Is daar ʼn toekoms in landbou?

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Die toekoms van die landbousektor word gereeld gedebatteer op boeredae, algemene raadsvergaderings, in die media en ook die politieke arena. Dit is natuurlik nie net boere wat dié belangrike vraag vra nie, maar ook beleggers, landbou-ondernemings en selfs die man op straat – laasgenoemde dalk juis omdat hy bekommerd is oor waar die kos op sy bord vandaan gaan kom in die toekoms.

Volgens Dawie Maree, FNB se hoof van Landbou-bemarking en Inligting, is daar geen twyfel oor die belangrikheid van dié ekonomiese sektor nie. “Die feit bly staan dat landbou nie die grootse sektor in die land is nie. Om die waarheid te sê, met ʼn aandeel van slegs 2,4% in die bruto-binnelandse produk (BBP), is landbou die kleinste sektor. Dié statistiek vertel egter nie die volle verhaal nie. Akkurate inligting ontbreek effens, maar sou primêre landbou saam met industrieë waartoe dit insette lewer, of insette vanaf aankoop gegroepeer word, is die breër landbousektor se aandeel na raming eerder tussen 15% en 20%,” sê Maree.

“Primêre landbou se minimale aandeel in die ekonomie is egter nie ongewoon vir die huidige ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse ekonomie nie. In ander lande wat nou grootskaalse ekonomiese groei en ontwikkeling toon, soos die meeste Afrika-lande, is die landbousektor ʼn groot rolspeler, in teenstelling natuurlik met ontwikkelde ekonomieë.”

Dit beantwoord egter steeds nie die vraag nie en om by te voeg: waarom spekuleer ons so graag oor die toekoms van landbou? Uit die aard van die saak is daar ʼn legio redes wat strek van direkte belang in die sektor tot net ʼn emosionele verbinding met die grond as gevolg van kultuur. Hoe dit ook al sy, landbou is vir alle Suid-Afrikaners belangrik.

Maree noem dat die hoë gemiddelde ouderdom van plaaslike boere (betroubare statistieke ontbreek weereens, maar dit blyk bo die ouderdom van 60 jaar te wees) ʼn gereelde besprekingspunt is onder belanghebbendes. Hy voeg by dat dit egter wil voorkom asof dit ʼn wêreldwye tendens is en dat alle boere aan die ouerige kant is. Skynbaar is landbou nie aantreklik of aanloklik genoeg om jongmense te lok nie.

“Ek dink hierdie stelling is ongegrond. Wanneer ʼn mens by ʼn landbougeleentheid soos Nampo of Rysmierbult Boerevereniging se Groendag rondloop, is dit verblydend om soveel van die jonger geslag landbouers teenwoordig te sien. Die gemiddelde ouderdom van boere by hierdie twee byeenkomste was baie nader aan tussen 45 en 50 as die ouer-as-60 waarop statistieke dui en dit is geensins die beeld van ʼn verouderde boer nie. Dit is ook nie net jonger boere wat betrokke is nie, maar ook jonger maatskappyverteenwoordigers,” sê Maree.

“Tegnologie speel ʼn enorme rol in vandag se moderne tye. Uit die aard van die saak het dit dan ook ʼn baie groot impak op die landbousektor. Dit is juis hier waar die jonger geslag aan die voorpunt staan van innovasie. Hul aanvaarding van tegnologie en hul bereidwilligheid om dit te implementeer en te bemark, maak dit ʼn beduidende spelbreker. Die banksektor verwelkom die invloei van jong talent in die landbougemeenskap. Die toekoms van landbou is baie positief en ons is trots om deel te wees van hierdie krities belangrike sektor,” het Maree afgesluit.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Goeie nuus, Meningsvormers, Tegnologie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.