Inspirerende hardloper bewys medici verkeerd

Shane Smit spog met van sy medaljes.

Die 28-jarige Shane Smit was nog altyd lief vir hardloop. Maar tydens sy deelname aan langafstand-items op skool in Pretoria het hy agtergekom dat daar iets is wat pla.

“Ek het agtergekom dat ek twee keer so hard soos ander kinders moes oefen, net om by hulle te bly wanneer ons hardloop. Om nie eens daarvan te praat om die wedloop te wen nie,” het hy Woensdagmiddag in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Ná sy hoërskooljare het hy vir mediese toetse gegaan en dokters het bevind dat sy linkerbeen ’n hele paar sentimeter korter as sy regterbeen is. Dan – in leketaal – is sy balans ook nie so goed soos ’n “normale persoon” s’n nie en sy spiere ook nie so sterk nie.

“Skielik het al die legkaartstukkies ineen begin pas. Medici het vir my gesê die verste wat ek ooit sal kan hardloop, is so 1 500 m. Maar ek het hulle verkeerd bewys.”

Vandag is Smit ’n Afrika-rekordhouer in sy T36-kategorie vir die 5 000 m. En sy spogtyd van 20,35 minute wat hy in 2018 opgestel het, sal selfs baie van die “normale” atlete van wie hy so praat, laat bloos.

Boonop is sy wentyd van 22.22 minute in die einste item by vanjaar se nasionale kampioenskap goed genoeg om te kwalifiseer vir ’n groot internasionale toernooi later vanjaar in Dubai.

Tog was daar tye dat hy in sy vermoë getwyfel het – waarom moet hy aanhou hardloop en oefen as hy so sukkel met dinge wat ander atlete as bloot vanselfsprekend aanvaar?

“Ek het toe op my knieë gegaan en met die Here gepraat. Ek weet dat Hy immers altyd aan my kant is.”

Hy het tot die besef gekom dat hy ander atlete kan inspireer. As Smit dan met soveel passie en vasberadenheid kan hardloop, waarom gooi ander – en in sy woorde – meer talentvolle atlete dan so maklik die handdoek in?

“Jou kop en jou geloof moet baie sterk wees, want wonderwerke gebeur nie oornag nie. Ek kan nie vir jou sê hoeveel kere ek al in my lewe geval het nie, maar dan vra ek myself altyd af: Gaan ek opstaan en aanhou, of opstaan en opgee?

“Ek is die eerste een wat vir jou sal sê dat ek nie die meeste draftalent ter wêreld gekry het nie, maar dit wat ek wel gekry het, sal ek ten volle gebruik.”

Hy rig deesdae by Maragon Mooikloof af. Smit vertel hy het ’n Vlak III-afrigterskwalifikasie agter sy naam.

Smit probeer ook om die beste uit ander atlete te kry en hy is ’n suksesvolle skool-atletiekafrigter. Hy is deesdae betrokke by Maragon Mooikloof in die Jakarandastad en is dankbaar jeens die skool.

“Dit is my voorreg om hier af te rig. Ek sal elke atleet en speler help tot die beste van my vermoë sodat hy/sy hul volle potensiaal kan bereik.”

Tussendeur die afrigter-verpligtinge kry hy darem ook tyd om aan sy eie fiksheid te skaaf. Hy oefen so te sê elke dag, sommer daar op die skool se rugbyveld.

“Mense vra altyd vir my waarom bou ek nie my een drafskoen se sole op sodat ek makliker kan hardloop nie. Maar jy moet onthou, ek het nog my hele lewe gedink ek hardloop normaal. Dus is ek al baie gewoond aan my manier van draf.”

Elke mens het ’n storie. En Shane Smit se verhaal sorg beslis vir lekker leesstof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

susan ·

Positief die man dit is só wonderlik. Goed gedoen. En al die doen profete oor bv die Heroldsbaai storie waar is julle nou met julle slim praatjies
Trots op jou Suid Afrika het jou nodig.

Chris Z ·

Wat n voorreg om so n rolmodel vir die kinders by ons skool betrokke te hê.

Bamsie ·

n baie merkwaardige mens wat glo aan volharding. Ek kyk op na so iemand. Ek wonder net of sy heup of knieg nie gaan skade kry van die ongelyke impak op sy skelet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.