Is jy SA se eerste Afrikaanse bordspeletjiefoendie?

Argieffoto (Foto: Bruno /Germany/Pixabay)

Op Saterdag 12 Maart bied die FAK en Spoetnik jou die kans om die kampioen van kampioene in die speletjieswêreld te wees en weg te stap met hope pryse, waaronder splinternuwe bordspeletjies.

Spoetnik is in 2015 gestig en bevorder die afgelope ses jaar Afrikaans en Afrikanergeskiedenis op ʼn speel-speel-manier. Hulle het al meer as 13 bordspeletjies bekendgestel en Boereplaas, TydToer, Tel jou woorde en Die volgende stop is enkele van die suksesverhale.

Maroela Media het in 2021 berig dat die FAK vir Spoetnik en ander baanbrekers met ʼn FAK Prestige-toekenning vereer het vir die bevordering van Afrikaans en Afrikanergeskiedenis. Spoetnik het tydens dié geleentheid ook ʼn oorsig van hul bestaande bordspeletjies gegee.

Die olimpiade bestaan uit twee ouderdomsgroepe: ʼn kategorie vir laerskoolleerders (graad 5 tot 7) en een vir hoërskoolleerders (graad 8 tot 12).

Elke ouderdomsgroep gaan vier speletjies speel waaruit die topses van elke ouderdomsgroep gekies sal word om verder teen mekaar mee te ding. Die vier speletjies wat gespeel gaan word, is Boereplaas, TydToer, Patriot Troefkaarte en Tel jou woorde.

Toeskouers is welkom om die geleentheid op 12 Maart by die Voortrekkermonument in Pretoria by te woon en verversings sal te koop wees by Skool op Wiele of Oom Paul se Deli. Geen ontwrigting of inmenging van toeskouers sal aanvaar word nie. Spoetnik se speletjies sal ook te koop wees.

Inskrywings vir die olimpiade sluit Vrydag 4 Maart en leerders kan inskryf deur op hierdie skakel te klik. Vir enige navrae stuur ʼn e-pos na Lieandri by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Dis jammer dit word nie in meer groot dorpe of stede gedoen nie. Baie oulike idee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.