Internasionale prys vir ‘Modder en bloed’

Sean Else, die regisseur (Foto: Facebook)

Sean Else, die regisseur (Foto: Facebook)

Die epiese Afrikaanse periodefliek oor die Anglo-Boereoorlog, Modder en bloed, het ʼn internasionale toekenning losgeslaan.

Dié fliek het op 26 Februarie die gehoorkeuseprys vir beste rolprent op die Sedona- internasionale rolprentfees in Arizona gewen.

Dié rolprentfees is van 18 tot 26 Februarie gehou om erkenning te gee aan onafhanklike flieks van regoor die wêreld.

Dit is die vierde keer wat Modder en bloed op ʼn internasionale rolprentfees benoem is, maar die eerste keer dat die prent ʼn prys gewen het.

Llewellyn Greeff, vervaardiger van die prent, het voorheen aan Maroela Media vertel die fliek is spesiaal gemaak met die oog op oorsese bemarking.

Modder en bloed vertel die verhaal van Willem Morkel (Stian Bam) nadat sy vrou en kind in die Anglo-Boereoorlog in 1901 vermoor is.

Ná dié tragedie word Morkel verban na St. Helena waar hy saam met ander krygsgevangenes aangehou word. Tydens die gevangenskap is daar geen genade nie en leef hulle in haglike omstandighede. Hoewel elke dag ’n stryd om oorlewing is, moedig dit kameraadskap onder die gevangenes aan en raak hulle so heg soos ’n familie.

Akteurs soos Deon Lotz, Edwin van der Walt, Albert Maritz, Altus Theart, Jacques Bessenger, Bok van Blerk, Michael Richard en David Louw maak hul verskyning in die prent. Britse akteurs soos Charlotte Salt, Patrick Connolly, Nick Cornwall en Josh Myers is ook in die fliek te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Zebra ·

Dis wonderlik, veels geluk! Waar kan ek die fliek koop? Ek is in Kanada.
Daar is baie SA historiese gebeurtenisse waarvan die wereld n verwronge begrip het.

Marieka Visagé ·

Baie geluk. Dis ‘n puik fliek en verdien die toekenning!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.