te bars,” sê sy.

Ink het verlede jaar sy vlerke gesprei en vir die eerste keer ook internasionale inskrywings ontvang. Volgens Bezuidenhout was daar in 2020 meer as 900 inskrywings en sy beskou dit as ʼn teken dat mense honger is vir erkenning.

“Daarom hou Ink ook elke jaar ʼn prestige-gala-aand waar lede en kompetisiewenners op meriete erkenning vir hul werk ontvang.”

Bezuidenhout is opgewonde oor die bloemlesings wat vanjaar se kompetisie gaan oplewer. Die beste gedigte en kortverhale sal ná afloop van die kompetisie in drie bundels opgeneem word: Inkspraak, Inkspraak Skoliere en Inkspraak Kortverhale.

Die kompetisie word deur ʼn onafhanklike paneel beoordeel en bestaan uit Karen Zoid, Jackie Nagtegaal, Anton Bosch, Ronel Marè Dunn, Nico Schamrel, Bets Koen en dr. Douwlina du Plessis.

AfriForum, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Afrikaanse Taalmonument en die Historium Trust tree as hoofborge op. Die top-12 inskrywings sal na verwagting in 2022 in een van die Taalmonument se tuine uitgestal word.

Besoek Ink se webwerf om meer oor die kompetisie te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Ek eer elke persoon en instansie wat ons griffelgeeste ook ‘n waardige naasbestaan gun. Iemand wat nie self al ink op papier laat vloei het nie, sal nooit hierdie passie verstaan nie.
Mag hierdie inisiatief van krag tot krag gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.