Innoverende mediese produk uit noodsaak gebore

Nico Basson met die CastProtect FOTO: Atterbury Trust

Nico Basson met die produk CastProtect wat hy self ontwikkeling het. Foto: Atterbury Trust

Nadat Nico Basson 16 weke in die hospitaal moes deurbring met verbande wat nie nat mag word nie, het hy ’n mediese produk ontwerp wat dié probleem oorbrug.

As gevolg van komplikasies van slaap-apnee en ’n lang tyd in die bed het hy veneuse ulkusse of spataarsere, soos dit algemeen bekend is, ontwikkel.

Die produk, wat CastProtect gedoop is, het hom die wenprys in die 2014 Akademia Sakeplan-kompetisie besorg en die Atterbury Trust het met Basson gesels om meer oor die produk uit te vind.

Nadat Basson uit die hospitaal ontslaan is, kon hy weens sy verswakte toestand nie voortgaan met die bestuur van sy eie spysenieringsbedryf nie. Omdat hy steeds ’n inkomste nodig gehad het, het hy navorsing begin doen oor produkte wat sy lewe sou kon vergemaklik. Hy kon slegs produkte vind wat in die VSA gemaak word en wat onbekostigbaar is. Toe het hy besluit om CastProtect te ontwikkel.

Dié gebore Vrystater, wat nou in die noordelike voorstede van Kaapstad woon, se toestand was só chronies dat hy sy vrou hom moes verpleeg.

Ná die ontwerp van sy produk het hy dit vir stort en swem gebruik omdat hy nie weer infeksie in sy bene wou kry nie. Dit was ’n eenvoudige oplossing vir sy probleem.

“Voorheen het ons maar plastieksakke met waterdigte kleefband gebruik, maar dit het nie gewerk nie – die kleefband het my bietjie beenhare uitgetrek en die plakmiddel daarop bevat lateks, waarvoor ek, soos soveel ander mense, allergies is,” sê hy.

CastProtect bied 11 variasies van die produk. Dit sluit in variasies vir arms en bene sowel as volwassenes en kinders. Die produk is ook na gelang van mense se gewig aangepas. Dit is effektief vir mense met veneuse ulkusse, diabetiese sere of mense wat in gipsverbande met gebreekte arms of bene is. Dit kan selfs gebruik word deur mense met kunsledemate, brandwonde, dermatologiese kondisies of enige deel van die liggaam wat nie met water in aanraking mag kom nie.

Die produk het goedkeuring van die departement van gesondheid verkry en is op die Wes-Kaapse verskaffersdatabasis geregistreer. Dit is ook goedgekeur vir verskaffing aan die weermag.

Basson beplan om met die prysgeld van R100 000 ʼn nuwe rekenaar en CPAP-masjien vir sy slaap-apnee aan te skaf, en om sy vrou, wat jare al na hom omsien, te bederf.

Basson het groot drome vir die produk en beplan om baie mense daarmee te help. Hy sou ook by die finansiering van ander mediese projekte betrokke wou wees, onder meer ʼn velbank waar vel ‘gekweek’ word vir brandslagoffers in Suid-Afrika.

Hy is deur beleggers genader en moontlikhede vir die uitvoer van sy produk na die res van die wêreld is tans in die vooruitsig. Daar is ook onderhandelinge oor ʼn fabriek in Suid-Afrika om die produk hier te vervaardig.

“My raad vir ander entrepreneurs is om krities te dink, nooit op te gee nie en altyd aan te hou droom,” sê Basson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton Visser ·

Ek is jammer om te se maar daar is al jare n soortgelyke produk op die mark wat ek aan my pasiente verskaf? Weet nie so lekker van sy produk nie maar dit lyk nogal eenders!

Peet Schabort ·

Anton, dit moet seker te doene hê met die registrasie van patente? Motors en onderdele, byv., werk op dieselfde beginsels maar lyk net bietjie anders. Dit hang ook seker af in watter lande ‘n patent geregistreer is? Ek weet te min hiervan maar daar behoort ‘n ingeligte persoon te wees wat kan antwoord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.