Internasionale Vereniging vir Afrikaans in die lewe geroep

IVA-gestig

Dr. Hendrik Theys, lektor van die KSUT en ondervoorsitter van die Taalraad saam met Giselle Botha, studenteverteenwoordiger van die US departement Afrikaans en Nederlands. Foto: Verskaf.

Die Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA) wat onder meer ten doel het om Afrikaanse dosente reg oor die land en wêreldwyd met mekaar te verbind, is hierdie week gestig.

Die besluit om dié vereniging te stig is geneem nadat verteenwoordigers van Afrikaanse departemente die afgelope naweek ná ʼn historiese byeenkoms in Stellenbosch bymekaar gekom het. Die byeenkoms is deur die Afrikaanse Taalraad gereël en is aanvanklik geïnisieer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Volgens prof. Wannie Carstens, oudvoorsitter van die SA Akademie en direkteur van die skool vir tale aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroom-kampus, sal IVA-dosente en -studente in Suid-Afrika en regoor die wêreld help om gemeenskaplike probleme te takel en op dié manier sinergie ontwikkel.

Die IVA fokus daarop om Afrikaans as ʼn nasionale en internasionale kennisbate uit te brei. Van die IVA se planne is om ʼn e-portaal op die been te bring wat toegang tot mense- en fisieke hulpbronne in Afrikaans sal verbeter. Dit sal ook help met ʼn oudit van die aanbod en behoeftes by plaaslike Afrikaans-departemente. Die dosente en studente van die IVA sal ook deelneem aan taalbewusmaking in gemeenskappe, gemeenskapsgerigte navorsing bevorder, en uitreik na skole ter verbetering van Afrikaans-onderrig.

“Ons is werklik opgewonde hieroor,” sê prof. Rufus Gouws, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. “Ons het gedurende ʼn eerste vergadering hierdie jaar in Pretoria besluit om saam te werk om Afrikaans as akademiese taal en as vak te bestendig. Samewerking onder die vaandel van die IVA sal die isolasie van dosente aan verskillende universiteite ophef, en ons sal saam aan probleemoplossing, kursusontwikkeling en toeganklikheid kan werk. Dit is baie beter as om op ʼn mens se eie ashoop te sit.”

Giselle Botha, ʼn studenteverteenwoordiger van die Universiteit Stellenbosch, dink dat samewerking onder die vaandel van die IVA dit vir studente makliker sal maak om by die regte dosente uit te kom. “Dosente sal hulle spesialisgebiede op die IVA se webwerf aanbring. Ons hoop dat standaardmateriaal oor verskillende basiese kursusse op die webwerf beskikbaar sal kan wees – een plek waar studente toegang tot die regte materiaal kan kry.”

Die linguïs en voorsitter van die Taalraad, prof. Anne-Marié Beukes van die Universiteit van Johannesburg, verwelkom die besluit van die vergadering dat ook Afrikaanse taalkundiges uitgenooi sal word om lid te word van die IVA. “Linguïste het veral nou ʼn waardevolle bydrae om te maak en dit is van kardinale belang dat die verskillende dissiplines saamwerk vir Afrikaans. Die besluit dat daar nouer met ander Afrikatale saamgewerk moet word, is ook van groot belang.”

“Ons is tevrede oor die energie wat nou ontstaan het en veral verheug oor die aktiewe deelname van studente aan hierdie byeenkomste,” sê Ria Olivier, projekbestuurder van die Afrikaanse Taalraad en sameroeper van die byeenkoms. “Die Taalraad sal in die toekoms veel nouer met dosente en studente werk om skakeling met Afrikaanse en ander gemeenskappe te bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Met Afrikaans wil nou wereldwyd gesmous word? Deur wie? Vir wat? Ons is nie armlastig nie. Dankie. Die taal kan, soos Rooibostee, nie deur ‘n paar oppertuniste aangewend en misbruik word nie. Dis nie ‘n handelsmerk vir mense wat laataand in die Kaap ‘n blink idee gekry het nie en dan skielik hulself die ontwerpers noem nie. Ek is nie opgewonde nie. Dis verregaande. Jammer!

Klaekous ·

Ek stem nie saam met jou nie John. Ek dink Hierdie is n uitstekende idee.

JC ·

Afrikaans is bevonk. Geluk julle ouens met die onderneming.
Die liefde vir ons pragtige taal Afrikaans skyn al hoe meer by die dag duidelik deur met sulke insiatiewe. Probeer iets onderdruk, EN DIT FLOREER!!
Alle sukses daarmee, en ek sal meer as bereid wees om te help waar ek kan.
Nog ‘n goeie inisiatief is BETER AFRIKAANS. DIT IS TE OULIK!!!!
Ek kry elke oggend my vraestelletjie, en mense, gee dit my nie die grootste plesier nie!!
Ai tog, lief vir jou Afrikaans!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.