Inskrywings nou oop vir gewilde radiodrama-kompetisie

RSG

Inskrywings is nou oop vir die jaarlikse RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie met prysgeld ter waarde van R90 000 op die spel.

RSG se gesogte jaarlikse radiodrama-kompetisie wat in samewerking met Sanlam aangebied word, is vanjaar 23 jaar oud en word bestempel as die oudste dramakompetisie in Suid-Afrika – een wat vir byna ’n kwarteeu die Afrikaanse radiodramabedryf bevorder.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur, voed hierdie kompetisie terselfdertyd die Afrikaanse kunstebedryf deurdat van hierdie uitstaande radiodramas mettertyd in verhoogstukke of rolprente omskep word. “Die wendramas van verlede jaar wat tans op RSG uitgesaai word, is ’n toonbeeld van die verskeidenheid skrywers, temas en boeiende stories wat ons ontvang. Soveel van die stories is heeltemal vars en vernuwend, wat weer eens bewys watter kreatiewe medium radiodrama is,” sê Burger.

Die wenner van vanjaar se skryfkompetisie sal met prysgeld ter waarde van R35 000 wegstap, terwyl die wenners van die tweede en derde prys onderskeidelik R25 000 en R15 000 sal ontvang. Daar sal hierdie jaar ook weer ’n prys van R15 000 vir ’n skrywer jonger as 30 jaar wees. Buiten hierdie prysgeld kry die wenners ook die geleentheid dat hulle wendramas op RSG uitgesaai gaan word.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en 15 tekste gekies wat dan met die hulp van ʼn mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan dan hul tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Gratis radiodrama-skryfskole gaan in samewerking met Sanlam in Kaapstad en Johannesburg aangebied word. Meer besonderhede sal op RSG (100 tot 104 FM) aangekondig word.

Daar is vanjaar geen voorgeskrewe tema nie, solank dit net ’n nuwe en oorspronklike Afrikaanse radiodrama is. Geen verwerkings van bestaande materiaal, verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar inskrywings word beperk tot slegs een radiodrama per persoon.

Die dramas moet tussen 40 en 55 minute lank wees en uit sowat 45 A4-bladsye bestaan wat aan al die wedstrydreëls voldoen.

ʼn Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ʼn spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag aan hul skryftalent wil skaaf.

Verlede jaar se wendramas is tans Donderdae om 20:00 op RSG te hoor.

Inskrywings vir die 2019 Radiodrama-kompetisie sluit Woensdag 31 Julie 2019.

Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za om op hoogte te bly of om die kompetisie se handleiding af te laai. Kyk onder die hofie “Wat gebeur” en lees ook ʼn reeks skryfwenke vir voornemende radiodrama-skrywers of luister na ʼn oudio-slypskool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hans Richardt ·

Politieke korrektheid RSG raak desperaat.. Baie luisteraars verloor.

Daan Erasmus ·

Ek dink nie RSG is desperaat nie. Wat ek wel weet is dat ‘n handjie vol mense hul bes doen vir Afrikaans. Met nie baie ondersteuning van die SABC raad of die top. Luister gerus na die radio dramas. Dit is altyd van uitstaande gehalte. Skrywers en Boeke is van die beste, interessantste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.