Internasionale eer vir krokodilnavorser

dr-alison-leslie

Dr. Alison Leslie. Foto: Earthwatch.org

Deur Engela Duvenage

Dr Alison Leslie van die departement bewaringsekologie en entomologie aan die Universiteit Stellenbosch het die IUCN-Krokodilspesialisgroep (CSG) se Costello-toekenning vir krokodilbewaring ontvang. Dit erken haar krokodilnavorsingswerk in Afrika.

Sy het die toekenning ontvang tydens die CSG-spesialisgroep se onlangse byeenkoms in die Kruger Nasionale Park. Dit is bygewoon deur 352 deelnemers van 43 lande.

Die CSG is ʼn wêreldwye netwerk van bioloë, natuurlewebestuurders, regeringsamptenare, onafhanklike navorsers, nie-regeringsorganisasies, boere, sakelui, leerlooiers en modehuise wat betrokke is by die bewaring van die wêreld se 23 oorblywende soorte krokodille, kaaimans, alligators en gaviale (ʼn soort krokodil, in Engels bekend as ʼn gharial, garial of gavial) wat nog in die natuur aangetref word.

Leslie het die geldbedrag wat aan die toekenning gekoppel is, geskenk aan ʼn kollega wat navorsing doen oor een van die hoogs bedreigde gaviaalspesies van Indië. Daardeur word die Dr. Alison Leslie Subir Chofin Corpus-fonds vir gaviaalnavorsing en -bewaring in Noord-Indië op die been gebring.

Leslie en haar navorsingsgroep het ook onlangs die kans gehad om die Britse prins Harry te ontmoet wat hand bygesit het by ʼn grootskaalse wildhervestigingsprojek in Majete in Malawi. Die span het satelliethalsbande aan die drie grootste leeus gesit sodat data ingesamel kan word oor hul dieet en habitat. Dit vorm deel van voortgesette inisiatiewe deur bewaringskundiges van die Universiteit Stellenbosch om met die heropbou van die Majete-wildreservaat te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.