Internasionale ekspo vier liefde vir Afrikaans, boeke

(Foto: AJ Garcia/Unsplash)

Dit is weer tyd vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo.

Die FAK se Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars.

Dit is vanjaar die vyfde jaar wat dié kompetisie aangebied word. Buiten ’n nuwe jaar, kan jy vanjaar groot geld vir jouself en vir jou skool wen. Die skool met die grootste deelname staan ’n kans om R10 000 te wen en die junior en senior algehele wenners ontvang elkeen R2 000 en hulle skool ontvang ook R2 000.

Die Ekspo bestaan uit agt kategorieë, waaronder dagboekinskrywing, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, voordrag, fotografie en kuns (skilderkuns en tekenkuns) waarin jy jou kreatiwiteit oftewel liefde vir boeke kan uitleef.

Stof dus jou kamera af, haal die verfkwaste uit en maak daardie potlode skerp om jou reis met boeke uit te beeld of vertel ons in ’n opstel, resensie of gedig hoekom boeke jou so na aan die hart lê.

Danie du Toit, voorsanger van Spoegwolf, beoordeel vanjaar die poësie-afdeling.

“Ek wil baie graag nuwe Afrikaanse gedigte lees. Skryf in!”

Inskrywings sluit 12 Julie 2021.

Wie kan deelneem?

(Grafika: Verskaf)

Alle gr. 1- tot 12-leerders en studente in Suid-Afrika en Namibië asook enige land ter wêreld waar Afrikaans as moedertaal of nie-moedertaal gebruik of bestudeer word, kan gratis deelneem.

Gr. 1- tot 5-leerders kan deelneem aan skilderkuns, poësie en voordrag, terwyl alle ander leerders en studente aan al die kategorieë mag deelneem. Jy mag ook aan een of meer kategorieë deelneem.

Hoe neem jy deel?

Skryf aanlyn in by ekspo.fak.org.za. Skilderye en kunswerke kan per hand by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria ingegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.