Is jy gereed om jou stories vlerke te gee?

Skryfnet is op 25 Februarie tydens ‘n aanlyn geleentheid bekendgestel. Hier klink die paneel ‘n glasie op dié nuwe Afrikaanse skryfskool. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Skryfnet, ʼn splinternuwe Afrikaanse skryfskool en ʼn gesamentlike projek van Maroela Media en Akademia, is op 25 Februarie tydens ʼn aanlyn geleentheid bekendgestel.

“Dit is ʼn jare lange droom wat vandag hier verwesenlik word,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê. “So ʼn inisiatief kom nie sommer oornag tot stand nie. En beslis ook nie sonder die hulp van verskeie mense wat as ʼn span saamwerk nie.”

ʼn Paneel het tydens die geleentheid gesels oor die onderwerp: Hoe gaan dit met die Afrikaanse boek?

Henk Viljoen (Links) van NB Uitgewers gesels oor die belangrikheid van lees op skoolvlak. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Elsje van Jaarsveld, bekende radiopersoonlikheid en televisieaanbieder, was die gespreksleier en die paneel het bestaan uit Lombaard, prof. Hans du Plessis, bekroonde skrywer en emeritus-professor van die Noordwes-Universiteit, joernalis en skrywer Ilse Salzwedel, en Henk Viljoen van NB-Uitgewers.

“ʼn Skrywer word met talent gebore. Die skryfskool deel nie skryftalente uit nie,” het Du Plessis gesê. “Die skryfskool leer skrywers vaardighede wat hulle nodig het om stories te redigeer.”

Du Plessis doen ʼn beroep op skrywers om voortdurend te lees, die mark te leer ken en te vertrou dat uitgewers dikwels met goeie rede ʼn manuskrip afkeur.

Salzwedel meen ook dat die herskryffase ʼn sleuteldeel van die publikasieproses is.

“Skrywers wat geslaag het, was bereid om die manuskrip te herskryf,” sê sy. “Mense moet ook mooi gaan dink oor waarom hulle ʼn boek wil uitgee. Skryf gaan nie altyd net oor die publikasie nie. Dit is dikwels en veral vir sommige mense ook ʼn terapeutiese proses.”

Viljoen het deurgaans na die belangrikheid van lees op skoolvlak verwys. Hy benadruk dat ʼn liefde vir lees reeds van vroeg af by jong lesers gekweek behoort te word en dat ouers deels hiervoor verantwoordelik is.

ʼn Gebaretaaltolk was by die bekendstellingsgeleentheid en die eerste inleidende kursus sal ook in gebaretaal beskikbaar wees om die videosessies toeganklik te maak. Dit is ʼn proeflopie om vas te stel of Skryfnet daardeur die gehoorgestremde gemeenskap ook by die kursus kan betrek.

Skrywers, professionele persone of skoolleerders kan nou vir die eerste kursus, “Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns”, inskryf wat op 1 April begin. Klik hier en registreer dan aanlyn op Skryfnet se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anonymouse ·

Ek het die Facebook Live bygewoon en hulle het my so ontmoedig dat ek besluit het daar is dalk beter maniere om my geld en tyd te spandeer.

Aikie ·

A, maar hulle het nie liegstories vertel om jou in te lok, voordat jy agtergekom het dat dit nogal moeilik is en dan het jy reeds jou geld betaal nie.
‘n Skrywer het die spreekwoordelike hare op hulle tande nodig.

Anonymouse ·

Dis miskien waar, maar ek weet nie wat die lewensvatbaarheid van so ‘n kurses is met net ‘n paar mense nie.
Ook, na die Live sessie weet ek eintlik nogsteeds nie presies wat hulle aanbied nie. Dit het geklink of hulle ‘n paar lepels pessimisme aanbied, en dis al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.