Internasionale geletterdheidsdag gevier met ʼn boek en kolwyntjie

Internasionale geletterdheidsdag gevier met ʼn boek en kolwyntjie (Foto: Verskaf)

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) vier op 8 September internasionale geletterdheidsdag met ’n spesiale fokus op geletterdheid in die digitale era.

Met meer as 750 miljoen volwassenes en 264 miljoen kinders wêreldwyd wat nie kan lees nie, is dit nou belangriker as ooit om op die gesonde ontwikkeling van kinders se leesvermoë te fokus.

Solidariteit Helpende Hand het dié dag benut deur stories te gaan lees vir die kinders van die Ons Plek-gemeenskapsentrum in Daspoort, Pretoria.

Helpende Hand het in 2015 ’n studie gedoen wat bewys het dat 80% van Suid-Afrikaanse kinders teen graad 5 nie basiese leesvaardighede bemeester het nie. Swak leesvaardighede dra ook by tot swak verbale vermoëns, luisterprobleme en ʼn swak selfbeeld.

Internasionale geletterdheidsdag gevier met ʼn boek en kolwyntjie (Foto: Verskaf)

Om sodoende geletterdheid te bevorder het Helpende Hand besluit om internasionale geletterdheidsdag saam met die kinders by Ons Plek te vier.

Marlien van der Westhuizen, ʼn skakelbeampte vir Helpende Hand, sê dié organisasie het vir elke kind ’n leesboek en ’n kolwyntjie gegee “om ’n liefde vir lees by die kinders te kweek”.

Marie Grabë, ook van Helpende Hand, het vir die kinders ’n storie voorgelees, en Helpende Hand se hoofkantoor en CUM-uitgewers het die boeke geskenk.  Marekyn Kruger-Evert van die Afrikaanse Taalraad het ook met die kinders oor die belang van lees gesels.

Om by die tema van geletterdheid in die digitale era aan te sluit, het die organisasie ’n alfabetboekie en die Lees-app (vir gebruik op enige slimfoon of tablet) ontwikkel, wat op ’n opwindende manier bydra tot die organisasie se geletterdheidsprojek.

Die Lees-app is ’n kreatiewe poging om geletterdheid te help bevorder. Deur die gebruik van hierdie apps moedig Helpende Hand nie net ’n positiewe leeservaring by kinders aan nie, maar help hulle ook om kinders blootstelling te gee aan die sogenaamde “nuwe” geletterdheid waarin tegnologie ’n kritieke rol speel.

Laai die app gratis af vanaf die App Store en Google Play Store.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.