Internasionale Moedertaaldag: Sê jou sê in jou moedertaal

(Foto: Verskaf)

Op 21 Februarie 2021 word Internasionale Moedertaaldag gevier en die span by Virseker en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het ʼn bietjie gaan delf om vas te stel wat die dinge is wat ʼn mens net béter kan sê, wat bekendes die graagste sê en wat jy nóg nie kan sê nie, in een van Suid-Afrika se gunstelingtale: Afrikaans.

Afrikaans is een van die jongste amptelike tale ter wêreld en word vanjaar, op 8 Mei, 96 jaar oud. Dit is die derde mees gesproke taal in Suid-Afrika, naas IsiZulu en IsiXhosa.

“Die eerste Afrikaanse woordelys, met die titel Proeve van Kaapsch taaleigen, is reeds in 1844 deur ʼn Nederlander, ANE Changuion, opgestel en van daar het die taal gegroei en floreer tot die een waarin ons vandag wêreldwyd leer, skryf, sing, toneelspeel, denke verskuif en grense versit,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Daar is eers na Afrikaans verwys as ‘Kombuishollands’, hoofsaaklik deur diegene wat gemeen het dat dit ʼn ‘swakker vorm’ van ware Nederlands was. Dit is egter iets waaraan Afrikaanssprekendes hulle duidelik min gesteur het, want, amper ʼn eeu later, skitter Afrikaans in sy woord- en kleurrykheid, met miljoene wat dit op eie bodem en oorsee met trots hul hartstaal noem.”

VivA meen daar is ʼn hele paar dinge wat ʼn mens net beter in Afrikaans kan sê as in ʼn ander taal:

Hoe vertaal ʼn mens nou braaivleis of dop-en-dam of boeretroos? Is enige ander woorde meer beskrywend as ʼn pensklavier, bietjiedag of tjokker? Of hoef ʼn mens vir iemand te verduidelik hoe ʼn varkoor of ʼn rooidag lyk? In watter ander taal kan ʼn mens ʼn oënskynlike teenstrydigheid soos ja-nee aanwend om saam te stem, te verskil of te berispe?

Kan jy in enige ander taal as Afrikaans so lekker jaag as jy voet in die hoek sit, of iemand so lekker slegsê as jy hom beskuldig dat hy ronde hande het? In Afrikaans kan jy witvoetjie soek as jy iemand se guns wil wen, met die leeu se stert speel as jy moeilikheid soek en só ʼn laspos onder sy blaker skop dat sy kers wip as jy hom uiteindelik afgeskud kry. Jy kan iemand in die oë sit as jy dié in die verleentheid stel, ʼn sukkelaar van die wal in die sloot help, ʼn goedgelowige siel om die bos lei en ʼn fyngevoelige gees se lang tone raaktrap. Dis mos ʼn taal wat gemaklik in sy sprekers se monde sit.

Maar Afrikaans het nie net ʼn ryk skat van opgetekende woorde en uitdrukkings nie, dis ʼn taal wat daagliks groei en gedy:

Ons het onlangs blakerteks (Engels: blurb), buisserp (Engels: buff) en damprook of damp (Engels: vape) bygekry. Uit ons bekende woordeskat het vatvyf vir die Engelse high five weer nuwe lewe gekry. Maar ons het nie net vertaal nie, ons het ook nuwe woorde gemaak: Iemand wat laf is, is begailik, ʼn duiwelstert is ʼn mes, ʼn grilgriet is ʼn vrou wat vir alles gril, en ʼn trolvegter is iemand wat internettrolle op hulle plek sit. Ons lekker ou voertsek het ook nuwe lewe gekry in die nuwe tsek, wat net so graag deur al ons landgenote gebruik word. En van die jongmense kry ons awê en bra, alles tekens dat Afrikaans onder die volgende geslag lééf.

(Foto: Verskaf)

ʼn Paar bekendes sê ook dat Afrikaans behoorlik raakvat waar ander tale rondtas:

By die Toks en Tjops-span voel Toks van der Linde dat “lekker” die lekkerste sê – kop in een mus met Virseker Beker se Hamilton Wessels. Breyton Paulse hou voet by stuk dat “plettervat” die beste van die tong af rol, terwyl Vaatjie meen dat “braai” koning kraai.

Springbok-rugbyster Frans Steyn sê “bakgat” is die beste, terwyl die meer poëtiese “asembenemend” sanger Refentse se stem kry. Nuusleser Daniëlla van Heerden is glo van kleins af as ʼn nuuskierige “agie” beskryf – ʼn woord met ʼn “g” wat maklik van Afrikaanssprekendes se tonge af rol, maar hulle Engelse eweknieë gereeld hoofbrekens besorg!

Maar natuurlik is ons nog nie klaar aan Afrikaans gewerk nie. Daar is so ʼn paar woorde wat nog gereeld ʼn kopkrappery veroorsaak, en vertalers soek steeds na gemaklike ekwivalente vir woorde en uitdrukkings soos in person meeting (waar die deelnemers fisiek teenwoordig is), swipe (wat ʼn mens oor ʼn raakskerm doen), like (wat ʼn mens op Facebook doen), word of mouth, off the grid, power couple, condiments (bv. op restaurante se tafels), toppings (op pizza), cover (iemand wat ʼn opname van ʼn bekende kunstenaar se liedjie maak) en “real life”.

Virseker en VivA verwelkom enige varsgebekte nuutskeppings vir hierdie – en ander – woorde via sosiale media. Deel jou gunstelingwoord, -gesegde of jou slimste nuutskepping met die hutsteken #Moedertaaldag, noem @virseker en @viva_afrikaans en wie weet, dalk pryk jou woord eersdaags in die WAT!

“Op Moedertaaldag 2021 vier ons Afrikaans – nagenoeg ʼn eeu oud, maar eintlik steeds in sy tienerskoene. Oud genoeg om te weet hy weet baie, wys genoeg om te weet daar’s nog ʼn eindelose skat van dinge om te leer, gewild genoeg om te weet hy behoort, dapper genoeg om te weet dat hy berge kan versit, en passievol genoeg om daad by die woord te voeg en dit met oorgawe te doen!” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.