Inwoners van Silwersig ontvang soet verrassing

HH-Silwersig-koek

Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino’s-tak het vroeër die week koek by Silwersig-ouetehuis uitgedeel. Foto: Verskaf.

Die inwoners en personeel van Huis Silwersig in Silverton, Pretoria, is vroeër vandeesweek bederf met ʼn stukkie koek.

Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino’s-tak het die 120 senior burgers en 70 personeellede van Huis Silwersig tydens teetyd met die verrassing bederf. Volgens Alisha de Lange, streeksorganiseerder by Helpende Hand, het die tak die koek gevat om die inwoners daaraan te herinner dat hulle spesiaal is.

“Hulle was so verbaas oor die verrassing dat die meeste inwoners gevra het wie dit is wat verjaar. Ons het vir hulle gesê dis sommer net omdat elkeen van hulle spesiaal is en ons hulle wil bederf. Dan het die mooiste glimlag (soms sonder tande) op hul gesigte verskyn,” sê De Lange.

Ongelukkig kry baie inwoners nie meer besoek nie en is eensaam. Hulle word selde met iets soos varsgebakte koek bederf. Die taklede het vir elkeen die snytjie koek in sy of haar kamer gaan uitdeel en ’n paar woorde met hulle gesels. Sommige het selfs gevra dat daar vir hulle gebid word.

Tydens hierdie geleentheid is ʼn gesprek ook met die maatskaplike werker wat daar betrokke is, gevoer om hul behoeftes te bepaal. “Ons het uitgevind die inwoners benodig toiletware, asook kleurkryte en afvalmateriaal wat hulle vir handwerkprojekte kan gebruik. Indien enigiemand hiervoor ’n skenking wil maak, kan hulle gerus die Cappuccino’s-tak nader,” sê De Lange.

Vir meer inligting oor die goeie werk wat die tak doen, of om betrokke te raak by die Cappuccino’s-tak, bel Alisha de Lange by 082 923 1438

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erika ·

ek soek al so lank na ‘n plekkie waar ek kan gaan kuier. Ek sal graag by die oumensies wil gaan kuier. Hoe gemaak as ek dit wil doen??

Izzy ·

Wat ‘n pragtige gebaar van Solidariteit. Dink ons almal hoop en vertrou dat ons eendag onthou sal word as ons ouer word en nie net ‘ erens’ (soos in ‘n ouetehuis ens) afgelaai sal word ni e. Elke mens, jong of oud, wil nog voel dat hulle vir iemand of iets nog belangrik is. Mag ons elkeen ‘n hand uitsteek na ons ouer generasie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.