Is daar suksesverhale van leerders met spesiale behoeftes in SA skole?

(Foto: ‘n Skermgreep uit ‘n video van die Eduplex-opleidinginstituut.)

Deur dr. Marinda Uys

Op 20 Januarie het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, die matriekslaagsyfer as 76,4% aangekondig. Dit is ’n verbetering van 0,2% in vergelyking met die matriekslaagsyfer van 2020 (76,2%). Dit klink eintlik baie goed, maar is soms ’n bietjie moeilik om te glo as daar in ag geneem word onder hoeveel druk die reeds sukkelende onderwysstelsel in 2021 moes funksioneer.

Covid-19 word beskuldig as die oorsaak daarvan dat verskeie staatskole in 2021 steeds nie op volle kapasiteit kon funksioneer nie en leerders nie elke dag skool toe kon gaan nie. Die meeste leerders is nie toegerus om aanlyn skoolopleiding by die huis te ontvang nie en daar is verdere druk op skole weens tekorte aan basiese geriewe, onderwysers, swak ondersteuning van die staat, en so meer.

Met hierdie uitdagings in ag geneem, klink die slaagsyfer van 51,4% soos deurgegee in ’n verslag van die DA meer na die werklike stand van sake. Hierdie verslag neem die uitvalkoers van leerders in ag en dui aan dat ongeveer 33% van leerders (341 403) wat in 2021 moes matrikuleer tussen hulle gr. 10- en gr. 12-skooljare die skool verlaat het.

Nieteenstaande was daar baie matrikulante wat hard gewerk het en met die ondersteuning van ouers en toegewyde onderwysers uitstekend presteer het. Ons lees algemeen in die media van die toppresteerders en dit is altyd interessant om te weet van watter skole hulle is, hoeveel onderskeidings en in watter vakke hulle gekry het, maar ook wat hulle beplan om in die toekoms te gaan doen.

Ons lees egter selde van die matriekuitslae van leerders met spesiale behoeftes. Hoewel baie leerders met spesiale behoeftes in skole is wat hierdie behoeftes aanraak en hulle nie die nasionale matriekeksamen of matriekeksamen van die Onafhanklike Eksamenraad aflê nie, is daar tog baie leerders met spesiale behoeftes wat wel inklusiewe onderrig in hoofstroomskole ontvang en dieselfde matriekeksamen skryf as leerders met geen spesiale behoeftes nie.

Inklusiewe onderrig beskryf die praktyk waar leerders met spesiale behoeftes in ’n gewone klaskamer ingesluit word en hulle presies dieselfde geleenthede as enige ander leerder in daardie klaskamer sal ontvang. Wanneer die uitdagings en verval van die bestaande skoolstelsel in ag geneem word en ons sien hoe moeilik dit vir leerders sonder enige spesiale behoeftes is om skool suksesvol te voltooi, is die aanname amper onmiddellik dat dit vir leerders met spesiale behoeftes bykans onmoontlik is. Dit is egter elke leerder met spesiale behoeftes se reg aangesien die Suid-Afrikaanse regering in 2001 die Witskrif 6, wat fokus op spesiale opleidingsbehoeftes en hoe om ’n inklusiewe opleidingstelsel daar te stel, gepubliseer het Hierdie Witskrif het aangedui dat Suid-Afrikaanse skole teen 2021 getransformeer sal wees in een geïntegreerde stelsel wat gelykheid en gehalte sal bevorder en nie meer uit sogenaamde spesiale en hoofstroomskole sal bestaan nie.

Dit het weliswaar nie gebeur nie en hier aan die begin van 2022 is die meeste Suid-Afrikaanse skole steeds nie gerat vir inklusiewe onderrig nie. Dit is egter steeds belangrik om inklusiewe onderrig na te streef aangesien dit vir leerders met spesiale behoeftes ’n gelyke kans gee om kennis en vaardighede aan te leer sodat hulle ná skool sosiaal en ekonomies onafhanklik kan funksioneer.

