Inskrywings vir SA se eerste slimfoonfotokompetisie gesoek

(Foto: Tandem X Visuals/Unsplash)

Is jy ʼn ywerige fotograaf wat altyd jou selfoon byderhand hou om ʼn foto of twee te neem? Jou beste slimfoonfoto’s kan dalk net vir jou ʼn allemintige prys of twee wen, en erkenning as een van Suid-Afrika se top-slimfoonfotograwe besorg.

Die eerste South African Mobile Photography Awards het vandeesmaand afgeskop en jy kan jou slimfoonkiekies nou in ʼn verskeidenheid van kategorieë vir dié kompetisie inskryf.

Albert Bredenhann, professionele fotograaf en eienaar van Pixel Pro Photography, is die meesterbrein agter die nuwe fotografiekompetisie. Hy sê hy het in die afsonderingstyd opnuut weer besef hoe groot die belangstelling in slimfoonfotografie is.

“Almal het ʼn slimfoon waarmee hulle foto’s neem en dit graag deel. Ek het in die grendeltyd ʼn reeks aanlyn werksessies vir slimfoonfotografie aangebied en die tyd is ryp om hierdie soort fotografie na ʼn volgende vlak te neem. Ons kan almal se grense oor slimfoonfotografie en fotografie as ʼn geheel verskuif.”

Bredenhann moedig mense aan om hulle liefde vir fotografie met hierdie kompetisie uit te leef.

Maroela Media borg die eg Afrikaanse-kategorie in die slimfoonfotografiekompetisie. Bredenhann sê met hierdie afdeling word ʼn splinternuwe weg gebaan vir professionele en amateur-fotograwe om hulle slimfone te gebruik om die kategorie op ʼn unieke wyse te interpreteer.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sê ʼn fotografiekompetisie soos hierdie is ʼn manier om die mooi oomblikke van ons lewe vas te vang en te vier.

“Maroela Media ondersteun graag ʼn kompetisie soos hierdie omdat dit mense aanmoedig om die goeie in die lewe raak te sien.

“Dit is ook ʼn manier om kreatief om te gaan met dit wat Afrikaans is in ʼn visuele formaat. So kan Maroela Media se lesers vir mekaar wys hoe lyk Afrikaans vir hulle, hoe lyk hulle goeie tye saam, en sodoende kan hulle dit wat hulle eendag met hulle kinders wil deel in fotoformaat vaslê.”

Die South African Mobile Photography Awards bestaan uit tien kategorieë waarvoor ʼn deelnemer vyf foto’s elk kan inskryf. Die afdelings bestaan uit portrette, diereryk, argitektuur en ontwerp, swart-en-wit fotografie, makro en detail, straatfotografie, landskappe en die natuur, mense en abstrak, asook die eg Afrikaanse kategorie.

Die pryse vir die fotografiekompetisie is ook nie te versmaai nie. King Price Insurance het as hoofborg prysgeld van R150 000 beskikbaar gestel. Die algehele wenner sal met R35 000 wegstap, terwyl daar ook ʼn eerste prys van R5 000 vir elkeen van die 10 kategorieë sal wees en twee pryse vir die algehele naaswenners.

Blackview Suid-Afrika sal ook ʼn splinternuwe robuuste slimfoon aan die algehele wenner as deel van die prys verskaf.

Alle inwoners van Suid-Afrika, maak nie saak waar jy jou tans in die wêreld bevind nie, kan vir die kompetisie inskryf.

Inskrywings kan op die webwerf www.mobilephotoawards.co.za gedoen word. Foto’s mag slegs geneem en geredigeer word met ʼn mobiele toestel, ʼn slimfoon of tablet.

Die kompetisie het reeds geopen en inskrywings sal tot 15 Januarie 2021 aanvaar word. Daarna sal lede van die publiek ʼn maand kry om vir hulle gunstelingfoto’s te stem, waarna die beoordelaars hulle finale keuses sal maak. Die wenners van elke kategorie asook die algehele wenners sal op 26 Februarie 2021 aangekondig word.

Besoek www.mobilephotoawards.co.za vir meer inligting oor hierdie kompetisie.

  • Albert Bredenhann, professionele fotograaf en eienaar van Pixel Pro Photography, is die meesterbrein agter die nuwe Suid-Afrikaanse slimfoonfotografiekompetisie. Hy het met Maroela Media oor die kompetisie gesels. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.