Daar is wel skole wat inklusiewe onderrig bemeester het en ongelooflike toekomsgeleenthede aan persone met spesiale behoeftes bied. Een so ’n voorbeeld is die Eduplex-hoofstroomskool in Pretoria wat internasionaal erken word as ’n model vir inklusiewe onderwys. Hierdie skool volg ’n unieke benadering tot inklusiwiteit vir leerders met gehoorverlies. In elke klaskamer het gemiddeld vier leerders met gehoorverlies die geleentheid om saam met hulle normaalhorende klasmaats te leer sonder die gebruik van gebaretaal. Hierdie leerders kry die geleentheid om gesproke taal aan te leer deur die optimale gebruik van versterkingstoestelle soos gehoorapparate en/of kogleêre inplantings, ouerleiding en individuele ondersteuning.

Dit blyk ook dat die sukses van inklusiewe hoofstroomskole soos Eduplex in die feit lê dat daar slegs op die insluiting van een of twee spesiale behoeftes gefokus word. Dit verminder die druk op onderwysers om kundiges in alle spesiale behoeftes te wees en leerders het die optimale voordeel van die ondersteuning van onderwysers wat opgelei is om aan hulle spesifieke behoeftes te voldoen.

Dr. Marinda Uys pas gehoorapparate vir ʼn senior persoon van Pretoria. (Foto: Verskaf)

In 2021 het twee leerders met gehoorverlies by Eduplex gematrikuleer en die matriekeksamen van die onafhanklike eksamenraad geskryf. Hierdie leerders het al twee ’n ernstige tot algehele gehoorverlies in albei ore wat beteken dat hulle sonder hulle gehoorapparate en/of kogleêre inplantings bykans niks kan hoor nie. Albei leerders het matriek geslaag met vrystellings vir verdere diplomastudies en het planne om verder te gaan studeer by gewone tersiêre opleidingsinstansies tussen ander normaalhorende studente. Eduplex het voorheen nog altyd ‘n 100%-matriekslaagsyfer gehad met verskeie matrieks met spesiale behoeftes wat onderskeidings, diploma en universiteitsvrystelling gekry het.

Met sulke resultate is die toekomsgeleenthede baie meer soos die leerder met ’n gehoorverlies wat tans medies studeer by ’n plaaslike universiteit en ’n ander wat ná suksesvolle voltooiing van ’n sjefkwalifikasie tans by ’n bekende hotelgroep werksaam is.

Daar is suksesverhale van leerders met spesiale behoeftes, maar hierdie sukses kom nie noodwendig maklik nie en gaan met vele uitdagings gepaard. Harde werk, deursettingsvermoë, optimale gebruik van tegnologie, bykomende akademiese ondersteuning, onvoorwaardelike liefde en ondersteuning van ouers en toegewyde onderwysers maak dit wel moontlik.

Leerders met spesiale behoeftes en hulle ouers moenie moed verloor nie, maar gaan aanklop vir raad en hulp by instansies soos die Eduplex-opleidingsinstituut wat praktiese en raadgewende dienste lewer en werksessies vir onderwysers en ander hoofstroomskole oor inklusiwiteit aanbied. Daar is ook ander organisasies soos ParentReality wat spesifiek daarop fokus om ouers van kinders met spesiale behoeftes te ondersteun en inligting van diensverskaffers te deel, asook Solidariteit Helpende Hand om maar enkeles te noem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Penelopi

Ek werk by ‘n LSEN skool – ‘n skool vir kinders met leerprobleme. Ons gr. 12’s skryf dieselfde matriek as die hoofstroomskole. Agv ons leerders se leerprobleme was dit vir hulle baie moeilik om op hul eie te leer. Ons was verheug toe al ons leerders in Augustus kon terugkeer skool toe. Ons gr. 12 leerders het baie hard gewerk en regtig goed gedoen. Ons leerders gaan nog ‘n rukkie sukkel om die akademiese sowel as emosioenele nagevolge van isolasie en rotasie te oorkom. Daarmee saam het ons talle leerders met gedragsprobleme gehad – skielik is daar nou struktuur, roetine… Lees meer »